HOOFSTUK VIER
Jehovah—Die God wat voorspel en vervul
1, 2. (a) Waarom voel party dalk dat niemand in beheer is nie? (b) Hoe beeld die 12 profete Jehovah se persoonlikheid uit?
BAIE mense voel dat hulle geen beheer oor hulle lewe het nie. En uit nuusberigte wat hulle lees, kom hulle tot die slotsom dat die hele mensdom op die afdraande pad is. Dit lyk of pogings om die wêreld se probleme op te los, ’n hopelose situasie net vererger. Dit is opmerkenswaardig dat party van die 12 profete wat ons bespreek, met soortgelyke kwellinge te kampe gehad het, en hulle het boodskappe van hoop voorsien waarby ons kan baat vind en wat ons kan gebruik om ander te vertroos.—Miga 3:1-3; Habakuk 1:1-4.
2 ’n Kerngedagte wat jy in hierdie profetiese boeke sal vind, is dat Jehovah, die Soewerein van die heelal, in volle beheer van menseaangeleenthede is en intens belangstel in ons welsyn. Trouens, elkeen van ons kan sê: “Hy stel belang in my welsyn.” Die 12 profete gee ’n aantreklike beskrywing van “Jehovah van die leërs”. God kan “die land aanraak, sodat dit smelt”, en tog verseker hy sy volk: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sagaria 2:8; Amos 4:13; 9:5). Verbly dit nie jou hart om sulke gedeeltes te lees wat toon hoe God se handelinge deur liefde gerig word en hoe hy barmhartigheid bewys en vergifnis skenk nie? (Hosea 6:1-3; Joël 2:12-14). Die geskrifte van hierdie profete dek weliswaar nie elke aspek van God se persoonlikheid nie; al 66 boeke van die Bybel is daarvoor nodig. Maar hierdie 12 voorsien ’n uitstekende blik op God se aantreklike persoonlikheid en sy handelinge.
3. Hoe maak die 12 profete dit duidelik dat Jehovah ’n God met ’n voorneme is?
3 Die geskrifte van die 12 profete kan ons vertroue versterk in Jehovah se betroubaarheid as die Voorspeller van die toekoms en die onfeilbare Vervuller van sy voorneme. Hulle bevestig dat hy uiteindelik ’n aardse paradys onder goddelike heerskappy tot stand sal bring (Miga 4:1-4). Party van hierdie profete beskryf hoe Jehovah die weg berei het vir die koms van die Messias en vir die losprys wat die mensdom van sonde en die dood sal bevry (Maleagi 3:1; 4:5). Waarom is dit noodsaaklik om dit alles te weet?
’N LIEFDEVOLLE SOEWEREIN IN VOLLE BEHEER
4, 5. (a) Watter grondwaarheid oor God beklemtoon die 12 profete? (b) Hoe word jy deur Jehovah se almag geraak?
4 Dink aan die uitdaging wat teen God geslinger is in verband met sy reg om te regeer, soos in die vorige hoofstuk bespreek is. Opstand teen Jehovah se gesag—en agterdog oor sy beweegredes—het party hemelse wesens aan God ongehoorsaam laat word en verwoesting op die aarde laat aanrig. Dit is dus duidelik dat respek vir en onderdanigheid aan Jehovah se soewereiniteit nodig is vir algehele orde in die heelal en vir vrede onder mense. Daarom is Jehovah tereg vasbeslote om sy soewereiniteit te regverdig. Kom ons kyk hoe die 12 profetiese boeke ons kan help om dit duideliker te sien.
5 As Jehovah se boodskappers het die profete sy verhewe posisie beklemtoon. Amos gebruik byvoorbeeld die beskrywing “Soewereine Heer” 21 keer ter verheerliking van die naam en soewereiniteit van die Almagtige. Dit toon dat die ware God oneindig groot is en dat niks vir hom onbereikbaar is nie. (Amos 9:2-5; sien die venster “Jehovah die Almagtige”.) Jehovah is die enigste regmatige Soewerein van die heelal, onvergelyklik hoër as lewelose afgode (Miga 1:7; Habakuk 2:18-20; Sefanja 2:11). Jehovah se posisie as die Maker van alles gee hom die inherente reg om soewereine mag oor alles uit te oefen (Amos 4:13; 5:8, 9; 9:6). Waarom is dit vir jou belangrik?
