38 DIE DRIE HEBREËRS
Hulle het “die krag van vuur weerstaan”
HANANJA, Misael en Asarja, wat die Babiloniërs nou Sadrag, Mesag en Abednego genoem het, het ’n onverwagte toets ondervind. Hulle het dalk gewens dat Daniël saam met hulle was. Hy was ’n goeie vriend en het baie sterk geloof gehad. Maar hy was blykbaar nie saam met hulle toe hulle in gevaar was nie.
Dit het alles begin toe Nebukadnesar ’n groot beeld laat oprig het. Dit was so hoog soos ’n gebou met nege verdiepings en dit was amper 3 meter dik. Die koning het ’n groot seremonie gereël om die beeld in te wy en het vereis dat almal met belangrike posisies in sy koninkryk daar moet wees. Die drie Hebreërs moes die koninklike bevel gehoorsaam en die seremonie bywoon.
’n Stilte het oor die groep mense gekom terwyl die aankondiger die koning se bevel uitgeroep het. Eers was daar musiek gespeel, moontlik om die mense te motiveer om te doen wat die koning volgende beveel het. Toe moes almal “neerval en die goue beeld aanbid”. Wat sou die drie jong manne doen? Hulle het goed geweet hoe Jehovah oor afgodediens voel. – Eks. 20:4, 5.
Terwyl ’n groot groep mense gekyk het, was hulle beveel om ’n afgod te aanbid, anders sou hulle doodgemaak word
Die musiek het begin speel. Die hele groep het op die grond neergeval om die beeld te aanbid. Maar die drie manne het bly staan. Al die mense se oë was sekerlik op hulle. ’n Groep Galdeërs het die geleentheid gebruik om hierdie jong Jode te beskuldig. Hulle het vir Nebukadnesar gesê: “Hierdie manne het hulle nie aan u gesteur nie, o koning. Hulle dien nie u gode nie, en hulle weier om die goue beeld wat u opgerig het, te aanbid.” Die koning was woedend en het die drie Jode laat roep en hulle gevra of die beskuldigings waar was. Voordat hulle hom kon antwoord, het hy hulle gedreig. Hy het gesê dat hy hulle nog een geleentheid sou gee om gehoorsaam te wees, en as hulle nie was nie, sou hulle “onmiddellik in die brandende vuuroond gegooi word”. Hy het vir hulle gesê dat geen god hulle kon red nie.
Nie Hananja, Misael of Asarja het gehuiwer nie. Hulle het vir die koning gesê dat hulle God hulle van so ’n verskriklike dood kon red “as dit [sou] gebeur”. Hulle het verder gesê: “Maar selfs as hy dit nie doen nie, moet u weet, o koning, dat ons nie u gode sal dien of die goue beeld sal aanbid wat u opgerig het nie.” Nebukadnesar was so kwaad dat hy gesê het dat die oond sewe keer warmer as gewoonlik gemaak moes word en dat die manne vasgebind en in die vlamme gegooi moes word. Die oond was so warm dat dit die manne wat die Hebreërs daarin gegooi het, doodgemaak het!
Maar toe sien Nebukadnesar iets wat hom baie bang maak. Daar, in die vlamme, het hy nie drie nie, maar vier manne gesien. Hulle het in die vuur rondgeloop, maar niks het met hulle gebeur nie! Die koning het gesê dat die vierde man “soos ’n seun van die gode” lyk. Nebukadnesar het so na as moontlik aan die oond gekom en die manne geroep om uit die vuur te kom.
Dink net hoe verbaas die mense was toe die drie manne uit die vuur uitkom. Die vuur het nie hulle of hulle klere gebrand nie, en hulle het nie eers na rook geruik nie. Hulle was ook nie meer vasgebind nie. Die magtige Nebukadnesar was stomgeslaan. Hy het die drie Hebreërs geprys omdat hulle gehoorsaam aan hulle God was. Hy het gesê: “Hulle het op hom vertrou en het geweier om die koning se bevel te gehoorsaam. Hulle was bereid om te sterf eerder as om enige ander god as hulle eie God te dien en te aanbid.”
Daardie trotse koning het beveel dat enige iemand in sy koninkryk wat iets slegs oor Jehovah sê, doodgemaak moes word. Hy het ook die drie jong manne hoër posisies gegee. Maar Jehovah het baie meer as dit gedoen – hy het hulle onthou. Byvoorbeeld, baie jare later het die apostel Paulus gepraat van dié wat “die krag van vuur weerstaan” het as gevolg van hulle sterk geloof. Hy het sekerlik die moedige Hananja, Misael en Asarja in gedagte gehad.
Lees die Bybelverslag:
Om te bespreek:
Hoe het Hananja, Misael en Asarja gewys dat hulle moedig is?
Soek dieper
1. Hoe ondersteun die dinge wat argeoloë in Babilon gevind het die verslag in Daniël hoofstuk 3? (w23.07 31) A
© The Trustees of the British Museum. Licensed under CC BY-NC-SA 4.0. Source. Modifications: Box added
Prent A: ’n Gebakte baksteen met Nebukadnesar se naam daarop
2. Wat het die Babiloniese name wat vir die drie Hebreërs gegee was, dalk beteken? (dp 36 ¶14)
3. Wat wys dat Nebukadnesar baie godsdienstig was? (dp 69 ¶3) B
Prent B: Nebukadnesar het die tempels van baie Babiloniese gode gebou en herstel
4. Hoekom sou manne van verskillende “volke, nasies en taalgroepe” – wat moontlik hulle eie gode aanbid het – bereid wees om Nebukadnesar se beeld te aanbid? (Dan. 3:7; dp 73 ¶10)
Dink aan die lesse
Die drie Hebreërs was getrou deur nie onrein kos te eet nie. Later was hulle getrou toe hulle lewe in gevaar was. Wat leer dit ons oor die belangrikheid daarvan om selfs in die kleiner dinge getrou te wees? (Luk. 16:10) C
Prent C
Wanneer ons vervolg word, hoe kan ons die volgende eienskappe van die drie Hebreërs navolg? (Dan. 3:16-18)
Nederigheid
Sagmoedigheid
Lojaliteit
Hoe kan jy hierdie drie manne se moed navolg?
Dink na oor die groter prentjie
Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah?
Hoe hou hierdie verslag verband met Jehovah se wil?
Wat sou ek Hananja, Misael en Asarja graag wou vra nadat Jehovah hulle opgewek het?
Leer meer
Hoe kan ’n Christen respekvol maar nog steeds neutraal wees gedurende ’n nasionalistiese seremonie?
Leef jou in die verhaal in en kyk watter lesse jy nog daaruit kan leer.
“Uit ’n vuuroond gered!” (“Bybelstudie-aktiwiteite” op jw.org)