Kinders en die Internet—Wat ouers kan doen
WATTER situasie sou jou as ouer meer ontsenu—die wete dat jou seun of dogter die sleutels van die gesinsmotor het of die wete dat hy of sy vrye toegang tot die Internet het? Albei situasies hou ’n mate van gevaar in. En albei verg ’n mate van verantwoordelikheid. Ouers kan hulle kinders nie vir ewig keer om ’n motor te bestuur nie, maar hulle kan seker maak dat hulle geleer word om veilig te bestuur. Baie ouers het ’n soortgelyke benadering tot die gebruik van die Internet. Die volgende Bybelbeginsels sal help.
“Elke skerpsinnige sal met kennis optree” (Spreuke 13:16). Ouers wie se kinders toegang tot die Internet het, moet ’n basiese begrip hê van hoe die Internet werk en wat hulle kinders doen wanneer hulle kitsboodskappe stuur, deur webblaaie kyk of met ander dinge op die Internet besig is. “Moenie dink dat jy te oud of te ongeleerd is om te leer nie”, sê Marshay, ’n moeder van twee. “Hou tred met die tegnologie.”
“Jy moet ’n reling om jou [plat] dak aanbring, sodat niemand daarvan sal afval nie” (Deuteronomium 22:8, The Amplified Bible). Internetdiensverskaffers en sekere sagteware kan vir ouers beheermaatreëls bied wat as “relings” dien om onvanpaste opspringvensters en toegang tot skadelike webwerwe te blokkeer. Party programme kan selfs help keer dat kinders persoonlike inligting, soos hulle naam of adres, verstrek. Dit is egter belangrik om te besef dat sulke maatreëls wat deur ouers ingestel word, nie onfeilbaar is nie. Talle ouer kinders wat rekenaarvaardig is, kan ook leer om dit te omseil.
“Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek” (Spreuke 18:1). In ’n studie in die Verenigde Koninkryk is daar bevind dat byna 1 uit 5 jongmense tussen die ouderdomme van 9 en 19 Internettoegang in hulle slaapkamer het. As ouers die rekenaar op ’n besige plek in die huis sit, sal dit hulle help om ’n ogie te hou oor wat hulle kinders op die Internet doen en kan dit kinders aanmoedig om ongewenste webwerwe te vermy.
“Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae boos is” (Efesiërs 5:15, 16). Besluit wanneer kinders die Internet kan gebruik, hoe lank hulle dit kan gebruik en watter soort webwerwe hulle mag en nie mag besoek nie. Bespreek jou riglyne met jou kinders en maak seker dat hulle dit verstaan.
Jy kan jou kinders natuurlik nie monitor wanneer hulle nie by die huis is nie. Dit is dus belangrik dat jy goeie waardes by jou kinders inskerp sodat hulle wyse besluite sal maak wanneer hulle nie in jou teenwoordigheid is nie (Filippense 2:12).a Maak dit baie duidelik wat die gevolge sal wees as jou reëls in verband met die Internet verbreek word. Pas daardie reëls dan toe.
“[’n Goeie moeder] waak oor die werksaamhede van haar huisgesin” (Spreuke 31:27). Monitor jou kinders se Internetgebruik, en laat hulle weet dat jy dit gaan doen. Dit is nie ’n skending van hulle privaatheid nie. Onthou, die Internet is ’n openbare forum. Die Amerikaanse Federale Speurdiens beveel aan dat ouers toegang tot hulle kinders se Internetrekeninge moet hê en dat hulle van tyd tot tyd hulle e-posse moet nagaan sowel as die webwerwe wat hulle besoek het.
“Denkvermoë [sal] oor jou wag hou, . . . onderskeidingsvermoë [sal] jou beveilig, om jou te verlos van die slegte weg, van die mens wat verdorwe dinge spreek” (Spreuke 2:11, 12). Om jou kinders te monitor en hulle aktiwiteite na te gaan, help net tot op ’n punt. Die waardes wat jy by hulle inskerp—en die voorbeeld wat jy stel—sal vir jou kinders ’n veel groter beskerming wees. Sit dus tyd opsy om met jou kinders te praat oor wat op die Internet kan gebeur. ’n Oop kommunikasiekanaal met jou kinders is jou beste verdediging teen gevare op die Internet. “Ons het met albei ons seuns gepraat oor ‘slegte’ mense op die Internet”, sê Tom, ’n Christenvader. “Ons het ook verduidelik wat pornografie is, waarom dit vermy moet word en waarom hulle nooit met vreemdelinge moet kommunikeer nie.”
Jy kan jou kinders beskerm
Dit verg inspanning om jou kinders teen gevare op die Internet te beskerm, en die maniere waarop toegang tot elektroniese media verkry word, verander voortdurend. Nuwe tegnologie kan vir kinders unieke voordele asook ongekende risiko’s inhou. Hoe kan ouers hulle kinders vir toekomstige gevare voorberei? “Wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien”, sê die Bybel.—Prediker 7:12.
Help jou kinders om wys te word. Help hulle ook om te weet hoe om die gevare wat die Internet inhou, te vermy en hoe om dit op verantwoordelike wyse te gebruik. Sodoende kan die Internet ’n hulpmiddel wees wat nie jou kinders se veiligheid sal bedreig nie.
[Voetnoot]
a Ouers moet onthou dat baie jongmense toegang tot die Internet kan verkry deur middel van selfone, ander handtoestelle en selfs party videospeletjie-konsoles.
[Lokteks op bladsy 8]
In die Verenigde Koninkryk het 57 persent van jongmense tussen die ouderdomme van 9 en 19 wat die Internet weekliks gebruik, al op pornografie afgekom; maar net 16 persent van ouers dink dat hulle kind al pornografie op die Internet gesien het
[Lokteks op bladsy 9]
Deskundiges meen dat daar daagliks tot 750 000 seksuele uitbuiters op die Internet is wat kletskamers en maatsoekdienste fynkam
[Lokteks op bladsy 9]
In die Verenigde State gebruik 93 persent van jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 17 die Internet
[Prent op bladsy 8, 9]
Kan jy jou kind leer om die Internet verantwoordelik te gebruik?