6. Hoe is elke mens betrokke by die vervulling van God se voorneme?
6 As jy al gely het weens diskriminasie, onreg of vooroordeel, kan jy vertroosting put uit die wete dat die liefdevolle Soewerein vir almal omgee. Jehovah het ’n spesiale verhouding met een nasie van die ou tyd gehad, maar hy het sy vaste voorneme bekend gemaak om mense van alle nasies en tale te bevoordeel. Hy is “die ware Heer van die hele aarde” (Miga 4:13). God het belowe dat sy naam “groot [sal] wees onder die nasies” (Maleagi 1:11). Omdat ons hemelse Vader hom sonder enige partydigheid bekend maak, reageer mense “uit al die tale van die nasies” gretig op sy uitnodiging om sy aanbidders te word.—Sagaria 8:23.
7. Waarom is die betekenis van Jehovah se naam belangrik?
7 Kennis van watter soort persoon God is en wat hy sal doen, hou ten nouste verband met sy naam (Psalm 9:10). Toe Miga gelewe het, is Jehovah se naam gesmaad omdat baie wat Sy naam gedra het, uiters ongehoorsaam was. Die profeet is geïnspireer om “die verhewenheid van die naam van Jehovah” te beklemtoon en daarop te wys dat die een wat “praktiese wysheid het, [God se] naam [sal] vrees” (Miga 5:4; 6:9). Waarom? Enige betroubare hoop wat jy vir ’n blywende toekoms het, hou verband met die verreikende betekenis van daardie naam: “Hy laat word.” Lees gerus Joël 2:26 en dink aan hoe bly jy kan wees om daardie naam te dra en om ander te vertel van die een God wat kan word wat hy ook al moet word tot voordeel van al sy skepsele. God het die onbeperkte vermoë om dinge te laat gebeur. Jy kan bewys hiervan vind in die vervulling van die baie profesieë wat deur die 12 profete bekend gemaak is.
8. In watter opsigte was Jehovah se naam al vir jou ’n aanmoediging?
8 Miljoene het al daarby baat gevind om te leer dat Jehovah enigiets wat hy wil, kan laat gebeur of kan vervul. Joël het dit te kenne gegee in die bekende woorde wat deur Christenskrywers aangehaal is: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom” (Joël 2:32; Handelinge 2:21; Romeine 10:13). Is ons dit eens met Miga se verklaring, naamlik: “Wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig”? (Miga 4:5). Ja, in tye van vervolging of persoonlike benoudheid kan ons met vertroue “by die naam van Jehovah toevlug soek”.—Sefanja 3:9, 12; Nahum 1:7.
9. Hoe omvangryk is God se beheer oor menseheersers?
9 Terwyl jy hierdie profetiese boeke lees, kan jy jou oortuiging versterk dat Jehovah selfs oor menseheersers en invloedryke besluitnemers beheer het. Hy het die vermoë om hulle in ooreenstemming met sy wil te laat optree (Spreuke 21:1). Beskou die geval van Darius die Grote van Persië. Vyande van ware aanbidding het by hom hulp gesoek om die herbouing van Jehovah se tempel in Jerusalem stop te sit. Net mooi die teenoorgestelde het gebeur! Omstreeks 520 v.G.J. het Darius Kores se verordening herbevestig en die Jode se bouwerk ondersteun. Toe verdere struikelblokke ontstaan het, was God se boodskap aan die Joodse goewerneur Serubbabel: “‘Nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur my gees’, het Jehovah van die leërs gesê. Wie is jy, o groot berg? Voor Serubbabel sal jy ’n gelykte word” (Sagaria 4:6, 7). Geen struikelblok sal verhoed dat Jehovah hierdie goddelose stelsel van dinge vernietig en ’n paradys vir die genot van sy aanbidders tot stand bring nie.—Jesaja 65:21-23.
10. Hoe verreikend is God se beheer, en waarom is dit opmerkenswaardig?
10 Dink ook daaraan dat Jehovah die natuurkragte beheer, wat hy kan gebruik om sy vyande te vernietig as hy wil (Nahum 1:3-6). Sagaria het figuurlike taal gebruik om te beklemtoon hoe Jehovah sy volk kan beskerm: “Oor hulle sal Jehovah gesien word, en sy pyl sal beslis soos weerlig uitskiet. En die Soewereine Heer Jehovah sal op die horing blaas, en hy sal beslis met die windstorms van die suide trek” (Sagaria 9:14). Sal dit dan vir God moeilik wees om sy oppermag oor goddelose nasies in ons tyd te toon? Glad nie!—Amos 1:3-5; 2:1-3.
