Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/08 bl. 6-9
  • Waarom ons hier is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom ons hier is
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se voorneme met die aarde
  • God se voorneme word vervul—Hoe?
  • Geniet ’n sinvolle lewe
  • Die ware doel van die lewe
    Ontwaak!—1992
  • Wat het God al gedoen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2019
  • Jy kan vir ewig op die aarde lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2018
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 12/08 bl. 6-9

Waarom ons hier is

DIE Bybel toon dat ons Skepper, Jehovah God, nooit sonder ’n doel optree nie. Neem byvoorbeeld die aarde se waterkringloop wat deur hom voorsien is en lewe op aarde moontlik maak. Die Bybel beskryf dit op hierdie digterlike en tog akkurate manier: “Al die winterstrome gaan uit na die see; tog is die see nie vol nie. Na die plek waar die winterstrome uitgaan, daarheen keer hulle terug om uit te gaan.”—Prediker 1:7.

Die Bybel vergelyk die betroubaarheid van God se beloftes met die kringloop wat hierbo beskryf word. Soos ons vandag weet, laat die son se krag water uit die oseane, seë en mere verdamp, en later keer dit na die aarde terug as reën. Jehovah vestig die aandag op hierdie kringloop en verduidelik: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:10, 11.

Skoon water keer uit die wolke na die aarde terug om lewe op aarde moontlik te maak. Net so kan die “woord . . . wat uit [God se] mond uitgaan” ons geestelik onderhou. Dit is soos Jesus Christus self verduidelik het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.”—Matteus 4:4.

As ons geestelike voedsel van God inneem, maak dit dit vir ons moontlik om ons lewe in ooreenstemming met sy voorneme te bring. Maar voordat ons dit kan doen, moet ons verstaan wat God se voorneme is. Byvoorbeeld, waarom het God die aarde geskep? En hoe word ons geraak deur sy voorneme daarmee? Kom ons kyk.

God se voorneme met die aarde

Omdat God die beste vir die mensdom wil hê, het hy die eerste man en vrou, Adam en Eva, in Eden, ’n paradystuin, geplaas. Toe het hy hulle beveel om kinders te hê en gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees.”—Genesis 1:26-28; 2:8, 9, 15.

Tot watter gevolgtrekking kan hierdie instruksies ons laat kom? Is dit nie duidelik dat God wou hê dat die hele aarde in ’n paradystuiste vir die mensdom omskep moet word nie? Sy Woord sê: “Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.”—Psalm 115:16.

As mense egter die vervulling wou sien van God se voorneme vir hulle om lewe op die aarde vir ewig te geniet, moes hulle Jehovah eer deur hom te gehoorsaam. Maar het Adam dit gedoen? Nee, hy het gesondig deur ongehoorsaam aan God te wees. Wat was die gevolg? Al Adam se nakomelinge, ook almal van ons wat vandag lewe, het sonde en die dood geërf, net soos die Bybel sê: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het.”—Romeine 5:12.

Gevolglik sterf alle mense en is die aarde nog nie in ’n aardwye paradys omskep nie. Het God se voorneme met die aarde dalk verander?

Nee, want onthou dat God gesê het: “My woord . . . wat uit my mond uitgaan . . . , sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie”, maar “sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het”. Verder het God belowe: “Alles wat my behaag, sal ek doen” (Jesaja 45:18; 46:10; 55:11). En dit behaag God—dit is sy voorneme—dat hierdie planeet ’n aardwye paradys moet word, bewoon deur mense wat hom vir ewig in geluk sal dien, soos hy hom oorspronklik voorgeneem het.—Psalm 37:29; Jesaja 35:5, 6; 65:21-24; Openbaring 21:3, 4.

God se voorneme word vervul—Hoe?

Jehovah het sy onoortreflike wysheid en liefde geopenbaar deur voorsiening te maak dat mense gered word van oorgeërfde sonde en die gevolge daarvan—onvolmaaktheid en uiteindelik die dood. Hy het dit gedoen deur die geboorte van ’n seun moontlik te maak wat vry sou wees van die sonde wat alle ander mense van die eerste mens, Adam, geërf het. Hierdie voorsiening word ’n losprys genoem, wat gegee is sodat verdienstelike mense die ewige lewe kan beërf (Matteus 20:28; Efesiërs 1:7; 1 Timoteus 2:5, 6). Hoe is die losprys voorsien?

Jehovah se engel Gabriël het vir ’n maagd met die naam Maria vertel dat sy wonderdadig geboorte sou gee en het beskryf hoe sy swanger sou raak al het sy “geen gemeenskap met ’n man” gehad nie. Die wonderwerk wat God verrig het, was om die lewe van sy eersgebore Seun vanuit die hemel na ’n eiersel in Maria se baarmoeder oor te plaas. Sodoende het sy deur middel van die werking van God se heilige gees swanger geraak.—Lukas 1:26-35.

Jesus is sowat nege maande later as ’n volmaakte mens gebore, vergelykbaar met die eerste man, Adam. Later kon hy sy volmaakte menselewe aflê deur ’n offerdood te sterf. Sodoende het Jesus ‘die tweede Adam’ geword en daardeur die grondslag voorsien vir almal wat getrou aan God is, om van sonde en die dood losgekoop te word.—1 Korintiërs 15:45, 47.

Hierdie groot liefde wat God vir ons geopenbaar het, moet beslis ons hart raak! Soos die Bybel sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die vraag is: Hoe sal ons op God se liefde reageer? Moet ons nie waardering vir sy gawe toon nie? Kyk na voorbeelde van sommige wat sulke waardering het.

Geniet ’n sinvolle lewe

Denise, wat in die vorige artikel gemeld is, het gevind dat sy ’n doelgerigte en sinvolle lewe kan geniet as sy God eer deur op sy wette en instruksies ag te slaan. Sy sê: “Ek het uit die Bybel geleer dat God nie net ’n langtermyndoelwit vir die mensdom het nie, maar dat hy ook ’n spesifieke werk het vir diegene wat hom aanbid. Ek kan my nie ’n bevredigender lewe voorstel as om die wilsvryheid wat hy my gegee het, te gebruik om hom te loof deur in ooreenstemming met sy voorneme te lewe nie.”

Ons kan dit ook doen deur uit te vind wat God se wil is en dit dan te doen. Die losprysoffer, wat dit vir ons moontlik sal maak om menslike volmaaktheid in ’n nuwe wêreld van regverdigheid te geniet, word weliswaar nog nie ten volle ten behoewe van ons aangewend nie. Maar intussen is dit noodsaaklik dat ons die geestelike hunkering bevredig wat God in elkeen van ons geplaas het.

Dave, na wie daar in die eerste artikel van hierdie reeks verwys is, is iemand wie se geestelike honger bevredig is. Hy het antwoorde gevind op sy vrae oor die doel van die lewe. “As ek terugkyk”, sê hy, “sien ek my lewe voordat ek van God se voorneme geleer het, as ’n reeks nuttelose strewes. Ek het dit destyds nie besef nie, maar die leegheid wat ek gevoel het, was in werklikheid weens ’n onbevredigde geestelike behoefte. Nou het ek nooit meer daardie gevoel nie. Ek verstaan waarom ek hier is en wat ek met my lewe moet doen.”

Ja, anders as die gedagtes van onvolmaakte mense, is God se beskouing van die betekenis van die lewe soos dit in die Bybel uiteengesit word, waarlik bevredigend. Ons is hier omdat Jehovah ons met ’n doel geskep het—sodat ons sy naam kan loof, ’n goeie verhouding met hom kan hê en sodoende ons geestelike behoefte kan bevredig. Vandag en tot in alle ewigheid kan ons die vervulling geniet van die geïnspireerde woorde: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—Psalm 144:15.

[Venster/Prent op bladsy 8]

DIE KWESSIE VAN LYDING

Lyding is al een van die grootste uitdagings genoem in ons strewe om te verstaan waarom ons hier is. Viktor Frankl het gesê: “As die lewe werklik ’n doel het, moet daar ook ’n rede vir lyding wees. Lyding is ’n onvermydelike deel van die lewe, net soos die noodlot en die dood.”

Die Bybel verduidelik die rede vir lyding en die dood. God is nie daarvoor verantwoordelik nie. Dit is eerder die gevolg van die eerste mensepaar se rampspoedige besluit om hulle lewe onafhanklik van hulle Skepper te lei. Al hulle nakomelinge het hierdie sondige neiging geërf, en dit is die grondoorsaak van menselyding.

Hoewel dit nie al die lewe se probleme oplos as ons begryp waarom ons hier is nie, voorsien dit wel ’n grondslag om probleme die hoof te bied. Dit gee ons ook ’n hoop vir die toekoms, wanneer God lyding en die dood vir ewig uit die weg sal ruim.

[Diagram/Prent op bladsy 7]

Die Bybel vergelyk die betroubaarheid van God se beloftes met die wonderlike waterkringloop

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Reën

Verdamping

Verdamping

Mere, riviere

Oseane

[Prent op bladsy 8, 9]

Waarom kan ons seker wees dat die aarde mettertyd ’n paradys vol gelukkige, gesonde mense sal wees?

[Prent op bladsy 9]

‘Ek kan my nie ’n bevredigender lewe voorstel as om my wilsvryheid te gebruik om God te dien nie.’—Denise

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel