Hoe God se naam bekend gemaak is
DIE Bybelpsalmis Dawid het gesing: “Ek sal die naam van God met ’n lied loof.” Dawid het God se naam geken, en in ’n lied het hy gesê: “Mag Jehovah . . . geloof word . . . Mag sy glorieryke naam . . . geloof word” (Psalm 69:30; 72:18, 19). Die Afrikaanse vorm van God se naam wat oor die algemeen gebruik word, is Jehovah, ’n vertaling van die Hebreeuse יהוה, wat byna 7 000 keer in die Bybel voorkom.
In onlangse eeue is God se naam op baie plekke buiten die Bybel gebruik. Byvoorbeeld, die Latynse woorde Benedictus Sit Iehova Deus, wat “Mag Jehovah God geloof word” beteken, word op goue muntstukke gevind wat oor ’n tydperk van baie jare in Switserland geslaan is [1]. Trouens, gedurende die afgelope paar honderd jaar het God se naam in Hebreeus of Latyn op meer as duisend verskillende soorte muntstukke, aandenkings, medaljes en jetons (plaasvervangers vir muntstukke) verskyn.
Wat het tot hierdie wydverspreide gebruik van die goddelike naam gelei, waarvan voorbeelde op hierdie en die volgende bladsy gesien kan word?
Waarom die gebruik van God se naam?
Vanaf die 16de eeu het godsdiensgevegte regoor Wes-Europa tussen Protestantse Hervormers en Rooms-Katolieke gewoed. Etlike provinsiale gebiede wat aan Spanje behoort het, het weggebreek van die Rooms-Katolieke Kerk, wat tot op daardie stadium die vernaamste godsdiens was, en die Hervormde Kerk verkies. Dit het aanleiding gegee tot ’n godsdienstige burgeroorlog. Muntstukke en die beelde daarop is gebruik om die boodskap oor te dra dat God óf die een kant óf die ander ondersteun.
Hoe die goddelike naam gebruik is
Stempelmakers het God se naam, Jehovah, weergegee met die vier Hebreeuse letters wat as die Tetragrammaton bekend staan. Dit word in Afrikaans getranslitereer as JHVH of YHWH. Oor die algemeen kon die stempelmakers sowel as die publiek nie Hebreeus lees nie. Toe die Tetragrammaton herhaaldelik gekopieer is, is die vier Hebreeuse letters van God se naam dus uiteindelik op verskillende maniere geskryf.
Swede het omstreeks 1568 ’n munt laat slaan met God se naam daarop [2], en Skotland het omstreeks 1591 dieselfde gedoen. In ongeveer 1600 het Swede se koning Karel IX God se naam—gespel as Ihehova, Iehova en Iehovah—op geld laat aanbring [3]. Hy het een soort muntstuk uit goud laat maak—’n pragtige vertoonstuk wat gelyk was aan vier maande se loon van ’n handearbeider!
Meer as 60 verskillende Jehovah-muntstukke, soos dit genoem word, is bekend uit die tyd van Christiaan IV, koning van Denemarke en Noorweë, wat van 1588 tot 1648 geheers het. Teen die middel van die 17de eeu het “Jehovah-muntstukke” ook in Pole en Switserland verskyn, en dit is selfs in Duitsland gemaak.
Gedurende die Dertigjarige Oorlog, wat van 1618 tot 1648 in Europa geveg is en as ’n godsdiensoorlog begin het, het sulke muntstukke oral voorgekom. Ná die oorwinning in die Slag van Breitenfeld in 1631, het die Sweedse koning Gustaaf II Adolf munte laat slaan waarop die Tetragrammaton verskyn het [4]. Dit is vervaardig in dorpe soos Erfurt, Fürth, Mainz en Würzburg. Omstreeks dieselfde tyd het Swede se geallieerde vorstedomme ook munte met God se naam daarop begin slaan.
Gedurende die sowat 150 jaar ná die einde van die verskriklike Dertigjarige Oorlog het God se naam nog steeds op muntstukke, medaljes en aandenkings verskyn. Sulke munte is geslaan in onder meer Frankryk, Mexiko, Oostenryk en Rusland. Maar teen die vroeë 18de eeu is God se naam al hoe minder op hierdie manier gebruik. Uiteindelik het dit amper heeltemal van stempels verdwyn.
God se naam word bekend gemaak
God se naam word dalk nie gevind op geld wat vandag gebruik word nie, maar dit word op ’n ongeëwenaarde skaal verkondig. God het lank gelede ’n volk gekies en vir hulle gesê: “Julle is my getuies . . . en ek is God” (Jesaja 43:12). Geen muntstuk kan daardie noodsaaklike rol vervul nie. Trouens, diegene wat God se naam op hulle munte gebruik het, het valse getuienis teen hom gelewer, want hulle het beweer dat hy hulle bloeddorstige oorloë ondersteun. Maar vandag is daar wel mense wat God se naam bekend maak op ’n manier wat sy goedkeuring wegdra.
Jehovah se Getuies moedig jou aan om meer te leer omtrent die ware God, Jehovah, en wat sy naam verteenwoordig. ’n Bybelpsalmis het van hom geskryf: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is” (Psalm 83:18). Kennis van Jehovah is onontbeerlik, soos Sy geliefde Seun getoon het toe hy gebid het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
[Prent op bladsy 20, 21]
Stempelmaker se gereedskap om munte te slaan
[Foto-erkennings op bladsy 20]
Muntstuk 1 en gereedskap: Hans-Peter-Marquardt.net; muntstuk 2: Mit freundlicher Genehmigung Sammlung Julius Hagander
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Muntstuk 3 en 4: Mit freundlicher Genehmigung Sammlung Julius Hagander