’N BETROUBARE VERVULLER VAN BELOFTES
11, 12. (a) Waarom is Nineve as onoorwinlik beskou? (b) Wat het met Nineve gebeur, in ooreenstemming met God se profetiese woord?
11 Stel jou voor dat jy gedurende die negende eeu v.G.J. gelewe het in wat nou as die Midde-Ooste bekend staan. Van watter groot stad sou jy waarskynlik gehoor het? Nineve, natuurlik. Dit was ’n vername Assiriese stad op die oostelike oewer van die Tigrisrivier, omtrent 900 kilometer noordoos van Jerusalem. Jy sou dalk berigte gehoor het oor die indrukwekkende grootte van die stad—dit was ongeveer 100 kilometer in omtrek! Mense wat Nineve besoek het, het gesê dat dit net so luisterryk soos Babilon was, met koninklike paleise, tempels, breë strate, openbare tuine en ’n indrukwekkende biblioteek. Wat meer is, krygskundiges het gepraat van die stad se massiewe, ondeurdringbare buite- en binnemure.
12 “Onoorwinlik!” Baie mense het seker so gesê wanneer hulle Nineve beskryf het. Party profete uit die klein nasie van Juda het egter volgehou dat Jehovah daardie “stad van bloedvergieting” tot vernietiging gedoem het. As gevolg van die mense se reaksie op Jona se boodskap is die stad ’n ruk lank God se oordeel gespaar. Maar die Nineviete het tot hulle ou goddelose weë teruggekeer. Nahum het voorspel: “Nineve . . . , ’n swaard sal jou uitroei . . . Daar is geen verligting vir jou katastrofe nie” (Nahum 3:1, 7, 15, 19; Jona 3:5-10). Omtrent daardie selfde tyd het God Sefanja gebruik om te voorspel dat Nineve ’n verlate woesteny sou word (Sefanja 2:13). Sou die onoorwinlike politieke moondheid van daardie tyd ter vervulling van Jehovah se woord omvergewerp word? Die antwoord het omstreeks 632 v.G.J. gekom toe Nineve deur die Babiloniërs, Skitiërs en Mede beleër is. Skielike oorstromings het die mure verswak, en die aanvallers het deur die stad se verdedigingstelsel gedring (Nahum 2:6-8). Die eens magtige stad het gou ’n puinhoop geword. Nineve is vandag nog woes en verlate.a “Die uitgelate stad” kon nie keer dat God se woord vervul word nie!—Sefanja 2:15.
13. Watter bewys van vervulde profesieë kan jy in die 12 profete vind?
13 Wat met Nineve gebeur het, is maar net een voorbeeld van ’n profesie wat vervul is. Kyk na ’n hedendaagse kaart van die Midde-Ooste. Kan jy Ammon, Assirië, Babilon, Edom of Moab vind? Nee! Ten spyte van die feit dat hulle vroeër vername nasies was, het die 12 profete hulle ondergang voorspel (Amos 2:1-3; Obadja 1, 8; Nahum 3:18; Sefanja 2:8-11; Sagaria 2:7-9). Hierdie nasies het een vir een as aparte entiteite verdwyn. Jehovah het gesê dat hulle sou verdwyn, en hulle het! En wat hierdie profete voorspel het oor ’n oorblyfsel Jode wat uit gevangenskap in Babilon sou terugkeer, is vervul—dit het gebeur!
14. Waarom kan jy jou lewe met vertroue op Jehovah se beloftes bou?
14 Watter uitwerking het sulke bewyse van Jehovah se profetiese vermoë op jou vertroue? Jy kan seker wees dat Jehovah sy beloftes sal hou; hy is die God “wat nie kan lieg nie” (Titus 1:2). Daarbenewens gee God ons, deur sy Woord, die inligting wat ons nodig het. Jy kan jou lewe bou op die uitvoering van Jehovah se wil en die sekerheid van sy profetiese woorde. Die profesieë in die 12 boeke is nie net voorbeelde van voorspellings wat in die verlede vervul is nie. Baie van die profesieë word nou vervul of sal binnekort bewaarheid word. Die verslag in hierdie 12 boeke kan dus jou vertroue versterk dat profesieë oor ons tyd en die toekoms vervul sal word. Neem dit ernstig op.
Dit het gelyk of Nineve onoorwinlik is, maar hoe is Jehovah se profesie vervul?
