Waarom jy die Bybel kan vertrou
Party mense sê die Bybel is onbetroubaar, en hulle menings word algemeen aanvaar. Baie verwerp dus vandag die dinge wat die Bybel sê as ongeloofwaardig.
Wat Jesus Christus in gebed tot God gesê het, wek andersyds vertroue: “U woord is die waarheid.” En die Bybel self maak daarop aanspraak dat dit deur God geïnspireer is.—Johannes 17:17; 2 Timotheüs 3:16.
Wat dink jy hiervan? Bestaan daar goeie rede om die Bybel te vertrou? Of is daar werklik getuienis dat die Bybel onbetroubaar is, dat hy homself weerspreek en inkonsekwent is?
Weerspreek hy homself?
Sommige sê dat die Bybel homself weerspreek. Maar het enigiemand al ooit vir jou ’n voorbeeld gewys? Ons het nog nooit een gesien wat nie verklaar kon word nie. Dit lyk weliswaar of daar teenstrydighede in sekere Bybelverslae is. Maar die probleem is gewoonlik ’n gebrek aan kennis van die besonderhede en omstandighede van daardie tyd.
Sommige sal byvoorbeeld die aandag vestig op wat hulle as ’n teenstrydigheid in die Bybel beskou en vra: ‘Waar het Kain sy vrou gekry?’ Die veronderstelling is dat Kain en Abel Adam en Eva se enigste kinders was. Maar die veronderstelling is gebaseer op ’n wanbegrip van wat die Bybel sê. Die Bybel verduidelik dat Adam “seuns en dogters gehad” het (Genesis 5:4). Kain het dus met een van sy susters of moontlik met ’n niggie getrou.
Kritici soek dikwels net na teenstrydighede en sal gevolglik sê: ‘Die Bybelskrywer Mattheüs sê dat ’n hoofman na Jesus gekom het om ’n guns te vra, maar Lukas sê dat verteenwoordigers met die versoek gestuur is. Wie is korrek?’ (Mattheüs 8:5, 6; Lukas 7:2, 3). Maar is dit werklik ’n weerspreking?
Wanneer die bedrywigheid of werk van mense toegeskryf word aan die een wat in werklikheid daarvoor verantwoordelik is, sê ’n redelike persoon nie dat daar ’n teenstrydigheid bestaan nie. Meen jy byvoorbeeld dat ’n berig wat sê dat ’n burgemeester ’n pad gebou het vals is omdat die werklike bouwerk aan die pad deur sy ingenieurs en arbeiders gedoen is? Natuurlik nie! Dit is eweneens nie inkonsekwent wanneer Mattheüs sê dat die hoofman ’n versoek tot Jesus gerig het terwyl Lukas skryf dat die versoek deur sekere verteenwoordigers gerig is nie.
Namate meer besonderhede bekend word, lyk oënskynlike teenstrydighede in die Bybel nie meer na teenstrydighede nie.
Die geskiedenis en die wetenskap
Die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel is eens algemeen bevraagteken. Kritici het byvoorbeeld getwyfel aan die bestaan van Bybelfigure soos koning Sargon van Assirië, Belsasar van Babilon en die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus. Maar onlangse vondste het die een Bybelverhaal na die ander bevestig. Historikus Moshe Pearlman het gevolglik geskryf: “Skielik het skeptici wat die egtheid van selfs die geskiedkundige dele van die Ou Testament in twyfel getrek het, begin om hulle beskouings te verander.”
Ons sal die Bybel alleenlik kan vertrou as dit ook in wetenskaplike sake akkuraat is. Is dit? Nie lank gelede nie het wetenskaplikes, in stryd met wat die Bybel sê, beweer dat die heelal geen begin gehad het nie. Astronoom Robert Jastrow het egter onlangs gewys op nuwer informasie wat dit weerlê en verduidelik: “Ons sien nou hoe die astronomiese getuienis op ’n Bybelse beskouing oor die oorsprong van die wêreld dui. Die besonderhede verskil, maar die wesenlike aspekte van die astronomiese verslag en die Bybelse Genesisverhaal is dieselfde.”—Genesis 1:1.
