Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 1/22 bl. 4-8
  • Leer om afskeid te neem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer om afskeid te neem
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Leer kinders om verantwoordelik te wees
  • Liefdevolle teregwysing
  • Opvoeding vir die lewe
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 1/22 bl. 4-8

Leer om afskeid te neem

“SOOS pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug”, het die Bybelpsalmis geskryf (Psalm 127:4). ’n Pyl tref nie sy teiken per ongeluk nie. Dit moet sorgvuldig gerig word. Net so sal kinders dalk nie die doelwit om verantwoordelike volwassenes te wees sonder ouerlike leiding bereik nie. “Oefen die seun volgens die eis van sy weg”, maan die Bybel, en “dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”—Spreuke 22:6.

Die oorgang van afhanklikheid in die kinderjare na onafhanklikheid in volwassenheid kan nie oornag plaasvind nie. Wanneer moet ouers dan hulle kinders begin oplei om onafhanklik te wees? Die apostel Paulus het ’n jong man met die naam Timoteus hieraan herinner: ‘Van kleintyd af het jy die heilige geskrifte geken, wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus’ (2 Timoteus 3:15). Stel jou voor, Timoteus se moeder het hom geestelike opleiding begin gee toe hy nog ’n kleuter was!

As klein kindertjies dus by geestelike opleiding baat kan vind, is dit nie net redelik dat kinders so gou moontlik opleiding vir die volwasse lewe moet ontvang nie? Een manier om dit te doen, is om hulle te leer om verantwoordelik te wees, om hulle eie besluite te neem.

Leer kinders om verantwoordelik te wees

Hoe kan jy jou kinders aanmoedig om verantwoordelik te wees? ’n Egpaar, genaamd Jack en Nora, vertel aangaande hulle dogter: “Toe sy nog skaars kon loop, het sy geleer om sokkies of klein dingetjies na haar kamer te dra en dit in die regte laai weg te pak. Sy het ook geleer om speelgoed en boeke op hulle plek te bêre.” Dit is ’n klein begin, maar die kind het reeds begin leer om verantwoordelike besluite te neem.

Namate ’n kind ouer word, kan hy of sy miskien ietwat groter verantwoordelikhede toevertrou word. Abra en Anita het dus hulle dogter toegelaat om ’n hond as troeteldier te hê. Die kleintjie was verantwoordelik vir die hond se versorging en het selfs van haar eie sakgeld gegee vir sy onderhoud. Dit verg geduld om kinders op te lei om hulle verantwoordelikhede na te kom. Maar dit is die moeite werd en dra by tot hulle emosionele groei.

Huishoudelike take bied nog ’n geleentheid om kinders verantwoordelikheid te leer. Party ouers gee hulle kinders feitlik geen gesinsverpligtinge nie omdat hulle hulle betrokkenheid as ’n las eerder as ’n hulp beskou. Ander meen weer dat hulle kinders ‘beter daaraan toe moet wees as wat húlle as kinders was’. Dit is ’n foutiewe redenasie. Die Skrif sê: “As ’n mens sy slaaf van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar” (Spreuke 29:21). Die beginsel van hierdie teks is beslis op kinders van toepassing. Dit is hartseer wanneer ’n jongmens volwassenheid betree en nie net “ondankbaar” is nie, maar ook nie eers die eenvoudigste huishoudelike take kan verrig nie.

In Bybeltye was dit algemeen vir jongmense om huishoudelike take te kry om te doen. Die jong Josef moes byvoorbeeld op die jeugdige ouderdom van 17 help om die gesin se kuddes te versorg (Genesis 37:2). Dit was glad nie ’n maklike taak nie, want sy vader se kuddes was baie groot (Genesis 32:13-15). In die lig van die feit dat Josef as volwassene ’n magtige leier geword het, is dit nie moeilik om te glo dat sy vroeë opleiding grootliks daartoe bygedra het om sy karakter op ’n positiewe manier te vorm nie. Dawid, Israel se toekomstige koning, moes eweneens as ’n jeugdige sy gesin se kuddes versorg.—1 Samuel 16:11.

Wat is die les vir ouers vandag? Gee julle kinders sinvolle huishoudelike take om te doen. Met tyd, inspanning en geduld kan jy jou kinders leer om te help met skoonmaak, kook, tuinwerk asook huis- en voertuigherstelwerk. Baie hang natuurlik af van die kind se ouderdom en vermoë. Maar selfs klein kindertjies kan gewoonlik ’n aandeel daaraan hê om ‘Pappa te help om die kar reg te maak’ of om ‘Mamma te help om kos te kook’.

Om kinders huishoudelike takies te leer verrig, vereis ook dat ouers hulle kinders ’n baie kosbare geskenk gee—hulle tyd. ’n Egpaar, die ouers van twee kinders, is gevra wat die geheim van suksesvolle kinderopvoeding is. Hulle het geantwoord: “Tyd, tyd, tyd!”

Liefdevolle teregwysing

Wanneer kinders hulle take goed doen of ten minste probeer om dit goed te doen, moet jy hulle aanmoedig met oorvloedige en opregte lof! (Vergelyk Matteus 25:21.) Kinders kan natuurlik selde ’n taak so bedrewe soos ’n volwassene verrig. En wanneer kinders toegelaat word om hulle eie besluite te neem, sal hulle dikwels foute maak. Maar moenie oorreageer nie! Het jy nie as ’n volwassene self al baie foute gemaak nie? Waarom probeer jy dus nie om geduldig te wees wanneer jou kind ’n fout maak nie? (Vergelyk Psalm 103:13.) Laat ruimte vir foute. Beskou dit as ’n deel van die leerproses.

Die skrywers Michael Schulman en Eva Mekler sê die volgende: “Kinders wat vriendelik behandel word, is nie bang dat hulle gestraf sal word as hulle onafhanklik optree nie.” Maar “kinders met kil of kwaai ouers is bang vir feitlik enige soort spontane optrede, dié van ’n voordelige aard ingesluit, omdat hulle bang is dat hulle ouers die een of ander fout sal vind in wat hulle gedoen het en hulle sal kritiseer of straf”. Hierdie opmerking kom ooreen met die Bybel se vermaning aan ouers: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). Wanneer ’n kind se poging dus nie aan die verwagtinge voldoen nie, waarom prys jy hom nie omdat hy ten minste probeer het nie? Moedig hom aan om volgende keer beter te doen. Laat hom besef dat sy vordering vir jou ’n bron van vreugde is. Verseker hom van jou liefde.

Soms is teregwysing natuurlik nodig. Dit is dalk veral waar tydens adolessensie wanneer jongmense gewikkel is in ’n stryd om hulle eie identiteit te bevestig, om as individue uit eie reg aanvaar te word. Dit sal dus goed wees as ouers sulke pogings om onafhanklikheid te verwerf met begrip beskou pleks van dit altyd as opstandigheid te vertolk.

Jongmense is weliswaar geneig om impulsief op te tree of om toe te gee aan “die begeertes wat eie is aan die jeug” (2 Timoteus 2:22). Daarom kan ’n versuim om perke aan jeugdige gedrag te stel ’n kind emosioneel benadeel; hy sal nie selfbeheersing en selfdissipline aanleer nie. Die Bybel waarsku: “’n Seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande” (Spreuke 29:15). Maar gepaste dissipline wat op liefdevolle wyse uitgeoefen word, is nuttig en berei ’n jongmens voor vir die eise en druk van volwassenheid. Die Bybel maan: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging” (Spreuke 13:24). Maar onthou dat die kern van dissipline onderrigting en opleiding is—nie straf nie. Die “roede” verwys hier waarskynlik na die staf wat deur herders gebruik is om hulle kuddes te lei (Psalm 23:4). Dit is ’n simbool van liefdevolle leiding—nie ongevoelige wreedheid nie.

