ONS BESKOU DIE WÊRELD
Europa in die kollig
Hoewel Europa voorheen baie godsdienstig was, is dit nou oor die algemeen niegodsdienstig. Nogtans hou onlangse nuusitems uit Europa met die Bybel verband op maniere wat jou dalk sal verbaas.
Voordele van ’n ma se stem
Navorsers in Milaan, Italië, het bevind dat dit vir ’n vroeggebore baba baie gesondheidsvoordele inhou om sy ma se stem te hoor deur middel van ’n toestel wat aan die baba se arm vasgemaak is terwyl hy in die hospitaal is. Hierdie metode probeer naboots hoe die ma se stem vir die baba geklink het toe hy nog in die baarmoeder was. Volgens die studie “het vroeë blootstelling aan ’n ma se stem ’n goeie uitwerking op vroeggebore babas”.
WAT DIE BYBEL SÊ: “Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak, soos ’n gespeende kind by sy moeder.”—Psalm 131:2.
Bevorder ouers oormatige selfliefde?
Volgens ’n studie van 565 kinders in Nederland het kinders wie se ouers hulle beskryf het as “meer spesiaal as ander kinders” en as kinders wat “spesiale behandeling” verdien, hoër punte as ander van hulle ouderdomsgroep behaal op toetse vir oormatige selfliefde. Hulle het ook gevoel dat hulle beter is as ander en op alles geregtig is. “Kinders glo dit wanneer hulle ouers vir hulle sê dat hulle meer spesiaal is as ander,” sê een van die samestellers van die studie. “Dit is dalk nie goed vir hulle of vir die samelewing nie.”
WAT DIE BYBEL SÊ: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het.”—Romeine 12:3.
Honderd jaar oud, maar optimisties!
Ten spyte van siekte en fisiese beperkings het honderdjariges ’n sterk begeerte om te lewe, sê navorsers by die Universiteit van Heidelberg, in Duitsland. Drie uit elke vier honderdjariges waarmee ’n onderhoud gevoer is, het vasgeklou aan die lewe en die beste daarvan probeer maak. Hulle het persoonlike doelwitte bereik, was optimisties en hoopvol, het gevoel dat die lewe betekenis het en het hulle sedelike en godsdienswaardes behou.
IETS OM OOR TE DINK: Ons het ’n ingebore begeerte om aan te hou lewe. Wat toon dit moontlik, soos Prediker 3:11 aandui?