Die mense het ook hulle beskouings oor die aarde se vorm verander. “Ontdekkingsreise”, verduidelik The World Book Encyclopedia, “het getoon dat die aarde rond is, nie plat soos die meeste mense geglo het nie.” Maar die Bybel was die hele tyd korrek! Meer as 2 000 jaar voor daardie reise het die Bybel in Jesaja 40:22 gesê: “Hy sit bo die kring van die aarde”, of soos ander vertalings sê, “die aardbol” (Douay), “die ronde aarde” (Moffatt).
Hoe meer mense te wete kom, des te groter is die getuienis dat die Bybel vertrou kan word. ’n Voormalige direkteur van die Britse Museum, sir Frederic Kenyon, het geskryf: “Die resultate wat reeds behaal is, bevestig wat geloof sou voorskryf, naamlik dat die Bybel maar net by ’n vermeerdering van kennis baat kan vind.”
Voorspellings
Maar kan ons werklik die Bybel se voorspellings oor die toekoms, onder meer sy beloftes oor ‘regverdige nuwe hemele en ’n nuwe aarde’, vertrou? (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Wel, wat is die Bybel se reputasie vir betroubaarheid in die verlede? Keer op keer is profesieë wat selfs honderde jare voor die tyd gegee is tot in die fynste besonderhede vervul!
Die Bybel het byvoorbeeld die omverwerping van magtige Babilon voorspel byna 200 jaar voordat dit gebeur het. Trouens, die Meders, wat saam met die Perse geveg het, is as die veroweraars genoem. En hoewel Kores, die Persiese koning, nog nie eers gebore was nie, het die Bybel voorspel dat hy ’n vername rol in die verowering sou speel. Dit het gesê dat Babilon se beskermende waters, die Eufraatrivier, moes “uitdroog”, en dat Babilon se ‘poorte nie gesluit sou bly nie’.—Jeremia 50:38; Jesaja 13:17-19; 44:27–45:1.
Hierdie spesifieke besonderhede is vervul, aldus die geskiedskrywer Herodotus. Die Bybel het daarbenewens voorspel dat Babilon mettertyd ’n onbewoonde woesteny sou word. En dit is presies wat gebeur het. Babilon is vandag ’n verlate hoop terpe (Jesaja 13:20-22; Jeremia 51:37, 41-43). En die Bybel is vol ander profesieë wat op dramatiese wyse vervul is.
Wat voorspel die Bybel dan oor die teenswoordige wêreldstelsel? Dit sê dat “daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, . . . meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.”—2 Timotheüs 3:1-5.
Ons sien beslis nou die vervulling hiervan! Maar die Bybel voorspel ook die volgende vir “die laaste dae” van hierdie wêreld: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees.” Daar sal ook “groot aardbewings op verskillende plekke wees . . . en pessiektes”.—Mattheüs 24:7; Lukas 21:11.
Bybelprofesieë word inderdaad vandag vervul! Wat dan van beloftes soos die volgende wat nog vervul moet word: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon”, en “Hulle sal van hul swaarde pikke smee . . . en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie”?—Psalm 37:29; Jesaja 2:4.
‘Dis eenvoudig te goed om te glo’, sal sommige moontlik sê. Maar daar bestaan werklik geen rede vir ons om aan enigiets te twyfel wat ons Skepper beloof nie. Sy Woord kan vertrou word! (Titus 1:2). Deur verder op die getuienis in te gaan, sal jy nog meer hiervan oortuig word.
Al die Skrifgedeeltes kom uit die hersiene uitgawe van die Afrikaanse Bybel van 1933.
[Lokteks op bladsy 4]
“Die resultate wat reeds behaal is, bevestig wat geloof sou voorskryf, naamlik dat die Bybel maar net by ’n vermeerdering van kennis baat kan vind”