’N VADER WAT OMGEE
15. Hoe kan Miga se ondervindinge jou help as jy met persoonlike probleme worstel?
15 God se betroubaarheid kom nie net na vore in wat met nasies of op die wêreldtoneel as ’n geheel sal gebeur nie. Jehovah voorspel en vervul op maniere wat jou persoonlik kan raak. Hoe so? Wel, jy worstel dalk soms met persoonlike probleme. Jy besef dat jy nie net iemand moet vind wat verstaan nie—jy moet iemand vind op wie jy kan staatmaak om jou te help. In die agtste eeu v.G.J. het Miga ongetwyfeld baie eensaam gevoel toe hy met die trotse volk van Juda te doen gehad het. Dit het miskien gelyk of hy die laaste getroue persoon op die aarde is, of hy nie eens sy familie kon vertrou nie. Oral waar hy gegaan het, het hy bloeddorstige, bedrieglike en verdorwe mense teëgekom. Miga is nietemin gerusgestel deur God se beloftes dat Hy vir Sy getroues sal sorg ongeag wat ander doen. Ook jy kan vertroosting hieruit put, veral as jy vind dat jy as ’n aanbidder van Jehovah in die minderheid of alleen is, omring deur mense wat God nie vereer nie.—Miga 7:2-9.
16. Waarom kan jy seker wees dat God verdorwenheid en onderdrukking sien en die regverdiges sal verlos?
16 Soos dikwels vandag die geval is, het die rykes en die invloedrykes in Juda en Israel gierig en onregverdig geword. Onwettige slawerny was die gevolg van oorbelasting en grondroof. Die armes is onverskillig, selfs wreed, behandel (Amos 2:6; 5:11, 12; Miga 2:1, 2; 3:9-12; Habakuk 1:4). Deur sy boodskappers het God dit duidelik gemaak dat hy verdorwenheid en onderdrukking nie duld nie en dat hy hardnekkige oortreders sal straf (Habakuk 2:3, 6-16). Hy voorspel dat hy “sake [sal] regstel met betrekking tot magtige nasies” en dat sy goedgekeurde knegte “elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom [sal] sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie” (Miga 4:3, 4). Stel jou voor watter verligting dit sal bring! God het baie ander dinge voorspel en dit toe vervul. Kan jy dan nie seker wees dat ook hierdie belofte vervul sal word nie?
17, 18. (a) Waarom gee God mense hoop? (b) Hoe moet ons Jehovah se dissipline beskou?
17 Jehovah vervul nie sy beloftes net om te toon dat hy die vermoë het om te voorspel, asof hy mense wil beïndruk nie. Sy dade spruit voort uit beginselvaste liefde, want “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Dink aan die geval van Hosea, wat in die agtste eeu v.G.J. gelewe het. Net soos Hosea se vrou, Gomer, aan hom ontrou was, was die Israeliete aan Jehovah ontrou. Hulle afgodediens was soos egbreuk; hulle het Baälaanbidding met die rein aanbidding van Jehovah vermeng. Hulle het ook in figuurlike sin “hoerery gepleeg” met Assirië en Egipte. Hoe sou Jehovah reageer? Hosea moes agter sy ontroue vrou aan gaan om haar terug te bring. Jehovah het uit liefde agter sy volk aan gegaan. “Met die toue van die mens het ek hulle bly trek, met die koorde van liefde, . . . en met sagtheid het ek vir elkeen voedsel gebring” (Hosea 2:5; 11:4). As hulle opregte berou sou toon, kon hulle God se vergifnis ontvang, wat ’n herstelde verhouding met hom moontlik sou maak (Hosea 1:3, 4; 2:16, 23; 6:1-3; 14:4). Raak dit nie jou hart wanneer jy Jehovah se geneentheid sien nie? Vra jou af: ‘As Jehovah in die verlede sulke geneentheid getoon het, kan ek dan nie seker wees van sy liefde, sy tere, lojale, onveranderlike en onsterflike geneentheid nie?’—Hosea 11:8.
18 Die 12 profetiese boeke kan jou ook help om te sien dat God se liefde teregwysing kan insluit. Jehovah het sy eiesinnige volk verseker dat hy hulle “nie heeltemal [sou] verdelg nie” (Amos 9:8). Wanneer straf nodig was, het God dit nie weerhou nie, maar wat ’n verligting moes dit tog gewees het om te weet dat sy straf net tydelik sou wees! Maleagi 1:6 vergelyk Jehovah met ’n liefdevolle vader. Jy weet dat ’n vader moontlik sy geliefde kinders sal dissiplineer om hulle tereg te wys (Nahum 1:3; Hebreërs 12:6). Maar weens Sy liefde word ons hemelse Vader nie gou toornig nie, en Maleagi 3:10, 16 bevestig dat hy sy knegte mildelik sal beloon.
19. Watter selfondersoek is gepas?
19 Maleagi begin sy boek met die versekering: “‘Ek het julle liefgehad’, het Jehovah gesê” (Maleagi 1:2). Terwyl jy nadink oor hierdie goddelike versekering aan Israel, moet jy jou afvra: ‘Doen ek enigiets wat kan verhinder dat ek God se liefde ontvang? Watter aspekte van God se liefde wil ek beter leer ken en in groter mate ervaar?’ ’n Diepe begrip van God se liefde kan jou al hoe sekerder laat word van sy ewige geneentheid.
VERGIFNIS MAAK REDDING MOONTLIK
20. Hoe maak goddelike vergifnis redding moontlik?
20 Wanneer jy hierdie profetiese boeke lees, sal jy opmerk dat Jehovah soms rampspoed voorspel het. Waarom? Dit was dikwels om sy volk te beweeg om berou te toon. Daarom het hy uitlanders toegelaat om Samaria in 740 v.G.J. en Jerusalem in 607 v.G.J. te vernietig. Wat God voorspel het, is vervul, maar later het hy berouvolles toegelaat om na hulle land terug te keer. Ja, hierdie boeke beklemtoon dat God diegene wat hulle van sonde afkeer en na hom toe kom, goedgunstig vergewe en herstel (Habakuk 3:13; Sefanja 2:2, 3). Miga is beweeg om uit te roep: “Wie is ’n God soos u, een wat ongeregtigheid vergewe en die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel oorsien? Hy sal beslis nie vir ewig aan sy toorn vashou nie, want hy skep behae in liefderyke goedhartigheid” (Miga 7:18; Joël 2:13; Sagaria 1:4). Die vervulling van profesieë bevestig dit.
21. (a) Wat het die 12 profete oor die Messias gesê? (b) Watter Messiaanse profesieë is vir jou interessant?
21 Met betrekking tot ’n permanente wetlike grondslag vir blywende vergifnis het Jehovah die koms voorspel van die Messias, wat sy menselewe as “’n ooreenstemmende losprys” vir die sondige mensdom sou gee (1 Timoteus 2:6). Amos het gewys op ’n herstelling wat die Messias, die seun van Dawid, sou teweegbring (Amos 9:11, 12; Handelinge 15:15-19). Miga het selfs die geboorteplek aangedui van Jesus, die een wat sou kom met lewegewende voordele vir almal wat geloof in Sy offerande sou beoefen (Miga 5:2). En Sagaria het gepraat van die “Spruit”, Jesus, wat sou “gaan sit en op sy troon [sou] heers” (Sagaria 3:8; 6:12, 13; Lukas 1:32, 33). Jou geloof sal ongetwyfeld versterk word as jy meer van hierdie profesieë ondersoek.—Sien die venster “Vername profesieë oor die Messias”.
22. Hoe word jou vertroue in Jehovah versterk deur wat die 12 profete oor hom openbaar?
22 Wanneer jy die boodskappe van die 12 profete lees, sal jou vertroue in God se finale oorwinning toeneem. Jehovah is ons Verdediger, en hy sal ware geregtigheid tot stand bring. God se woord bly staan. Hy onthou sy ooreenkomste met sy volk, sorg vir sy knegte en verlos hulle van alle onderdrukkers (Miga 7:8-10; Sefanja 2:6, 7). Jehovah het nie verander nie (Maleagi 3:6). Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat daar geen probleem of struikelblok is wat kan verhoed dat God sy voorneme vervul nie! Wanneer hy sê dat sy oordeelsdag sal kom, dan sál dit kom. Hou dus aan waak met betrekking tot Jehovah se dag! “Jehovah sal koning oor die hele aarde word. In dié dag sal Jehovah een wees, en sy naam een” (Sagaria 14:9). Hy voorspel dit; hy sal dit vervul.
a In November 2002, voor die oorlog in Irak, het professor Dan Cruickshank die gebied besoek. Hy het op BBC-televisie gesê: “Aan die rand van Mosoel lê die uitgestrekte, verwoeste stad Nineve, wat—tesame met Nimroed . . . sedert die 1840’s geesdriftig deur Britse argeoloë opgegrawe is. . . . Die opgrawings by hierdie Assiriese stede het in werklikheid beteken dat ’n langverlore—byna mitiese—beskawing ontdek is wat slegs bekend was as gevolg van kort, vae en allesbehalwe vleiende beskrywings in die Bybel.”