Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/11 bl. 21-23
  • Wat ouers sê

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat ouers sê
  • Ontwaak!—2011
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Adolessent in die huis—die rol van wysheid
    Ontwaak!—2008
  • Vrae wat ouers vra
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Kommunikasie met adolessente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hoe kan ek my ouers beter leer ken?
    Ontwaak!—2009
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 10/11 bl. 21-23

Wat ouers sê

Die adolessensiejare bring ’n hele nuwe reeks uitdagings vir baie ouers mee. Hoe kan jy jou kind help om suksesvol te wees in hierdie stadium van die lewe—wat vir hom moontlik net so verwarrend is as vir jou? Let op wat party ouers regoor die wêreld gesê het.

VERANDERINGE

“Toe my seun jonger was, het hy my raad aanvaar sonder om dit te bevraagteken. Maar gedurende sy tienerjare het dit gelyk asof hy nie meer my gesag wou aanvaar nie. Hy het nie net wat ek gesê het, bevraagteken nie, maar ook die manier waarop ek dit gesê het.”—Frank, Kanada.

“My seun praat nie meer so baie soos voorheen nie. Ek moet hom vra wat hy dink, want hy sal nie sommer self vir my sê nie. Dit is nie maklik om hom te kry om ’n vraag te beantwoord nie. Die antwoord sal kom—maar nie dadelik nie.”—Francis, Australië.

“Geduld is baie belangrik. Soms wil ons dalk ons kinders skel, maar dit is altyd beter om te kalmeer en rustig met hulle te gesels!”—Felicia, Verenigde State.

KOMMUNIKASIE

“Soms neem my tienerdogter ’n verdedigende houding aan, en soms dink sy ek pik op haar. Ek moet haar daaraan herinner dat ek vir haar lief is, dat ons deel is van dieselfde span en dat ek haar ondersteun!”—Lisa, Verenigde State.

“Toe my kinders jonger was, het hulle maklik met my gesels. Dit was maklik om uit te vind wat hulle op die hart het. Nou moet ek probeer om begrip vir hulle te hê en te toon dat ek hulle as individue respekteer. Slegs dan sal hulle vir my sê hoe hulle regtig voel.”—Nan-hi, Korea.

“Dit is nie genoeg om tieners te verbied om sekere dinge te doen nie. Ons moet met hulle redeneer en betekenisvolle gesprekke hê wat hulle hart raak. Om dit te kan doen, moet ons gewillig wees om te luister na wat hulle sê, selfs as hulle dinge sê wat ons verkieslik nie wil hoor nie.”—Dalila, Brasilië.

“As ek my dogter moet teregwys, probeer ek dit privaat doen, nie voor ander mense nie.”—Edna, Nigerië.

“Wanneer ek met my seun gesels, is daar soms ander dinge in die huis wat my aandag aftrek, en dan gee ek hom nie my volle aandag nie. Hy besef dit, en ek dink dit is een van die redes waarom hy nie baie met my gesels nie. Ek moet meer aandag aan hom probeer skenk wanneer ons gesels, sodat hy sal aanhou om openlik met my te praat.”—Miriam, Mexiko.

ONAFHANKLIKHEID

“Ek het altyd gehuiwer om my tieners meer onafhanklikheid te gee, en dit het beslis konflik veroorsaak. Ek het die saak openlik met hulle bespreek. Ek het verduidelik waarom ek bang is om dit te doen, en daarna het hulle verduidelik waarom hulle graag meer vryheid wil hê. Ons het tot ’n ooreenkoms gekom wat hulle meer vryheid sou gee binne die redelike perke wat ek gestel het.”—Edwin, Ghana.

“My seun wou ’n motorfiets hê. Ek was so gekant teen die idee dat ek met hom geraas het en al die negatiewe aspekte gemeld het wat met die koop van ’n motorfiets verband hou, sonder om hom ’n geleentheid te gee om te verduidelik hoe hy voel. Dit het hom kwaad laat word en meer vasbeslote gemaak om een te kry! Ek het besluit om ’n ander benadering te probeer. Ek het my seun aangespoor om die onderwerp uit alle hoeke na te vors, insluitende die gevare, die koste en die vereistes om ’n lisensie te kry en te behou. Ek het ook vir hom gesê om volwasse Christene in die gemeente se raad te vra. Ek het besef dat ek nie oorheersend moet wees nie, maar dat ek my seun eerder moet aanmoedig om openlik te praat oor wat hy wil hê. So kon ek sy hart bereik.”—Hje-joeng, Korea.

“Ons het perke gestel, maar ons het ons kinders ook geleidelik meer vryheid gegee. Hoe verstandiger hulle hulle vryheid gebruik het, hoe meer vryheid het hulle gekry. Ons het hulle geleenthede gegee om vryheid te verdien, en so gewys dat ons hulle meer vryheid wou gee; maar as hulle ons vertroue geskend het, moes hulle die gevolge dra.”—Dorothée, Frankryk.

