Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ws hfst. 16 bl. 129-135
  • Die “groot menigte” loop nou met die “grootpad” na God se organisasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “groot menigte” loop nou met die “grootpad” na God se organisasie
  • Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Figuurlike tuin van Eden word voortgebring
  • Die “grootpad” van heiligheid
  • Nou en vir ewig vreugdevol
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Die Paradys word herstel!
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Hou aan reis op “die Weg van Heiligheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Ons het rede om van vreugde uit te roep
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
ws hfst. 16 bl. 129-135

Hoofstuk 16

Die “groot menigte” loop nou met die “grootpad” na God se organisasie

1, 2. Wanneer ondergaan Jesaja hoofstuk 35 ’n geestelike vervulling, en watter beskrywing bevat die eerste twee verse?

GEDURENDE die Duisendjarige Heerskappy van die “Vredevors” sal baie van die aspekte van Jesaja hoofstuk 35, wat nou voor die vernietiging van Babilon die Grote vervul word, letterlik vir die mensdom vervul word. Want wat in ’n geestelike sin bereik is, sal beslis in ’n fisiese sin bereik word. Die groter, geestelike vervulling van hierdie profesie vind nóú plaas, met die herstelling van God se knegte uit gevangenskap aan Babilon die Grote. Die profeet Jesaja het dit met hierdie mooi bewoording beskryf:

2 “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Libanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE.”—Jesaja 35:1, 2.

3. Waar was die dor land in die sesde eeu v.G.J., en hoe kon dit juig?

3 Waar was die wildernis en dor land en woestyn geleë? In die sesde eeu v.G.J. was hulle in die gebied van die koninkryk van Juda. Teen 537 v.G.J. het daardie land 70 jaar lank woes en sonder bewoners gelê. Maar hoe kon ’n wildernis juig? Die voormalige bewoners sou daarheen moes terugkeer. Dit sou uit sy nederige toestand verhef word en die waardigheid van die hoë berge van indrukwekkende Libanon ontvang.

’n Figuurlike tuin van Eden word voortgebring

4, 5. (a) Wanneer het daar in ons dag ’n soortgelyke transformasie van ’n verlate land plaasgevind, en waarom? (b) Wat het die rehabilitasiewerk van die gesalfde oorblyfsel tot gevolg gehad? (c) Hoe het Jesaja 35:5-7 hulle hernieude geestelike toestand beskryf?

4 Die hedendaagse parallel, in ’n geestelike sin, van hierdie transformasie van ’n land van ’n Godverlate voorkoms tot ’n toestand wat van Jehovah se herstelde guns getuig, het in 1919 begin. Jehovah se herstelde volk was vasbeslote om die vredestyd wat destyds begin het, ten volle te benut. Die Grotere Kores, Jesus Christus, en sy Vader, Jehovah God, het aan die bevryde oorblyfsel van geestelike Israeliete ’n wonderlike taak gegee wat ooreengekom het met die herbouing van die tempel van Jehovah deur die gerepatrieerde oorblyfsel van eertydse Israel na 537 v.G.J. Die rehabilitasiewerk na 1919 het tot die skepping van ’n figuurlike tuin van Eden gelei.

5 Dit is met hierdie woorde van Jesaja 35 voorspel: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.”—Jesaja 35:5-7.

6. Wat het die bestaan van antitipiese, hedendaagse Edom nie verhinder nie, en wie jubel vandag saam met die herstelde oorblyfsel?

6 Die bestaan van antitipiese, hedendaagse Edom het nie verhinder dat geestelike Israel herstel word tot ’n paradystoestand ter vervulling van Jesaja hoofstuk 35 nie. Die hedendaagse Edomiete het gevolglik geen rede om hulle te verheug soos die herstelde oorblyfsel van geestelike Israel, tesame met die groeiende “groot menigte”, hulle verheug nie. Die “groot menigte” het ’n groot aandeel in die handhawing van die geestelike paradys van Jehovah se hedendaagse getuies.

