Ons beskou die wêreld
Hou aan leer terwyl jy ouer word
Dit kan vir party ouer werkers ’n stresvolle ondervinding wees as hulle moet leer om nuwe tegnologie in die werksplek te gebruik, soos rekenaars en kommunikasiestelsels, berig die koerant die Toronto Star. Ann Eby, ’n spesialis op die gebied van neigings in die werksplek, sê die probleem is meestal hoe hulle leer en nie wat hulle leer nie. “Namate ons ouer word”, verduidelik Julia Kennedy, president van Axiom Training and Development, “word ons neurale prosesse stadiger, maar die brein bly gesond.” Kennedy sê dat in teenstelling met kinders, wat maklik deur herhaling leer sonder om aandag aan die betekenis te skenk, “moet volwassenes dit wat hulle alreeds weet (lewensondervindinge), assosieer met wat hulle so pas geleer het”. Hoewel dit senior werkers dalk langer neem om ingewikkelde take baas te raak, het hulle nog steeds die vermoë om te leer. Kennedy gee die volgende wenke vir ouer werkers wat nuwe en moeilike take wil aanleer: Indien moontlik, reël jou opleidingsessies vir die oggend, probeer om begrippe in plaas van elke detail baas te raak en moenie jouself met ander vergelyk nie.
Die jongste inligting oor die wêreld se olievoorraad
“Ná ’n studie van vyf jaar het die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames [USGS] hulle vorige skatting van die wêreld se ru-olie-voorraad met 20 persent verhoog, tot altesaam 649 miljard vate”, berig die tydskrif Scientific American. “Wat ons gedoen het, is om na die toekoms te kyk en te voorspel hoeveel [olie] in die volgende 30 jaar ontdek sal word”, sê Suzanne Weedman, koördineerder van die USGS se Skatting van die Wêreld se Petroleum 2000. Benewens nuutgevonde reserwes, dra die vooruitgang in boortegnologie by tot die wêreld se olievoorraad deurdat dit petroleummaatskappye in staat stel om “selfs meer olie uit bestaande velde te haal”, sê die tydskrif.
Slenterdrag by die werk?
’n Landwye meningsopname in Australië het gevind dat party kantoorwerkers meen dat slenterdrag by die werk luiheid veroorsaak, berig The Sunday Telegraph. Bykans 42 persent van diegene wat by Australië se maatskappye vir inligtingstegnologie werk, dra nou die hele tyd slenterdrag, en 40 persent van Australiese maatskappye het “informele Vrydae”, wanneer werknemers slenterdrag vir die dag kan aantrek as hulle wil. Hoewel dit al hoe gewilder onder werknemers word om slenterdrag by die werk te dra, dink 17 persent van die werkgewers met wie ’n onderhoud gevoer is dat slenterdrag werknemers minder produktief maak. Hierdie syfer kom grootliks ooreen met die werkers se eie menings, aangesien 21 persent van vroue en 18 persent van mans sê dat slenterdrag wel ’n negatiewe uitwerking op produksie het.
Vloedskade in Mosambiek
Hierdie tyd verlede jaar het vloedwaters in Mosambiek meer as ’n halfmiljoen mense dakloos gelaat, ongeveer ’n derde van die land se graanoes vernietig en meer as 20 000 beeste laat verdrink. Terwyl die land van hierdie vloed herstel het, wat as die ergste vloed sedert 1948 bestempel is, het baie gevra hoe en waarom dit gebeur het. Die tydskrif African Wildlife het gesê dat stedelike ontwikkeling, die bewerking van graslande en oorbeweiding in naburige lande stroomop van Mosambiek die natuurlike vermoë van die land se graslande en vleilande om vloedwaters te absorbeer, vernietig het. Die afloop van swaar reën verander dus uiteindelik in ’n stortvloed. David Lindley, koördineerder van ’n Suid-Afrikaanse vleilandprojek, sê: “In ons grenslose verwaandheid en ons kortsigtigheid het die mens die balans van ons vleilande versteur en met die dinamika van ons riviere gepeuter.”
Koeie en kweekhuisgas
Metaangas is glo 20 keer skadeliker as koolstofdioksied wat sy vermoë betref om aardverwarming te veroorsaak. Daar word geskat dat 100 miljoen ton metaan elke jaar wêreldwyd vrygestel word deur ongeveer tweemiljard beeste, skape en bokke. Volgens The Canberra Times stel vee 13 persent van Australië se kweekhuisgasse vry, terwyl die syfer in Nieu-Seeland ongeveer 46 persent is. Mikro-organismes in ’n herkouer se maag breek voer af en vervaardig metaan, wat deur die dier se mond vrygestel word. In ’n poging om die diere se bydrae tot aardverwarming te verminder, eksperimenteer wetenskaplikes nou met maniere om melkproduksie per bees te verhoog en terselfdertyd die metaan wat deur diere vervaardig word te verminder.
Rookmite word ontmasker
“Die ekonomiese argument dat rokers ’n ligter las op die gesondheidsorgstelsel as ander is omdat hulle vroeër sterf, is vals”, berig die Kanadese koerant die Globe and Mail. Nederlandse navorsers wat die gesondheidstatus van ongeveer 13 000 Nederlanders en Amerikaners bestudeer het, het gevind dat nierokers nie so sieklik soos rokers is nie. Dr. Wilma Nusselder van die departement van openbare gesondheid aan die Rotterdam Erasmus-universiteit skryf: “As ’n mens ophou rook, sal jy nie net jou lewe verleng en meer siektevrye jare geniet nie, maar jy sal ook ongeskiktheid tot ’n korter tydperk verminder.” Volgens die Globe “is daar wêreldwyd ongeveer 1,15 miljard rokers, een derde van die planeet se volwassenes. Ongeveer 943 miljoen van hierdie rokers woon in ontwikkelende lande.”
Seksueel oordraagbare siektes en kinders
“Kinders wat selfs net 11 jaar oud is, word behandel vir seksueel oordraagbare siektes”, berig The Times van Londen. Een Engelse stad het twee keer die nasionale gemiddelde van gonorree, en 1 uit 8 van die tienermeisies daar het chlamydia. Chlamydia-besmetting in Engeland het sedert 1995 byna verdubbel en het die afgelope jaar alleen met ’n vyfde onder tieners toegeneem. Die landwye toename in gonorree van 56 persent in vyf jaar het hoofsaaklik tieners geraak.
Sy gebruik haar kop
Mierkoninginne van die spesie Blepharidatta conops, ’n bewoner van Brasilië se savanne, het ’n groot, plat, ronde kop. Volgens die Brasiliaanse uitgawe van National Geographic gebruik die miere hierdie buitengewone aanhangsel om die ingang na ’n kamer te versper waar eiers, larwes en papies geberg word, wat hulle teen potensiële vyande beskerm. Die mure van die koningin se kamer bestaan uit dele van insekteliggame wat deur die werkermiere bymekaargemaak is. Nadat hulle die liggaamsvloeistowwe uit hierdie liggame verwyder het en versigtig van die spiere ontslae geraak het, bou werkermiere ’n muur om die mierkoningin en los hulle ’n opening presies so groot soos haar kop. Werkermiere verkry toegang tot hierdie spesiale kamer deur ’n soort wagwoord op die koninklike kop te tik.
Diewe wat krag steel
Nutsmaatskappye regoor die Verenigde State begin nou om werk te maak van ’n groeiende probleem—elektrisiteitsdiefstal. Jare gelede was elektrisiteit blykbaar te goedkoop om te steel, sê The Wall Street Journal, maar in onlangse jare het die koste van elektrisiteit die hoogte ingeskiet, wat elektrisiteitsdiefstal algemener maak. Die Detroit Edison-maatskappy skat byvoorbeeld dat hulle in 1999 weens kragdiefstal R300 miljoen verloor het. Diewe, wat dikwels onbewus van die gevare is, het al die ongesofistikeerdste gereedskap gebruik, soos motoroorleikabels, huishoudelike verlengingskoorde en koperpype. Ander het ondergronds gegrawe om ’n maatskappy se ondergrondse kragtoevoer te melk.
Nie eers gemis nie?
Onlangs is die verdroogde oorskot van ’n man in ’n woonstel in Helsinki, Finland, gevind. ’n Instandhoudingswerker wat ingegaan het om ’n brandalarmtoestel te installeer, het ’n groot hoop pos en ’n slegte reuk opgemerk. Die polisie wat op sy oproep gereageer het, het gevind dat die 55-jarige pensioentrekker, wat alleen daar gewoon het, al meer as ses jaar dood is. Die koerant Helsingin Sanomat het berig dat die Maatskaplike Versekeringsagentskap al die tyd sy pensioen betaal het en dat die welsynskantoor sy huur betaal het, tog het niemand hom besoek nie. Hy is ook nie deur sy volwasse kinders gemis wat in die hoofstad woon nie. “Ses jaar lank woon ’n man in ’n gemeenskap—nee, nie op ’n woestyneiland nie, maar in ’n stadsgemeenskap—en niemand mis hom genoeg om te wonder waar hierdie persoon is of wat met hom gebeur het nie”, sê mev. Aulikki Kananoja, direktrise van die Departement van Maatskaplike Dienste in Helsinki.