Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 4/8 bl. 8-10
  • Wat hou die toekoms vir stede in?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat hou die toekoms vir stede in?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die einde van die stad?
  • Wat hou die toekoms vir stede in?
  • ’n Nuwe administrasie
  • Stede—Waarom in ’n krisis?
    Ontwaak!—2001
  • “Laat ons vir ons ’n stad bou”
    Ontwaak!—1994
  • “Die stad is vol verdrukking”
    Ontwaak!—1994
  • Die uitdaging om die stede te voed
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 4/8 bl. 8-10

Wat hou die toekoms vir stede in?

“WANNEER ons na ons stede kyk, sien ons ons toekoms.” Dit is wat Ismail Serageldin van die Wêreldbank gesê het. Maar uit wat ons so ver gesien het, lyk daardie toekoms nie rooskleurig nie.

Dit is prysenswaardig dat ernstige pogings aangewend word om die lewe in baie stedelike gebiede te verbeter. New York-stad het onlangs opknappingswerk aan Times Square in Manhattan voltooi. Vroeër was dit bekend vir sy pornografiebedryf, dwelmkultuur en misdaad. Nou is daar nuwe winkels en teaters in die gebied wat duisende besoekers lok. Napels, Italië, “’n pragtige, gesofistikeerde stad wat eens saam met Londen en Parys getel is”, volgens die tydskrif National Geographic, is gedurende die Tweede Wêreldoorlog verwoes. Napels het feitlik ’n simbool van misdaad en chaos geword. Maar toe die stad in 1994 gekies is as die ligging van ’n politieke konferensie, het dit as ’t ware ’n hergeboorte ondergaan toe die middestad heeltemal opgeknap is.

Maar dit kos natuurlik baie om veiliger, skoner stede tot stand te bring. Groter veiligheid beteken dikwels meer polisiemanne. Privaatheid word ook dalk ingeboet. Party openbare gebiede word voortdurend deur middel van TV-kameras en polisiebeamptes in gewone drag gemonitor. Terwyl jy deur ’n park wandel en verby fonteine, beeldhouwerke of blombeddings gaan, loop jy dalk onwetend verby sekuriteitskontrolepunte.

Soms kom verbeteringe ook teen ’n hoë prys vir die armes. Neem byvoorbeeld wat party gentrifikasie noem—die proses waartydens gesinne uit hoër inkomstegroepe eertydse arm buurte oorneem. Gentrifikasie is die gevolg van ’n veranderende ekonomie—’n “verskuiwing van vervaardiging tot dienste, van afhanklikheid van middelvlakvaardighede tot outomatisering” (Gentrification of the City, onder redaksie van Neil Smith en Peter Williams). Namate die behoefte aan handearbeid afneem en die aanvraag na professionele en tegniese werkers toeneem, groei die aanvraag na gerieflike middelklasbehuising ook. Pleks van na die voorstede te reis, verkies talle hoogbesoldigde beroepsmense om huise in betreklik vervalle buurte op te knap.

Dit lei natuurlik tot woonbuurte wat aansienlik verbeter. Maar wanneer woonbuurte verbeter, styg pryse. Die armes vind dikwels dat hulle nie kan bekostig om in woonbuurte te woon waar hulle jare lank gewerk en gewoon het nie!

Die einde van die stad?

Stede het moontlik net begin om die winde van verandering te voel wat deur nuwe tegnologie meegebring word. Namate die Internet al hoe gewilder word as ’n manier om inkopies en sake te doen, kan dit dramatiese gevolge hê. Die nuwe tegnologie het dit alreeds vir party ondernemings makliker gemaak om hulle buite die stede te vestig—en hulle het baie werkers saam met hulle geneem.

Namate al hoe meer mense hulle inkopies en werk oor die Internet begin doen, sal hulle dalk minder geneig wees om na besige sakegebiede te reis. Die boek Cities in Civilization sê: “Dit is moontlik dat party roetinewerkers, veral deeltydse werkers, geheel en al van die huis af of van werksplekke in die woonbuurt gaan werk . . . sodat die totale verkeersvolume sal verminder.” Die argitek Moshe Safdie spekuleer eweneens: “In hierdie nuwe omgewing sal ons moontlik ’n algemene verstrooiing van miljoene dorpies hê, wat individue plaaslik die geriewe van die dorpslewe sal gee en op elektroniese gebied die kulturele rykdom van groot geskiedkundige stede.”