7. Wat het die oorblyfsel se oë van die verstand nie voor 1914 gesien nie, maar is hulle ‘blinde’ oë geopen?

7 Die geestelike Israeliete se oë van die verstand is nie voor die einde van die Tye van die Nasies geopen om te sien dat ’n oorblyfsel van hulle nog hier op aarde sou wees ná die wêreldmoeilikheid wat in 1914 sou begin nie. Hulle het ook nie gesien dat hulle en die “groot menigte” “ander skape” die voorreg sou hê om ’n wêreldwye getuienis oor die oprigting van God se Messiaanse Koninkryk te lewer nie. In 1919 is die geestelik blinde oë van die oorblyfsel gevolglik geopen, en watter gesig van die nabye toekoms het daardie geopende oë tog nie aanskou nie!

8. Watter uitwerking het die twee byeenkomste te Cedar Point, Ohio, op die geestelike ore en tonge van die herstelde oorblyfsel gehad?

8 By hulle byeenkomste te Cedar Point, Ohio, in 1919 en 1922 het hulle ’n aanduiding gekry van die werk wat voorgelê het. Hulle het die taak voor hulle ywerig aangepak. Hulle geestelike ore is ontsluit om die motiverende boodskap oor die Koninkryk van God en die nodigheid om dit te adverteer te hoor. Net soos ’n takbok het hulle so te sê gespring om getuies te wees vir daardie Koninkryk waarvoor daar al so lank gebid word. Hulle tonge, wat tot op daardie stadium stom was, het gejubel oor die Messiaanse Koninkryk wat in die hemele aan die bewind is.—Openbaring 14:1-6.

9. Hoe het daar geestelik gesproke water in die woestyn uitgebreek?

9 Ja, dit was asof water uitgebreek het in ’n geestelike staat wat tevore droog en woes was, sodat alles nou groen gelyk het as gevolg van welige plantegroei—gereed om uiters produktief te wees. Dit is geen wonder dat die herstelde volk van Jehovah uitbundig gejuig het en versterk gevoel het soos ’n takbok wat kragtig teen die hoogtes uitklim nie! Die waters van die waarheid oor die Koninkryk van God, wat in 1914 in die hande van Jesus Christus opgerig is, het inderdaad al hoe sterker uitgestroom, en dit het geweldige verkwikking tot gevolg gehad.—Jesaja 44:1-4.

Die “grootpad” van heiligheid

10, 11. (a) Wat het hierdie verkwikkende verandering aangedui? (b) Langs watter weg het die oorblyfsel hulle geestelike paradys bereik, en hoe beskryf Jesaja 35:8, 9 dit?

10 Wat dui die voorgaande aan? Dat eers die oorblyfsel en later die “groot menigte” “ander skape” uit Babilon die Grote gekom het en God se Koninkryksgetuies gemaak is. Maar langs watter roete sou hulle weer God se guns verkry en hierdie geestelike paradys binnegelei word? Dit was asof daar ’n breë, wye pad vir hulle geopen is sodat menigtes Israeliete met die pioniergees eensgesind saam na hulle Godgegewe tuisland kon optrek. Jesaja se verruklike profesie dui dit aan:

11 “En dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel—selfs die dwase sal nie dwaal nie. Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie.”—Jesaja 35:8, 9.

12. Het die einde van die Eerste Wêreldoorlog outomaties die “grootpad” vir die oorblyfsel geopen, en wat het op die vierde dag van die jaar 1919 plaasgevind?

12 Die einde van die Eerste Wêreldoorlog het nie outomaties ’n hedendaagse “grootpad” geopen nie. Agt lede van die Wagtoringgenootskap se hoofkwartierpersoneel was nog in die tronk en die getuieniswerk het ’n ernstige knou gekry. Op 4 Januarie 1919, by die jaarvergadering van die Wagtoringgenootskap in Pittsburgh, Pennsilvanië, is J. F. Rutherford, die Genootskap se president, weer tot sy amp verkies al was hy nog in die tronk, aangesien daar geen twyfel bestaan het dat hy ’n onskuldige kneg van die allerhoogste God was nie.

13, 14. Watter gebeure in 1919 het getoon dat ’n figuurlike grootpad vir die oorblyfsel geopen is, en wie het op daardie “grootpad” geloop?

13 Op 25 Maart 1919 is hy en sy sewe medegevangenes vrygelaat en later volkome vrygespreek. Bladsy 283 van The Watch Tower van 15 September 1919 het die bemoedigende nuus bevat dat die kantoor van die Genootskap van 1 Oktober 1919 af van Pittsburgh na die Brooklyn-Bethel te Columbia Heights 124 sou terugverskuif. Met The Watch Tower se nommer van 15 Desember 1919 is daar aangekondig dat hierdie halfmaandelikse publikasie weer in Brooklyn, New York, gedruk word.

14 Dit was gevolglik in 1919 dat ’n figuurlike grootpad vir die vreugdevolle knegte van God geopen is. Dit is diegene wat in Jehovah se oë heilig wou wees wat op daardie “grootpad”, “die heilige weg”, geloop het. Enigiemand wat nie die regte oogmerk, ’n rein beweegrede, gehad het nie, het nie daardie figuurlike “heilige weg” ingeslaan en weer God se guns verkry nie.

15. Wat lewer sigbare bewys dat die “groot menigte” op die figuurlike grootpad begin loop het?

15 Op 1 Junie 1935 is 840 van die “groot menigte” by die byeenkoms in Washington, D.C., in water gedoop en het hulle sodoende bewys gelewer dat hulle op die “grootpad” begin loop het. Miljoene ander van hulle het nou op daardie grootpad begin loop en sodoende aangesluit by die dalende getal van die gesalfde oorblyfsel. Vreedsaam en in aangename kameraadskap loop hulle nou saam op die “grootpad”, vasbeslote dat, met die hulp van die almagtige God in die hemel, niks hulle eenheid sal verbreek nie.

16. Hoe is daar, figuurlik gesproke, geen leeu of ander verskeurende dier op hierdie grootpad nie?

16 Figuurlik gesproke sou geen leeu of ander verskeurende dier op hierdie grootpad aangetref word nie. Dit wil sê, daar sou niks wees wat die gesalfde oorblyfsel en die “groot menigte” sou verhinder of afskrik nie. Vol vertroue het hulle die weg ingeslaan wat hulle Bevryder, die Grotere Kores, nou vir hulle geopen het, met Sion as hulle bestemming.

17. (a) Is die “grootpad” nog oop, aangesien ons diep in “die voleinding van die wêreld” is? (b) Wie slaan “die heilige weg” in, en hoe doen hulle dit?

17 Vandag, so diep in “die voleinding van die wêreld”, bly daardie Godgegewe “grootpad” oop. Menigtes mense met waardering reageer op die informasie dat Babilon die Grote voor die aanslag van die Grotere Kores, Jesus Christus, geval het. En hulle vlug daaruit deur die weg na die geestelike paradys, “die heilige weg”, in te slaan.—Jeremia 50:8.

18. Hoe beskryf die laaste vers van Jesaja 35 die teenswoordige situasie van Jehovah se getroue getuies, en aan wie gaan die dank vir die vervulling van hierdie profesie?

18 Hulle smaak onbeskryflike vreugde en blydskap, soos die laaste vers van Jesaja hoofstuk 35 dit stel: “En die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.” Hulle kommer en gesug omdat hulle eens nie in harmonie met Jehovah God was nie, het sedert 1919 weggevlug. En kommer en gesug het nie na Jehovah se getroue, vreugdevolle getuies teruggekeer nie. Alle dank aan Jehovah, die God wat die waarheid spreek, wat daardie heerlike profesie van Jesaja hoofstuk 35 op so ’n lofwaardige wyse vervul het!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel