Van ons lesers
Sewe stappe om ’n beter ouer te wees (Augustus 2007) Hierdie tydskrif was ’n antwoord op my gebede. Ek het ’n vierjarige dogtertjie wat Jehovah liefhet, maar ek kan nie anders as om bang te voel dat ek as ouer ’n fout sal maak nie. Ek vra Jehovah dus elke dag om my te help om haar op te lei. Baie dankie dat julle besorg is oor ons as ouers.
Y.M.A., Mexiko
Hierdie reeks was soos ’n handboek wat net vir ons gesin bedoel was, want dit het baie van die geskille bespreek waaroor ek my bekommer! Ek het net weer besef hoeveel Jehovah vir sy volk omgee. Hy het my gebede gehoor en my trane gesien en geweet hoe dringend ek hierdie inligting nodig gehad het.
J. M., Verenigde State
Julle het dit reggekry om op net ’n paar bladsye waardevolle riglyne en onderrigting te voorsien wat regtig werk. Nou moet ons net hierdie riglyne volg!
E. L., Finland
Kan optimisme jou gesondheid verbeter? (September 2007) Hierdie artikel het my baie gehelp, aangesien ek my dikwels vir persoonlike probleme blameer het. Ek het dus begin dink dat ek nie ’n goeie ma is nie, en my lewe was baie stresvol. Hoewel dit nie vir my maklik is om optimisties te wees nie, het hierdie inligting my gehelp om my minder te bekommer. Ek is baie dankbaar vir die belangstelling wat julle deur middel van hierdie soort artikels in ons toon.
A. S., Ecuador
Tandpyn—’n geskiedenis van lyding (September 2007) Ek is ’n tandarts en ’n lektor in tandheelkunde. Ek is baie beïndruk deur julle uitstekende artikel, wat so goed geskryf is. Dit was ’n wonderlike opsomming van die geskiedenis van tandheelkunde. Ek het dit vir baie van my vriende en kollegas gewys.
C. R., Verenigde State
Is dit God se skuld? (September 2007) Ek en ’n paar vriende kom bymekaar om praktiese maniere te bespreek waarop ons vir ’n noodtoestand kan voorberei. Ons geniet ligte verversings en bespreek die goeie punte in die venster “Is jy gereed om te vlug?” in die bogenoemde artikel, en ons kyk na die nooditems wat ’n paar van ons bymekaargekry het. Ons bespreek ook hoe belangrik dit is om ’n gebalanseerde beskouing te hê wanneer ’n mens vir ’n noodtoestand voorberei. Ons verstaan dat dit nie ons hoofdoel as knegte van God is om noodvoorraad bymekaar te maak nie. Dit is eerder om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en ander te vertel van God se wonderlike belofte om ’n aarde tot stand te bring waarin daar geen bedreiging van enige ramp sal wees nie—hetsy natuurlik of mensgemaak.
R. G., Verenigde State
Beskerm jou kinders! (Oktober 2007) Ek was gemolesteer toe ek baie jonk was. Ek kan nog steeds nie vir my ouers vertel wat gebeur het nie. Hierdie artikels het my dus baie vertroos. Ek hoop uit die diepte van my hart dat ouers hierdie tydskrif sal lees en hulle kinders sal beskerm. Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah dat hy hierdie noodsaaklike inligting aan ons voorsien. Dit was werklik ’n vertroosting vir dié van ons wat seksueel gemolesteer is.
R. I., Japan