’n Verpletterende nederlaag vir Xerxes
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND
REISIGERS word gefassineer deur die warm bronne en die geisers wat swaeldampe uitblaas. Hulle is dalk verbaas om uit te vind dat die kusvlakte—wat hier bekend staan as Termopulai, wat “warm poorte” beteken—vroeër ’n byna onbegaanbare landstrook was. Maar dit fassineer hulle dalk selfs meer om uit te vind dat hulle hier, sowel as verder suid by die eiland Salamis, tasbare bewyse kan kry van die merkwaardige akkuraatheid van Bybelprofesieë.
Trouens, wanneer ’n mens na die geskiedenis kyk in die lig van die vervulling van sekere profesieë in die Bybelboek Daniël wat op hierdie gebiede betrekking het, is die besonderhede van hierdie profesieë eenvoudig verstommend. Hulle voorsien oortuigende bewys dat die Bybel die Woord van God is. Ons het ’n treffende voorbeeld hiervan in Daniël hoofstuk 11. Daniël het die profetiese inligting omstreeks 538 v.G.J. “in die eerste jaar van Darius, die Meder,” ontvang (Daniël 11:1). Maar die vervulling van wat toe geopenbaar is, het oor baie eeue gestrek.
Daniël 11:2 het die volgende oor ’n sekere Persiese koning voorspel: “Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland.”
‘Die vierde koning’ wat Kores II, Kambuses II en Darius I opgevolg het, was in werklikheid Xerxes I, klaarblyklik die Ahasveros wat in die Bybelboek Ester genoem word. Het hy werklik “alles in beweging [gebring] teen die koninkryk van Griekeland”, en wat was die gevolg daarvan?
Xerxes—’n vasbeslote veroweraar
Xerxes moes die gevolge dra van die nederlaag wat sy vader, Darius, se leër by Maraton gely het.a Gevolglik het Xerxes gedurende die eerste paar jaar van sy heerskappy opstande in die ryk onderdruk, en hy het ook ‘sterk geword in sy rykdom’.
Xerxes het egter bly dink oor die verowering van Griekeland, ’n veldslag wat hy op aandrang van sy ambisieuse howelinge besluit het om te onderneem. Hy het dus van 484 v.G.J. af drie jaar daaraan gewy om uit al die satrapieë en state onder Persiese beheer ’n leër saam te stel wat volgens berig een van die grootste leërs was wat nog bestaan het. Volgens die Griekse geskiedskrywer Herodotus was Xerxes se gekombineerde leër en vloot ’n ongelooflike 2 641 610 man sterk.b
Intussen het die Grieke hulle op hulle eie manier begin voorberei. Hoewel hulle ’n seevarende volk was, het hulle nie juis ’n sterk vloot gehad nie. Maar nou, in reaksie op die dreigende Persiese aanval en ’n orakel van Delfi wat hulle aangesê het om hulleself met behulp van “houtmure” te verdedig, het Atene ’n strydbare vloot begin opbou.
Die staatsmyne van Lourion was ryk aan silwererts, en Temistokles, ’n vername Ateense politikus, het die Raad oorreed om al die winste daaruit te gebruik om ’n vloot van 200 trireme te bou. Nadat hulle aanvanklik besluiteloos was, het Sparta die voortou geneem in die stigting van die Helleense Bond, wat uit sowat 30 Griekse stadstate bestaan het.
Xerxes het intussen sy aggressiewe, vernietigende leër na Europa laat optrek—glad nie ’n maklike taak nie. Die stede op die roete moes voedsel voorsien sodat die hele leër teen ’n koste van 400 talente goud per dag maar net een maaltyd kon eet. Maande voor die tyd is boodskappers vooruit gestuur om graan, beeste en pluimvee vir die koninklike tafel gereed te kry. Net Xerxes het ’n tent gehad; die res van die leër het buite geslaap.
Die reuseleër moes eers die Hellespont (wat nou die Dardanelle genoem word) oorsteek, ’n nou seestraat wat Asië van Europa skei. Nadat die eerste bootbrug tydens ’n storm vernietig is, het Xerxes—waansinnig van woede—beveel dat die water van die Hellespont 300 keer met ’n kats geslaan moet word, asook gebrandmerk en geboei moet word. Hy het ook die ingenieurs laat onthoof. Toe nog twee brûe van bote oor die Hellespont gebou is, het dit die leër ’n hele week geneem om dit oor te steek.
Termopulai—’n Smal landstrook wat ’n hoë tol eis
Omstreeks die middel van 480 v.G.J. het die keiserlike Persiese leër, vergesel van die vloot, met die kus van Tessalië langs getrek. Die Griekse bondgenote het uiteindelik besluit om stelling in te neem by Termopulai, ’n smal landstrook waar die steil kranse van die vasteland se berge tot binne 15 meter van die strand gekom het.c
Die Perse sou hierdie landstrook in so ’n smal formasie moes oorsteek dat ’n afdeling dapper soldate hulle sou kon stuit. ’n Voorhoede van 7 000 Grieke onder leiding van koning Leonidas van Sparta het stelling ingeneem by die seestrate naby Termopulai. Intussen het die Griekse vloot, 270 oorlogskepe, naby die kus van Artemision gelê en kat en muis gespeel met die Persiese vloot.
Xerxes het vroeg in Augustus by Termopulai aangekom, vol vertroue dat die blote grootte van sy leër die Grieke op die vlug sou jaag. Toe die Grieke nie terugval nie, het hy die Meders en die Sissiane gestuur om met hulle klaar te speel; maar hierdie soldate het swaar verliese gely, en die Onsterflikes (’n spesiale taakmag), wat Xerxes onder leiding van die satraap Hudarnes gestuur het, het nie juis beter gevaar nie.
Efialtes, ’n nagmerrie
Net toe dit lyk of die Perse gestuit is, het Efialtes (Grieks vir “nagmerrie”), ’n gierige Tessaliese boer, aangebied om hulle oor die heuwels te lei, na die agterhoede van die Griekse leër. Die volgende oggend het die Perse nader gegaan om die Grieke van agter af aan te val. Toe die Spartane besef dat hulle aan die verloorkant is, het hulle hulleself met mening verdedig; baie van hulle aanvallers, wat met swepe aangejaag is, is doodgetrap of die see in gedwing. Koning Leonidas en al die manskappe saam met hom, ongeveer 1 000 van hulle, is uiteindelik doodgemaak. Hudarnes het die agterhoede van die Spartane verslaan.
Die Persiese leër tesame met die oorlewendes van die Persiese vloot het die Ateners op die vlug gedryf. Xerxes het Attika binnegemars en alles op sy pad geplunder en verbrand. Die Ateners het na die nabygeleë eiland Salamis gevlug. Die Griekse vloot het tussen Atene en Salamis gebly. Dit het twee weke geneem voordat die stad Atene geval het. Al die verdedigers is doodgemaak, en die heiligdomme is vernietig, verbrand en geplunder.
Salamis—oorwinning deur middel van “houtmure”
Griekse oorlogskepe het alreeds ’n hele paar keer naby Termopulai teen die Persiese vloot geveg in hewige maar onbesliste gevegte. Ná hulle aftog op land het die Griekse vloot na die suide teruggetrek. Hulle het toe weer in die baai van Salamis byeengekom, waar Temistokles ’n krygsplan begin uitwerk het.
Hy het geweet dat die 300 Fenisiese oorlogskepe wat die kern van die Persiese vloot uitgemaak het groter en tog beweegliker was as die kleiner, sterker Griekse trireme. Die Persiese vloot het uit sowat 1 200 vaartuie bestaan, in vergelyking met die 380 in die Griekse mag. En die Griekse matrose was nie so ervare soos die matrose op die Persiese oorlogskepe nie. Maar die kanaal tussen Salamis en die kus van Attika was nou, net wyd genoeg sodat 50 skepe langs mekaar kon vaar. As die Grieke die Perse in hierdie natuurlike tregter kon inlok, sou die Perse nie meer uit hulle getalle en beweeglikheid kon voordeel trek nie. Temistokles het glo die geveg aan die gang gesit deur ’n misleidende boodskap aan Xerxes te stuur wat gesê het dat hy moet aanval voordat die Griekse vloot kans het om te vlug.
En so het dit gebeur. Die Persiese vloot, elke oorlogskip in volle slagorde met sy rye roeiers en troepe gewapen met spiese en boë, het om die punt van Attika en in die rigting van die kanaal gevaar. Xerxes, wat seker was dat hy die oorwinning sou behaal, het sy troon op ’n berg laat plaas vanwaar hy die geveg op sy gemak kon volg.
’n Verpletterende nederlaag
Groot verwarring het geheers toe die Perse almal saam in die nou kanaal ingevaar het. Skielik is ’n trompet van die hoogtes van die eiland Salamis af geblaas, en die Griekse vaartuie het in ordelike rye vorentoe gebeur. Die trireme het met ’n geweldige slag teen die Persiese vaartuie vasgevaar, sodat die rompe van die Persiese skepe verpletter is. Griekse soldate het met hulle swaarde op die erg beskadigde skepe van die vyand gespring.
Stukke hout asook lyke en ledemate het oral op die strande van Attika se kuslyn gelê. Die nadraai van hierdie katastrofe was dat Xerxes besluit het om met sy oorblywende skepe terug te vaar huis toe. Dit was die einde van sy krygstog vir daardie jaar. Maar hy het ’n redelike groot leër onder bevel van sy swaer Mardonios laat agterbly om daar te oorwinter.
Vir ywerige Bybelstudente was die nederlaag by Salamis, lank voor die tyd, ’n aanduiding dat die Griekse “bokram” van Daniël se profesie die oorhand oor die “ram met die twee horings” van Medo-Persië sou kry (Daniël 8:5-8). Maar van groter belang is die feit dat Bybelprofesieë God se knegte verseker dat die mens se vergeefse stryd om oorheersing uiteindelik deur die heerskappy van die Koning Jesus Christus beëindig gaan word.—Jesaja 9:5; Daniël 2:44.
[Voetnote]
a Sien “Die slag van Maraton—die vernedering van ’n wêreldmoondheid”, in die Ontwaak! van 8 Mei 1995, vir meer besonderhede.
b Soos die geval is met soveel veldslae van die ou tyd, word die grootte van die Persiese leër in twyfel getrek. Die geskiedskrywer Will Durant haal Herodotus se skatting aan, terwyl ander naslaanwerke getalle gee wat wissel tussen 250 000 en 400 000 manskappe.
c Alluviale afsettings het die kuslyn verander sodat dit vandag ’n breë, moerasagtige vlakte is wat tussen 2,4 en 4,8 kilometer breed is.
[Venster/Prent op bladsy 25]
Die trireem—’n uiters gevaarlike vaartuig
Die trireem, ’n vaartbelynde vaartuig wat onder seil na sy bestemming gevaar het, maar tydens ’n seeslag deur roeiers gestuur is, was in die vyfde eeu v.G.J. die krag agter die oorheersing van die Ateense vloot in die Egeïese See. Op elke galei was daar ’n klein afdeling soldate. Hulle doelwit was egter nie soseer om aan boord van vyandelike skepe te gaan nie, maar eerder om hulle buite aksie te stel met die ysterpunte van die trireem se stormram wat met behulp van 170 roeiers op sy teiken afgepyl het.
[Erkenning]
Hellenic Maritime Museum/Photo: P. Stolis
[Kaart op bladsy 26, 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
XERXES SE LEËR
HELLESPONT
TESSALIË
ARTEMISION
TERMOPULAI
ATTIKA
ATENE
MARATON
LOURION
SALAMIS
SPARTA
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.