Wat hou die toekoms vir stede in?

Baie waarnemers meen dat stede, afgesien van tegnologie, dienste en voordele bied wat sal aanhou om mense te trek. Ongeag wat die toekoms inhou, vandag se stede is nou in die moeilikheid! En vir die arm stedelinge wat by die miljoene vermeerder, is geen oplossing in sig vir die enorme behuisings- en sanitasieprobleme nie. Verder het niemand nog hoegenaamd ’n manier gevind om misdaad, omgewingsverval of stedelike besoedeling uit die weg te ruim nie.

Party sal redeneer dat regerings eenvoudig meer geld vir hulle stede beskikbaar moet stel. Maar as ’n mens dink aan die wyse waarop baie regerings in die verlede hulle bates bestuur het, is dit dan realisties om te dink dat stede se probleme opgelos kan word deur eenvoudig ’n tjek uit te skryf? Dekades gelede het die boek The Death and Life of Great American Cities gesê: “Daar is ongelukkig ’n mite dat ons van al ons krotbuurte ontslae kon raak . . . as ons net genoeg geld gehad het om te spandeer . . . Maar kyk wat ons met die eerste klomp miljarde gebou het: Lae-inkomsteprojekte wat erger broeiplekke van jeugmisdaad, vandalisme en algemene maatskaplike wanhoop word as die krotbuurte wat hulle veronderstel was om te vervang.” Hierdie woorde geld nog steeds.

Maar as geld nie die oplossing is nie, wat is dan? Ons moet onthou dat stede uit mense bestaan, nie net uit geboue en strate nie. Mense moet dus verander voordat die stadslewe sal verbeter. “Die beste ekonomiese beleid om ’n stad te bestuur, is om die mense te versorg en op te voed”, sê Lewis Mumford in The City in History. En meer is nodig as ’n groter polisiemag of ’n nuwe laag verf om dwelmmisbruik, prostitusie, besoedeling, omgewingsverval, maatskaplike ongelykheid, vandalisme, graffiti, ensovoorts uit die weg te ruim. Mense moet gehelp word om ingrypende veranderinge in hulle denke en gedrag aan te bring.

’n Nuwe administrasie

Dit is duidelik dat mense nie sulke ingrypende veranderinge kan teweegbring nie. Daarom sal die pogings om die probleme van vandag se stede op te los—ongeag hoe goed dit bedoel is—uiteindelik misluk. Studente van die Bybel raak egter nie wanhopig nie, want hulle sien vandag se stedelike probleme as net nog ’n voorbeeld van die mens se onvermoë om ons planeet behoorlik te bestuur. Vandag se groot, chaotiese stede bevestig op treffende wyse die woorde van die Bybel in Jeremia 10:23: ‘Aan die mens behoort sy weg nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.’ Die mens se pogings om oor homself te heers, het tot grootskaalse ellende gelei—probleme wat eenvoudig in ons stede vergroot word.

Stedelinge regoor die wêreld kan dus bemoediging put uit die Bybel se belofte in Openbaring 11:18 dat God ‘die verderwers van die aarde gaan verderf’. Dit is alles behalwe negatief, maar dui op ’n positiewe toekoms vir die mensdom. Dit beloof dat God die administrasie van ons planeet deur middel van ’n regering, of Koninkryk, sal oorneem (Daniël 2:44). Miljoene sal nie meer in ondenkbare armoede lewe nie, sonder behoorlike behuising en basiese sanitasie, ontneem van waardigheid of van hoop. Onder die heerskappy van God se regering sal mense materiële welvaart en blakende gesondheid geniet, asook pragtige huise hê.—Jesaja 33:24; 65:21-23.

Hierdie nuwe wêreld is die enigste realistiese oplossing vir die probleme van vandag se stede.

[Prente op bladsy 8, 9]

Ernstige pogings word aangewend om die lewe in baie stedelike gebiede te verbeter

Napels, Italië

New York-stad, VSA

Sydney, Australië

[Erkenning]

SuperStock

[Prent op bladsy 10]

God se nuwe wêreld bied ’n oplossing vir die probleme van vandag se stedelinge

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel