Die Bybel se beskouing
Wat is ’n ouer se doelwit?
WATTER een van die volgende wil jy hê moet jou adolessent word?
A. ’n Replika van jou.
B. ’n Rebel wat daarop uit is om die teenoorgestelde van jou te wees.
C. ’n Verantwoordelike volwassene wat wyse besluite neem.
Party ouers wat Opsie C kies, tree dalk op asof hulle Opsie A verkies. Hulle probeer hulle waardes op hulle adolessent afdwing, soos om vir hom te sê watter loopbaan hy moet kies. Die gevolg? Sodra hy ’n mate van onafhanklikheid verkry, hardloop hy in die teenoorgestelde rigting. Ironies genoeg, baie ouers wat Opsie A saai, maai Opsie B.
Waarom pogings om algehele beheer te hê, misluk
Jy wil hê dat jou adolessent ’n verantwoordelike volwassene moet word wat wyse besluite neem. Maar hoe kan jy hierdie doelwit bereik? Een ding is seker: Algehele beheer is nie die antwoord nie. Kyk na twee redes waarom.
1. Die algehele-beheer-benadering is onskriftuurlik. Jehovah God het die mens met wilsvryheid geskep. Hy laat mense toe om te kies watter lewensweg hulle wil volg, hetsy dit goed of sleg is. Toe Kain byvoorbeeld so kwaad was vir sy broer Abel dat hy hom wou doodmaak, het Jehovah vir hom gesê: “As jy jou daartoe wend om goed te doen, sal daar dan nie ’n verheffing wees nie? Maar as jy jou nie daartoe wend om goed te doen nie, is daar sonde wat by die ingang lê en loer, en sy begeerte is na jou; en sal jý die oorhand daaroor kry?”—Genesis 4:7.
Let daarop dat Jehovah Kain duidelike raad gegee het, maar dat hy hom nie gedwing het om dit te volg nie. Kain moes kies of hy die oorhand oor sy woede sou kry of nie. Die les? As Jehovah nie algehele beheer oor sy skepsele probeer uitoefen om hulle te dwing om gehoorsaam te wees nie, moet jy dit ook nie met jou adolessente probeer doen nie.a
2. Die algehele-beheer-benadering boemerang gewoonlik. Stel jou voor dat ’n verkoopsman druk op jou uitoefen om iets te koop. Hoe harder hy jou probeer dwing om die item te koop, hoe meer verset jy jou daarteen. Selfs as jy sy produk nodig het, sit sy benadering jou waarskynlik af. Jy wil van hom af wegkom.
Iets soortgelyks kan gebeur as jy jou waardes, opvattings en doelwitte op jou adolessent probeer afdwing. Sal hy dit “koop”? Nie sommer nie! Trouens, jou benadering sal dalk net die teenoorgestelde uitwerking hê en jou adolessent ’n afkeer van jou standaarde laat kry. Ouers se pogings om algehele beheer te hê, misluk alte dikwels. Wat kan jy dus doen?
Pleks van algehele beheer oor jou adolessent se lewe te probeer verkry en jou waardes op hom af te dwing soos jy dalk gedoen het toe hy jonger was, moet jy hom eerder help om te sien hoe wys dit is om te doen wat reg is. As jy byvoorbeeld ’n Christen is, kan jy vir hom wys hoe hy op die lange duur meer tevredenheid in die lewe sal smaak as hy volgens God se beginsels lewe.—Jesaja 48:17, 18.
Terwyl jy dit doen, moet jy die voorbeeld stel. Wees die soort persoon wat jy wil hê jou adolessent moet word (1 Korintiërs 11:1). Hy moet duidelik kan sien volgens watter waardes jy verkies om te lewe (Spreuke 4:11). As jou adolessent ’n liefde vir God en sy standaarde aankweek, sal hy wyse keuses maak, selfs wanneer jy nie teenwoordig is nie.—Psalm 119:97; Filippense 2:12.
Leer hom praktiese vaardighede
Soos bladsy 2 van hierdie tydskrif toon, sal die dag aanbreek—en na jou mening dalk alte gou—wanneer jou volwasse kind “sy vader en sy moeder [sal] verlaat” (Genesis 2:24). As ’n ouer wil jy seker maak dat hy die vaardighede het wat hy nodig het om ’n selfstandige volwassene te wees. Kyk na party van die vaardighede wat jy hom kan help om nou te ontwikkel, terwyl hy nog in die huis is.
Huishoudelike vaardighede. Kan jou adolessent kos maak? sy klere was en stryk? sy kamer skoon en netjies hou? instandhoudings- en basiese herstelwerk aan ’n motor doen? As ’n seun of ’n dogter sulke vaardighede aanleer, sal hy of sy eendag ’n huishouding kan behartig. Die apostel Paulus het gesê: “Julle weet self dat hierdie hande voorsien het in my behoeftes.”—Handelinge 20:34.
Sosiale vaardighede (Jakobus 3:17). Hoe goed kom jou adolessent met ander oor die weg? Kan hy geskille op ’n mooi manier oplos? Het jy hom geleer om mense met respek te behandel en om konflikte vreedsaam op te los? (Efesiërs 4:29, 31, 32). Die Bybel sê: “Eer alle soorte mense.”—1 Petrus 2:17.
Die vermoë om met geld te werk (Lukas 14:28). Kan jy jou adolessent help om ’n ambag te leer, by ’n begroting te bly en skuld te vermy? Het jy hom geleer om te spaar vir nodige items en nie impulsief te koop nie en om met basiese benodigdhede tevrede te wees? (Spreuke 22:7). Paulus het geskryf: “As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons . . . tevrede wees.”—1 Timoteus 6:8.
Adolessente wat leer om volgens goeie waardes te lewe en wat praktiese vaardighede aangeleer het, is werklik voorbereid vir volwassenheid. Hulle ouers het hulle doelwit bereik!—Spreuke 23:24.
[Voetnoot]
a Vir meer inligting, sien Die Wagtoring van 1 Februarie 2011, bladsye 18-19.
HET JY AL GEWONDER?
● Wat is jou doelwit as ’n ouer?—Hebreërs 5:14.
● Watter verantwoordelikheid sal jou adolessent self moet dra wanneer hy ’n volwassene word?—Josua 24:15.
[Prente op bladsy 25]
Wat wil jy hê moet jou adolessent word?
’n Replika . . .
’n Rebel . . .
’n Verantwoordelike volwassene