Opvoeding vir die lewe

Ouerlike leiding is veral nodig wat ’n kind se opvoeding betref. Toon belangstelling in jou kind se opvoeding. Help hom om gepaste skoolvakke te kies en om ’n verantwoordelike besluit te neem oor die nodigheid van aanvullende opleiding.a

Die allerbelangrikste opvoeding is natuurlik ’n geestelike opvoeding (Jesaja 54:13). Kinders sal godvrugtige waardes nodig hê om opgewasse te wees teen die grootmenswêreld. Hulle “waarnemingsvermoëns” moet geoefen word (Hebreërs 5:14). Ouers kan hulle in hierdie verband baie help. Gesinne onder Jehovah se Getuies word aangemoedig om ’n gereelde Bybelstudie met hulle kinders te hê. Net soos Timoteus se moeder, wat hom die Skrif van kleins af geleer het, leer Getuie-ouers ook hulle klein kindertjies.

Barbara, ’n enkelouer, maak die gesinsbybelstudie ’n baie aangename ondervinding vir haar kinders. “Daardie aand sorg ek dat ek ’n lekker ete aan die kinders voorsit, afgerond met ’n nagereg wat hulle geniet. Ek speel die bandopnames van die Kingdom Melodies om die regte atmosfeer te skep. Dan, nadat ons met gebed geopen het, studeer ons gewoonlik Die Wagtoring. Maar as daar enige spesifieke behoefte is, kan ek publikasies soos Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gebruik.”b Volgens Barbara help die Bybelstudie haar kinders om “Jehovah se beskouing van sake te verkry”.

Ja, geen groter geskenk kan aan kinders gegee word as kennis en begrip van God se Woord, die Bybel, nie. Dit kan “aan die eenvoudiges skranderheid . . . gee, aan die jongeling kennis en oorleg” (Spreuke 1:4). As ’n jong persoon só gewapen is, kan hy volwassenheid betree met die vermoë om nuwe druk en situasies die hoof te bied.

Maar dit bring nietemin groot veranderinge in die lewenstyl van die meeste ouers mee wanneer kinders die huis verlaat. Hoe hulle die uitdaging van die leë nes met sukses die hoof kan bied, word in ons volgende artikel bespreek.

[Voetnote]

a Sien die reeks “Ouers—Julle het ook huiswerk!” in die Ontwaak! van 8 September 1988.

b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Lokteks op bladsy 6]

“Kinders met kil of kwaai ouers is bang vir feitlik enige soort spontane optrede, dié van ’n voordelige aard ingesluit, omdat hulle bang is dat hulle ouers die een of ander fout sal vind in wat hulle gedoen het en hulle sal kritiseer of straf.”—Bringing Up a Moral Child, deur Michael Schulman en Eva Mekler

[Venster op bladsy 6]

Enkelouers—Die uitdaging om afskeid te neem

Rebecca, ’n enkelouer, merk op: “Dit is baie moeilik vir enkelouers om van hulle kinders afskeid te neem. As ons nie versigtig is nie, is ons geneig om oorbeskermend te wees en hulle met sorg te oorweldig.” Die boek Die geheim van gesinsgeluk,c bladsye 106-7, verskaf hierdie nuttige inligting:

“Dit is natuurlik dat enkelouers baie na aan hulle kinders is, maar hulle moet versigtig wees dat die godgegewe grense tussen ouers en kinders nie tot niet gaan nie. Ernstige probleme kan byvoorbeeld ontstaan as ’n enkelmoeder van haar seun verwag om die verantwoordelikhede van die man van die huis na te kom of haar dogter as ’n vertroueling behandel en haar met intieme probleme belas. Dit is onvanpas om dit te doen en is vir ’n kind spanningsvol en moontlik verwarrend.

“Verseker jou kinders dat jy, as die ouer, vir hulle sal sorg—nie andersom nie. (Vergelyk 2 Korintiërs 12:14.) Jy het dalk soms raad of ondersteuning nodig. Raadpleeg Christen- ouer manne of miskien ervare Christenvroue, maar nie jou minderjarige kinders nie.—Titus 2:3.”

Wanneer enkelouers behoorlike grense vasstel en ’n gesonde verhouding met hulle kinders behou, is dit gewoonlik vir hulle makliker om afskeid te neem.

[Voetnoot]

c Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prente op bladsy 7]

Praktiese opleiding kan kinders help om verantwoordeliker volwassenes te word

[Prente op bladsy 8]

’n Gesinsbybelstudie kan kinders die nodige wysheid gee om opgewasse te wees teen die lewe as volwassene

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel