Die stryd om geheimhouding—Dit raak jou!
Het jy al ooit ’n anagram opgelos? Het jy al ooit iets op die Internet gekoop of ’n rekenaar gebruik om toegang tot jou bankstate te verkry? Indien wel, het jy die wêreld van kodes, geheimskrif, enkripsie en dekripsie betree.
TOT onlangs toe is geheime kodes gewoonlik net deur regerings, ambassadeurs, spioene en die leër gebruik. Maar nie meer nie. Sedert die koms van rekenaars en die Internet word waardevolle data dikwels geheim gehou deur ’n aantal elemente, waaronder wagwoorde, wat die identiteit van ’n gebruiker bevestig elke keer wanneer hy toegang tot sy rekords probeer verkry. Trouens, nog nooit vantevore het geheimhouding so ’n groot rol in die daaglikse lewe gespeel nie.
Ons kan ons dus tereg afvra: Hoe veilig is my vertroulike data? Kan ek meer doen om die sekuriteit daarvan te verbeter? Voordat ons hierdie vrae bespreek, dink vir ’n oomblik na oor die lang stryd tussen dié wat kodes ontwerp en dié wat kodes ontsyfer—’n konflik wat amper so oud is soos die skryfkuns self.
Soorte geheimskrif
Een vorm van geheimskrif met ’n lang geskiedenis, word steganografie, of “bedekte skrif”, genoem. Die doel van steganografie is om die bestaan van die boodskap te verberg. Die eertydse geskiedkundige Herodotus het geskryf van ’n Griekse banneling wat gesien het dat Persië voorbereidings tref om sy vaderland aan te val. In ’n poging om sy volk te waarsku, het hy boodskappe op houttablette geskryf en dit met was bedek om die boodskap te verberg, ’n metode wat ook deur die eertydse Romeine gebruik is. Volgens Herodotus het die Griek se eenvoudige plan die Persiese koning Xerxes die element van verrassing ontneem, en sy magte is verslaan.
Moderne vorme van steganografie sluit die gebruik van mikrofoto’s in, asook om papier en beelde van ’n watermerk te voorsien om kopiereg te beskerm. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is mikrofoto’s gebruik wat so groot was soos die punt aan die einde van hierdie sin. Die persoon vir wie dit bedoel was, het die foto dan eenvoudig vergroot. Vandag gebruik mense wat in onwettige pornografie handel dryf, ’n soortgelyke konsep. Met behulp van rekenaarsagteware steek hulle prente weg in skynbaar onskadelike digitale beelde, teks of klanklêers.
Omdat steganografie die bestaan van die boodskap geheim hou, vestig dit nie die aandag op die persoon wat dit stuur of ontvang nie. As die boodskap egter ontdek word, kan dit gelees word—tensy die boodskap ook geënkripteer is.
Wanneer die betekenis verberg word
Kriptologie, of “verborge woord”, is die wetenskap om te sorg dat kommunikasie vertroulik bly deur nie die boodskap self nie, maar die betekenis daarvan te verberg. Die proses behels dat data geskommel en ontskommel word volgens ’n voorafbepaalde stel reëls, sodat slegs die partye wat die sleutel het, die boodskap kan ontsyfer.
Die eertydse Spartane het boodskappe geënkripteer deur middel van ’n eenvoudige meganiese toestel wat ’n skutale genoem is. Die een wat die kode geskryf het, het ’n strook leer of perkament spiraalgewys styf om ’n staf gedraai en dan in die lengte van die staf ’n boodskap op die materiaal geskryf. Wanneer dit losgedraai is, was daar skynbaar net betekenislose letters op die strook leer. Maar wanneer die persoon vir wie dit bedoel was, die materiaal om ’n ander staf met presies dieselfde deursnee as die oorspronklike gedraai het, kon hy die teks lees. Die boodskapper het ook soms van steganografie gebruik gemaak deur die strook as ’n gordel te dra, met die letters aan die binnekant.
Daar word gesê dat Julius Caesar sy slagveldboodskappe verberg het deur middel van ’n eenvoudige vervangingsmetode—elke letter word vervang met een wat byvoorbeeld drie plekke verder in die alfabet is. Die letter a sou dus as d geskryf word, b as e, ensovoorts.
Die Europese Renaissance het meer gesofistikeerde kriptografie moontlik gemaak. Een van verskeie individue wat op hierdie gebied vooruitgang gemaak het, was Blaise de Vigenère, ’n Franse diplomaat wat in 1523 gebore is. Vigenère het voorgestel dat ’n geheimskrif gebruik word wat vroeër ontwerp is, en wat geskryf is deur tussen verskillende alfabette te wissel. Sy tegniek, wat glo nie ontsyfer kon word nie, is “die onontsyferbare geheimskrif” (le chiffre indéchiffrable) genoem. Vooruitgang in die ontwerp van kodes het egter gepaardgegaan met vooruitgang in die ontsyfering van kodes.a
Toe Islamitiese geleerdes byvoorbeeld die Koran, wat in Arabies geskryf is, ontleed het, het hulle opgelet dat sekere letters meer dikwels voorkom as ander, iets wat ook in ander tale die geval is. Hierdie insig het tot die ontwikkeling van ’n belangrike kriptografiese tegniek gelei wat frekwensieanalise genoem word en wat die verborge identiteit van sekere letters en lettergroepe in ’n geheime teks aan die lig kan bring deur te tel hoeveel keer individuele letters voorkom.
Teen die 15de eeu is kriptografie algemeen deur Europese diplomate gebruik. Maar dit het nie altyd geheimhouding gewaarborg nie. Die Fransman François Viète het byvoorbeeld daarin geslaag om die kodes van die Spaanse koninklike hof te ontsyfer. Trouens, hy was so suksesvol dat ’n moedelose koning Filips II verklaar het dat Viète kop in een mus was met die Duiwel, en hy wou hê dat hy voor ’n Katolieke hof verhoor moes word!
Tegnologie tree tot die stryd toe
In die 20ste eeu, veral tydens die twee wêreldoorloë, het kriptografie baie meer gesofistikeerd geraak en is ingewikkelde masjiene gebruik, soos die Duitse Enigma, ’n masjien wat baie soos ’n tikmasjien was. Terwyl ’n operateur gewone teks ingetik het, het ’n reeks elektriese rotors die boodskap geënkripteer. Die geheime teks is dan deur middel van Morsekode gestuur en deur ’n ander Enigma gedekripteer. Maar foute deur oorwerkte operateurs en ’n onverskillige gesindheid het kodeontsyferaars belangrike leidrade gegee wat hulle in staat gestel het om boodskappe te ontsyfer.
In vandag se digitale wêreld word banktransaksies, geldoordragte en betalings—asook mediese, korporatiewe en staatsinligting—deur ingewikkelde enkripsies beveilig. Dan word die geheime teks deur diegene gelees wat die nodige dekripsiesleutel het om die data tot die oorspronklike vorm te herstel.
Terwyl ’n metaalsleutel gewoonlik ’n reeks groefies het, het ’n digitale sleutel ’n string nulle en ene in verskillende kombinasies. Langer sleutels het meer kombinasies en is dus moeiliker om te ontsyfer. ’n Sleutel wat uit agt bisse bestaan, het byvoorbeeld 256 moontlike kombinasies, of permutasies, terwyl ’n sleutel met 56 bisse meer as 72 000 biljoen permutasies het. Die huidige standaard vir weblesers wat deur enkripsie beveilig word, is sleutels met 128 bisse, wat 4 700 triljoen keer meer permutasies het as sleutels met 56 bisse!b
Sekuriteitstelsels word nietemin binnegedring. Byvoorbeeld, in 2008 het federale aanklaers in die Verenigde State 11 mans aangekla van wat beskou word as die grootste geval van identiteitsdiefstal nog. Die groep het blykbaar skootrekenaars, draadlose tegnologie en spesiale sagteware gebruik om nommers van krediet- en debietkaarte in die hande te kry wat vir betaling by kasregisters gebruik is.
Is jou vertroulike data veilig?
Wees verseker, die enkripsies wat jou bankrekeninge en Internettransaksies beskerm, is uiters moeilik om te ontsyfer. Maar baie hang ook van jou af. Die Bybel sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan” (Spreuke 22:3). Wees dus skerpsinnig en “verberg” jou as ’t ware van bedrog en diefstal deur ten minste die volgende te doen:
◼ Gebruik ’n antivirusprogram op jou rekenaar.
◼ Gebruik ’n antispioenwareprogram.
◼ Installeer ’n brandmuur.
◼ Maak seker dat bogenoemde altyd op datum is, en installeer sekuriteitsopgraderings vir jou sagteware en bedryfstelsel.
◼ Wees versigtig vir skakels of aanhegsels in e-posse of kitsboodskappe, veral as dit ongevraagde pos is en vra vir persoonlike inligting of die bevestiging van ’n wagwoord.
◼ Wanneer jy vertroulike data, soos kredietkaartbesonderhede, verstrek, moet jy geënkripteerde skakels gebruik en van die webwerf afteken wanneer jy klaar is.c
◼ Gebruik wagwoorde wat moeilik is om te raai, en hou dit geheim.
◼ Moenie sagteware waarvan die bron onbekend is, kopieer of gebruik nie.
◼ Maak gereeld reserwekopieë, en bêre dit op ’n veilige plek.
As jy nou en in die toekoms hierdie basiese voorsorgmaatreëls tref en enige ander toepas wat dalk raadsaam is, sal jy jou kanse ten minste verbeter om jou eie stryd om vertroulikheid en sekuriteit te wen.
[Voetnote]
a Tegnies gesproke is daar ’n verskil tussen geheimskrif en ’n kode. In geheimskrif word individuele letters met ander letters of syfers vervang, terwyl ’n kode behels dat woorde of frases met ander woorde, frases of syfers vervang word. Die twee kan nietemin oorvleuel.
b ’n Triljoen is 1 gevolg deur 18 nulle.
c Geënkripteerde webwerwe op weblesers het simbole wat toon dat transaksies beveilig is, soos ’n simbool van ’n slot of “https://” in die adresstaaf. Die s staan vir secure, wat toon dat dit beveilig is.
[Prent op bladsy 26]
’n Antieke Spartaanse skutale
[Prent op bladsy 26]
’n Duitse Enigma-masjien van die 20ste eeu
[Prent op bladsy 26]
Vandag beveilig ingewikkelde enkripsies persoonlike inligting