Vind die bron van alle energie
DIE son is die aarde se vernaamste energiebron. Baie wetenskaplikes glo dat steenkool en olie die verrotte oorblyfsels is van bome en plante wat hulle energie van die son gekry het.a Die water wat in hidroëlektriese damme invloei, is aanvanklik deur die hitte van die son uit die oseane opgetrek en in die vorm van wolke oor die land vervoer. Die son se verwarmende strale laat ook die briese in beweging kom wat windaangedrewe kragopwekkers aandryf. Maar volgens skatting bereik slegs sowat ’n halwe miljardste van die son se energie die aarde.
Hoewel die ster wat ons die son noem, ontsagwekkende krag besit, is dit net een van miljarde soortgelyke enorme energiebronne in die heelal. Wat is die eintlike bron van al hierdie krag? Met verwysing na die sterre sê die Bybelskrywer Jesaja: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—Jesaja 40:26.
Wanneer ons aan die ontsaglike krag van die sterre dink, voel ons dalk oorweldig—en soveel te meer wanneer ons aan hulle Skepper dink. Die Bybel spoor ons egter aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Ja, die Skepper van die aarde en sy oorvloedige energiebronne, die een wat aan ons lewe gegee het, kan gevind word deur diegene wat na hom soek.—Genesis 2:7; Psalm 36:9.
Wanneer party mense sien hoe die aarde en sy hulpbronne besoedel en onregverdig verdeel word, vind hulle dit dalk moeilik om te glo dat God in die aarde en die individue daarop belangstel. Die Bybel belowe nietemin ’n groot verandering in die manier waarop die wêreld se hulpbronne verdeel en die aarde regeer sal word, en verseker ons dat daardie verandering binnekort sal plaasvind (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Deur ’n hemelse regering op te rig wat onder leiding van sy Seun, Christus Jesus, oor die ganse aarde regeer, sal Jehovah God verseker dat die aarde se oorvloedige hulpbronne regverdig verdeel word onder almal wat lewe (Miga 4:2-4). Hy sal ook “die verderwers van die aarde . . . verderf”, dit wil sê diegene wat die aarde besoedel, hetsy in geestelike of fisiese sin.—Openbaring 11:18.
Dan sal die belofte in Jesaja 40:29-31 ’n geestelike en fisiese vervulling hê: “Hy gee die vermoeide krag; en aan die een sonder dinamiese energie skenk hy volle sterkte in oorvloed. Seuns sal moeg sowel as afgemat raak, en jong manne sal vir seker struikel, maar dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry. Hulle sal opvaar met vlerke soos arende. Hulle sal hardloop en nie afgemat raak nie; hulle sal loop en nie moeg raak nie.” Jy kan ook meer leer oor die Bron van alle energie en die oplossing vir die aarde se energieprobleme as jy tyd inruim om die Bybel te bestudeer.
[Voetnoot]
a Sien die venster “Hoe het petroleum gevorm?” in die Ontwaak! van 8 November 2003.