“Ek het nooit my standaarde verlaag nie. Maar wanneer my kinders gehoorsaam was, was ek bereid om toegewings te maak. Soms het ek byvoorbeeld hulle inkomtyd ’n bietjie later gemaak. Maar as hulle meer as een keer nie gebly het by die inkomtyd nie, moes hulle die gevolge dra.”—Il-hjoen, Korea.

“Hoe gehoorsamer en verantwoordeliker ’n werknemer is, hoe meer sal sy werkgewer hom in ag neem. My seun kan sien dat dieselfde beginsel vir hom geld: Hoe gehoorsamer en verantwoordeliker hy is binne die perke wat ons vir hom gestel het, hoe meer onafhanklikheid sal hy geleidelik verdien. My seun weet dat hy die onafhanklikheid wat hy verdien het, kan verloor as hy nie verantwoordelik daarmee werk nie, net soos ’n werknemer die gevolge moet dra as hy nie sy verantwoordelikhede nakom nie.”—Ramón, Mexiko.

[Lokteks op bladsy 22]

“Leer kinders hoe hulle moet lewe, en hulle sal dit lewenslank onthou.”—Spreuke 22:6, Good News Translation

[Venster/Prente op bladsy 23]

GESINSPROFIELE

‘Dit is ’n wonderlike ondervinding om adolessente groot te maak’

Joseph: My twee oudste dogters is tieners, en ek vind dat dit belangrik is om na hulle beskouings te luister en erkenning daaraan te gee. Die feit dat ek eerlik is oor my eie tekortkominge—en respek toon wanneer ek met my dogters praat—help om die kommunikasiekanale oop te hou. Ek voel dat dit ’n wonderlike ondervinding is om adolessente groot te maak, danksy die leiding wat God se Woord, die Bybel, ons gee.

Lisa: Toe ons oudste dogter ’n tiener geword het, het ek agtergekom dat sy meer aandag van my nodig het. Ek onthou dat ek baie tyd daaraan bestee het om na haar te luister, met haar te gesels en haar gerus te stel. Ek en my man laat ons dogters verstaan dat hulle oor enigiets met ons kan praat en dat ons hulle gevoelens sal respekteer. Ek probeer die wysheid van Jakobus 1:19 toepas, wat sê dat ’n mens “gou [moet] wees om te hoor, stadig om te praat”.

Victoria: My ma is my beste vriendin. Ek het nog nooit iemand teëgekom wat so dierbaar en so liefdevol is nie—en sy behandel almal so. Die beste manier waaraan ek kan dink om haar te beskryf, is dat sy iemand is wat waarlik omgee. Niemand sal ooit haar plek kan inneem nie.

Olivia: My pa is liefdevol en vrygewig. Hy is altyd bereid om te gee, selfs wanneer ons nie veel het nie. Hy weet hoe om ernstig te wees, maar hy weet beslis ook hoe om pret te hê. Hy is ’n spesiale pa, en ek is bly dat hy my pa is!

“Ons het nie tyd om verveeld te wees nie!”

Sonny: As die meisies ’n probleem het, sit en bespreek ons dit as ’n gesin. Ons praat altyd openlik met mekaar, en ons grond ons besluite op Bybelbeginsels. Ek en Ynez probeer ook seker maak dat die meisies goeie, geestelik volwasse vriende het. Ons vriende is hulle vriende, en hulle vriende is ons vriende.

Ynez: Ons bly besig, en ons doen dinge saam as ’n gesin. As Jehovah se Getuies is ons besig met die bediening, persoonlike en gesinsbybelstudie en vrywillige werk—insluitende noodlenigingswerk en Koninkryksaalbouwerk. Al is ons besig, probeer ons ’n balans handhaaf deur ook tyd te maak vir goeie ontspanning. Ons het nie tyd om verveeld te wees nie!

Kellsie: My pa is ’n goeie luisteraar, en hy vra altyd die hele gesin se mening voordat hy ’n groot besluit neem. My ma is altyd daar wanneer ek hulp nodig het—of net wil praat.

Samantha: My ma laat my so spesiaal, so geliefd, so belangrik voel—soms sonder dat sy dit besef. Sy luister. Sy gee om. Ek sal ons vriendskap vir niks verruil nie.

[Prente]

Die Cameragesin: Joseph, Lisa, Victoria, Olivia en Isabella

Die Zapatagesin: Kellsie, Ynez, Sonny en Samantha

[Prent op bladsy 22]

Ouers gee hulle kinders dalk ’n mate van onafhanklikheid, maar hulle stel ook redelike perke

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel