Die Russiese pers prys Jehovah se Getuies
DIE Russiese takfasiliteite van Jehovah se Getuies is op 21 Junie 1997 toegewy. Die kompleks sluit sewe woongeboue, ’n groot Koninkryksaal, ’n eetsaal en ’n groot gebou vir kantore en stoorplek in. Dit is omtrent 40 kilometer noordwes van St. Petersburg geleë, in die dorpie Solnetsjnoje.
Joernaliste wat na die toewydingsprogram genooi is, het groot publisiteit daaraan gegee. Een van hulle het in Moskou se Literaturnaya gazeta, ’n tydskrif met ’n sirkulasie van meer as ’n kwartmiljoen, geskryf: “Wanneer ’n mens dit sien, is jou eerste indruk: Dís nou hoe dit gedoen moet word!”—Sien prente op bladsye 16 en 17.
Die skrywer, Sergey Sergijenko, het verduidelik: “Alles hier is deur gelowiges self gedoen: Die konstruksiewerk is hoofsaaklik deur Finne, Swede, Dene, Noorweërs en Duitsers gedoen. Mooi geplaveide paaie; netjiese grasperke; geboue met pragtige teëldakke, groot vensters en glasdeure—dít is die administratiewe sentrum van die Russiese streekgodsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies.”
Joernaliste van Moskou, meer as 650 kilometer suidoos van die takkantoor, is na die toewyding genooi en van vervoer voorsien. Hulle is op ’n toer van die fasiliteite begelei, waarna daar ’n vraag-en-antwoord-sessie gehou en verversings bedien is. Mnr. Sergijenko het die volgende geskryf, na aanleiding van wat hy gesien het:
“Die Getuies is, soos die gesegde lui, beskeie en ingetoë . . . Om ’n bekende Russiese gesegde anders te bewoord: ‘Die Getuies lewe in [hulle huis] asof hulle in Jehovah se boesem is.’ . . . Hoewel die Getuies altyd vriendelik teenoor alle mense is, toon hulle natuurlik veral besorgdheid teenoor hulle broers.”
’n Berig wat deur S. Dmitrijef geskryf is, het in die Moskovskaya Pravda, ’n dagblad met ’n sirkulasie van byna 400 000, verskyn. In sy artikel met die titel “Jy kan slegs met jou eie hande jou wêreld bou”, het die skrywer verduidelik:
“Nadat die godsdiensorganisasie van die Getuies [in 1991] wettige erkenning in Rusland verkry het, het die oprigting van hulle eie hoofkwartier ter sprake gekom. Hulle was op soek na ’n plek naby Moskou toe hulle die onverwagse nuus hoor dat die gebied van ’n voormalige jeugkamp naby St. Pete[rsburg] te koop is. Die grond is gekoop, en hulle het begin bou. . . .
“’n Jaar en ’n half gelede, op 1 Januarie 1996, het die sentrum in die dorpie Solnetsjnoje die amptelike takkantoor van die godsdiensorganisasie geword. In die middel van Junie het ’n groep joernaliste van Moskou ’n ruk in St. Pete[rsburg] deurgebring en dus die geleentheid gehad om te probeer vasstel: Wie is hierdie Jehovah se Getuies?”
Wat was mnr. Dmitrijef se antwoord? “Hulle is doodgewone mense.” En tog is hulle anders, soos hy in die slot van sy artikel gesê het: “Daar heers vrede onder hulle, vrede oral oor. Is dit ’n droom? Ja. En tog bestaan dit.”
Nog ’n Moskouse joernalis, Maksim Jerofejef, wat skryf vir Sobesednik, ’n koerant met ’n sirkulasie van meer as 300 000, het gesê: “Alle verhoudings in hierdie gemeenskappie is op die volgende beginsel gebaseer: Niemand word gedwing om te werk nie, maar almal werk.”
Nadat mnr. Jerofejef die woonkwartier beskryf het van die takkomitee-koördineerder, Wasili Kalin, het hy gesê: “Ons wantrouige joernaliste-kollegas wou ’n paar ander kamers van hulle eie keuse besoek. Die grootte van die ander inwoners se kwartiere en die manier waarop dit gemeubileer is, het nie juis veel van Wasili Kalin se beskeie kamer verskil nie.”
’n Ander verslaggeefster, Anastasija Nemets, het die artikel “Om met innerlike vrede te leef” geskryf. Die onderhofie van daardie titel in Vechernyaya Moskva was: “Dít is wat mense in ’n buitengewone dorpie buite St. Pete[rsburg] leer.”
Sy het die buurt en voorkoms van die takfasiliteite soos volg beskryf: “Daar is woude en weivelde reg rondom. Die Finse Golf is nie ver daarvandaan nie. Daar is netjiese huisies wat in die Europese styl gebou is, skoon paaie wat met stene geplavei is en kleurryke blombeddings.
“Handelsmaatskappye bou sulke ministede vir die ‘nuwe Russe’. Maar mense wat maar oor beperkte middele beskik, woon in hierdie dorpie . . . Hulle leef gemaklik, en die belangrikste is dat hulle as vriende saamlewe. Net omtrent 350 mense woon hier, van al vier uithoeke van die aarde; ’n mens kan hoor hoedat verskillende tale gepraat word—van Spaans en Portugees tot Fins en Sweeds.
“Dit is in wese ’n geslote mikrokosmos: Die dorpie het sy eie fabriek en herstelwinkels waar enigiets wat daardie groot veeltalige gesin benodig, herstel kan word; hulle het selfs hulle eie kliniek.”
Die toewyding was waarlik ’n vreugdevolle geleentheid vir die 1492 uit 42 lande wat dit in Solnetsjnoje bygewoon het. Baie van die aanwesiges was ouer persone wat dekades lank gedien het toe die predikingswerk verbied was. Kan jy jou die volslae verbasing en vreugde van hierdie oues van dae voorstel terwyl hulle die pragtige fasiliteite besigtig het wat in dié parkagtige omgewing van 6,9 hektaar geleë is? Dit is heeltemal te verstane dat hulle kon dink hulle droom.
[Prente op bladsy 18]
Joernaliste besigtig die takfasiliteite
Vraag-en-antwoord-sessie