Ons beskou die wêreld
“’n Verstommende 60 persent van die wêreld se bevolking [het] nou ’n selfoon . . . Dit is ’n reuseverandering van net ses jaar gelede, toe minder as 15 persent toegang tot ’n selfoon gehad het.”—MACLEAN’S, KANADA.
Oor die afgelope dekade is 1 068 nuwe spesies in die groter Mekongstreek van Suidoos-Asië ontdek.—WÊRELD-NATUURFONDS, VERENIGDE STATE.
“Amerika het minder as 5% van die wêreld se bevolking, maar byna 25% van sy gevangenes. In hierdie land word 756 uit elke 100 000 inwoners tronk toe gestuur, ’n syfer wat byna vyf keer hoër is as die wêreldgemiddelde.”—THE ECONOMIST, BRITTANJE.
“Afleidingsoorlading”
Party hipertegnologiese kommunikasievorme kan dit moeilik maak om op ander take te konsentreer. Volgens deskundiges wat interaksies tussen mens en masjien bestudeer—dinge soos kitsboodskappe, elektroniese onthounotas, nuwe e-posse en opspringvenstertjies op die rekenaar—ly die elektroniese wêreld aan “afleidingsoorlading en voortdurend verdeelde aandag”. ’n Reeks onderbrekings kan daartoe lei dat “jy die gevaar loop om nooit lank onverdeelde aandag aan net een gedagte of begrip te skenk nie en nooit ononderbroke aan enigiets kan werk totdat dit afgehandel is nie”, sê die tydskrif Newsweek. Sulke afleidings kan onder meer “geheueverlies” en “’n minder akkurate geheue” tot gevolg hê, asook potensieel rampspoedige foute.
Behoefte aan tolke
Howe, wetstoepassingsinstansies, hospitale en ander diensverskaffers in die Verenigde State het dikwels hulp nodig om te verstaan wat mense sê. Dienste wat op aanvraag tolke voorsien, oorbrug die kommunikasiegaping in wat ’n Reuters-nuusberig “’n toenemend veeltalige wêreld” noem. Een maatskappy in Kalifornië het 5 200 tolke in hulle diens wat 176 tale praat—van die redelik algemene tale soos Chinees, Russies en Spaans tot die minder bekende tale, soos tale wat in dele van Afrika en Mexiko gepraat word. Binne ’n minuut kan sulke maatskappye “die taal identifiseer wat die persoon praat” en hom met ’n tolk verbind om kliënte te help om “mense aan die praat te kry”, sê die berig.
Onverwagte goudbron
Die Nagano-prefektuur, noordwes van Tokio, het “’n nuwe bron van mineralerykdom ontdek—rioolvullis”, sê ’n Reuters-nuusberig uit Japan. Ontleding het aan die lig gebring dat die as van verbrande rioolslyk wat by die Soewa-behandelingsaanleg verwerk is, ’n persentasie goud bevat het wat baie hoër is as die erts wat uit Japan se rykste goudmyne ontgin word. Die prefektuur verwag om in net een begrotingsjaar 15 miljoen jen, meer as R1 296 000, vir die goud te ontvang. Die hoë konsentrasie goud in die rioolvullis kan glo “toegeskryf word aan die omgewing se groot aantal vervaardigers van presisietoerusting wat die geel metaal gebruik”, sê die berig.