Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 11/8 bl. 19-20
  • Die vroeë lugvaartpioniers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vroeë lugvaartpioniers
  • Ontwaak!—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe het die vliegtuig ontstaan?
    Ontwaak!—1999
  • Die droom om te kan vlieg
    Ontwaak!—1999
  • Waarom ek weer ná my ongeluk gevlieg het
    Ontwaak!—1991
  • Masjienaangedrewe vlug
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 11/8 bl. 19-20

Die vroeë lugvaartpioniers

“As ’n vlieënier het ek die ‘Ontwaak!’ van 8 Maart 1999 terdeë geniet. Ek het egter een vraag. Waarom het julle geen melding van Alberto Santos-Dumont gemaak nie? Hy was een van die eerste lugvaarders.”—C. B., Verenigde State.

DIE Ontwaak! van 8 Maart 1999 se voorbladartikels “Lugvaart—Hoe het dit begin? Hoe veilig is dit?” het ’n kort oorsig van die geskiedenis van lugvaart bevat. Hoewel dit hoofsaaklik die aandag gevestig het op die prestasies van die Amerikaners Wilbur en Orville Wright, was hierdie twee broers nie die enigstes wat naby die eeuwisseling met swaarder-as-lug-vliegmasjiene geëksperimenteer het nie. Kom ons kyk na ’n paar ander lugvaartpioniers.

• Alberto Santos-Dumont is op 20 Julie 1873, in Minas Gerais, Brasilië, gebore. Sy gesin het na Parys verhuis toe hy ’n tiener was. Daar het Santos-Dumont fisika, chemie, meganika en elektrisiteit gestudeer. Sy ambisie was om te vlieg, en tussen 1898 en 1905 het hy 11 lugskepe gebou en gevlieg.

In Oktober 1906 is Santos-Dumont se droom uiteindelik verwesenlik om ’n swaarder-as-lug-vliegmasjien te vlieg. In teenstelling met ander vroeë vliegtuie, wat met ’n katapult gelanseer is, het die vliegtuig van Santos-Dumont, die 14-bis, opgestyg deur van ’n enjin gebruik te maak. Santos-Dumont se 60 meter lange vlug in die 14-bis word as die eerste suksesvolle enjinaangedrewe swaarder-as-lug-vlug in Europa beskou.

In die jare daarna het dit Santos-Dumont bedroef gemaak om te sien hoe die vliegtuig ’n instrument van vernietiging word. Trouens, dit is glo weens sy neerslagtigheid oor die gebruik van vliegtuie in oorlogvoering dat hy in 1932 selfmoord gepleeg het. In elk geval, Santos-Dumont het ’n ereplek in die geskiedenis van lugvaart.

• Gustave Whitehead is op 1 Januarie 1874 in Leutershausen, Duitsland, gebore. As gevolg van sy vurige belangstelling in lugvaart het sy skoolmaats hom die bynaam vlieër gegee. Toe Gustave 13 was, is sy ouers oorlede, en hoewel hy gedurende die daaropvolgende jare van plek tot plek verhuis het, het hy nooit sy belangstelling in die vliegkuns verloor nie. Jong Gustave was ’n rukkie die student van die beroemde Duitse lugvaarder Otto Lilienthal. Toe, in 1894, het hy in die Verenigde State gaan woon.

Soos die Ontwaak! van 8 Maart 1999 gesê het, beweer sommige dat Whitehead in 1901 die wêreld se eerste beheerde, aangedrewe vlug in ’n swaarder-as-lug-vliegmasjien onderneem het. Daar is egter geen foto’s om hierdie bewering te staaf nie. Verbasend genoeg het die pers nie so gou besef wat die impak van die vroeë baanbrekerswerk op die gebied van lugvaart was nie, selfs nie eers toe die Wright-broers hulle vlug onderneem het nie. Trouens, volgens die tydskrif Air Enthusiast “was dit eers in 1910 dat die publiek werklik in hierdie ‘nuwe tegnologie’ begin belangstel het en mense begin aanvaar het dat dit vir mense moontlik is om te vlieg”.

• Samuel Pierpont Langley, ’n sekretaris van die Smithsonian-instituut, in Washington, DC, was ’n sterrekundige en ’n fisikus. In 1896 het hy ’n stoomaangedrewe vliegtuig gebou wat ’n onbemande vlug van 1,2 kilometer afgelê het voordat die brandstof opgeraak het.

Stoomenjins is natuurlik baie swaar, en daar is gevind dat dit uiters onprakties vir lugvaart is. Langley se assistent, Charles M. Manly, het dus ’n 53 perdekragenjin wat 57 kilogram geweeg het, ontwerp wat meer geskik was. Die resultaat was ’n baie doeltreffender vliegtuig, wat Langley die Aerodrome genoem het. Op 7 Oktober 1903 was Manly aan die stuur toe Langley se vliegtuig met ’n katapult van ’n vragboot af gelanseer is. Dit het toe in die Potomacrivier gestort. ’n Daaropvolgende poging twee maande later was net so onsuksesvol. Langley was ontnugter en het sy projek laat vaar.

Ten spyte van sy mislukkings het Langley belangrike werk op die gebied van lugvaart gedoen. In 1914, agt jaar ná sy dood, is verskeie veranderinge aan die Aerodrome aangebring, en Glenn H. Curtiss het dit in Hammondsport, New York, suksesvol gevlieg.

Dit is net ’n paar van die talle individue wat aan die begin van die 20ste eeu baanbrekerswerk op die gebied van lugvaart gedoen het. Vandag deurkruis honderdduisende vliegtuie van verskillende groottes die hemele. Hulle almal het hulle bestaan—en party van hulle suksesse—aan die vroeë lugvaartpioniers te danke.

[Prente op bladsy 19]

Alberto Santos-Dumont en sy vliegtuig die “14-bis”

[Erkennings]

Culver Pictures

North Wind Picture Archives

[Prente op bladsy 20]

Gustave Whitehead en ’n replika van sy swaarder-as-lug-vliegmasjien

[Erkenning]

Flughistorische Forschungsgemeinschaft Gustav Weisskopf

[Prente op bladsy 20]

Samuel P. Langley en sy “Aerodrome”

[Erkennings]

Dictionary of American Portraits/Dover

U.S. National Archives photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel