Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 4/8 bl. 11-15
  • Seksuele uitbuiting van kinders—’n wêreldwye probleem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Seksuele uitbuiting van kinders—’n wêreldwye probleem
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van die oorsake
  • Wie is hulle?
  • Godsdiens se betrokkenheid
  • Wat kan gedoen word?
  • Die enigste oplossing
  • Wie sal ons kinders beskerm?
    Ontwaak!—1999
  • ’n Wêreldwye krisis
    Ontwaak!—1999
  • Waarom ’n groeiende probleem?
    Ontwaak!—2003
  • Voorkom molestering by die huis
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 4/8 bl. 11-15

Seksuele uitbuiting van kinders—’n wêreldwye probleem

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWEDE

Die mensegemeenskap word geskud deur ’n skokkende vorm van kindermishandeling waarvan die omvang en aard tot onlangse jare nie algemeen bekend was nie. Verteenwoordigers van 130 lande het in Stockholm, Swede, by die eerste Wêreldkongres teen Kommersiële Seksuele Uitbuiting van Kinders bymekaargekom om te kyk wat daaromtrent gedoen kan word. ’n Ontwaak!-medewerker in Swede was ook daar.

TOE Magdalen 14 was, is sy oorgehaal om as ’n “gasvrou” in ’n bierhuis in Manila, die Filippyne, te gaan werk. Haar werk het in werklikheid behels dat sy manlike klante na ’n kamertjie neem en haar liggaam ontbloot vir hulle seksuele uitbuiting—gemiddeld 15 mans per aand en 30 op ’n Saterdag. Soms, wanneer sy gesê het dat sy dit nie meer kon verduur nie, het haar bestuurder haar gedwing om voort te gaan. Sy het dikwels vieruur in die oggend opgehou werk en moeg, terneergedruk en ellendig gevoel.

Sareoun was ’n jong, wees straatkind in Phnom Penh, Kambodja. Hy het sifilis gehad en was daarvoor bekend dat hy met buitelanders ‘uitgegaan’ het. Hy is blyplek gegee in ’n pagode, waar hy deur ’n gewese monnik ‘versorg’ sou word. Hierdie man het hom egter seksueel gemolesteer en hom beskikbaar gestel vir seks met buitelanders. Toe Sareoun se blyplek in die pagode afgebreek is, het hy by sy tante gaan woon, maar hy moes nog steeds op straat ’n bestaan maak.

Dít is maar net twee voorbeelde van die verskriklike probleem wat teen die einde van verlede jaar by die Wêreldkongres teen Kommersiële Seksuele Uitbuiting van Kinders aangespreek is. Hoe algemeen is hierdie gebruik? Honderdduisende—trouens, sommige sê miljoene—kinders is daarby betrokke. Een afgevaardigde het die probleem soos volg opgesom: “Kinders word as seksuele en ekonomiese verbruiksartikels gekoop en verkoop. Hulle word binne en buite landsgrense soos smokkelware verhandel, in bordele gevange gehou en gedwing om aan die wense van groot getalle seksuitbuiters toe te gee.”

In sy openingsrede aan die byeenkoms het Swede se Eerste Minister, Göran Persson, hierdie uitbuiting as “die wreedste, die barbaarsste en walglikste soort misdaad” bestempel. ’n Verteenwoordiger van die Verenigde Nasies het gesê dit “is ’n aanval op kinders van alle kante af . . . , is absoluut afskuwelik en is die veragtelikste skending van menseregte denkbaar”. Talle soortgelyke uitdrukkings van woede oor die seksuele uitbuiting van kinders is gedurende die kongres vanaf die podium gehoor terwyl die omvang, aard, oorsake en gevolge daarvan bespreek is.

“Die omvang daarvan is so groot dat dit oor landsgrense strek, die gevolge daarvan oor geslagte”, het een bron dit gestel. ’n Ander het gesê: “’n Geraamde 1 miljoen kinders betree glo elke jaar die multimiljoen-dollar onwettige seksmark.” Met watter gevolg? “Kinders se gevoel van waardigheid, identiteit en eiewaarde word ondermyn en hulle vermoë om te vertrou, word afgestomp. Hulle fisiese en emosionele gesondheid word in gevaar gestel, hulle regte geskend en hulle toekoms op die spel geplaas.”

Van die oorsake

Wat is van die oorsake van die geweldige toename in hierdie probleem? Daar is gesê dat sommige kinders “deur omstandighede tot prostitusie gedwing [word], as ’n manier om op straat te oorleef, hulle gesin te help onderhou of om vir klere en goedere te betaal. Ander word deur die stortvloed verbruikersbeelde in die advertensiewese verlei.” Ander weer word ontvoer en gedwing om prostitute te wees. Sedelike waardes wat oral vinnig agteruitgaan, sowel as die algemene gevoel van wanhoop, is van die oorsake wat genoem is.

Baie meisies en seuns raak by die sekshandel betrokke as gevolg van gesinsgeweld—mishandeling en bloedskande by die huis dwing hulle straat toe. Daar loop hulle gevaar om deur pedofiele en ander, selfs, so wil dit voorkom, deur sommige polisiemanne misbruik te word. ’n Berig oor die probleem met die titel Kids for Hire vertel van die sesjarige Katia, in Brasilië. Toe sy deur ’n polisieman gevang is, het hy haar gedwing om onwelvoeglike dade te pleeg en het gedreig om haar gesin dood te maak as sy sy hoof daarvan vertel. Die volgende dag het hy teruggekom met vyf ander mans, wat almal wou hê dat sy dieselfde seksuele diens aan hulle moes lewer.

Die Kinders se Ombudsman, ’n Sweedse instelling, het aan die afgevaardigdes gesê: “Wanneer studies gedoen word oor die oorsake van kinderprostitusie, bestaan daar geen twyfel dat [seks]toerisme een van die vernaamste oorsake is nie.” ’n Verslag het gesê: “Die ongelooflike toename in kinderprostitusie oor die afgelope tien jaar word direk deur die toeristebedryf veroorsaak. Kinderprostitusie is die nuutste toeriste-aantreklikheid wat deur ontwikkelende lande aangebied word.” “Sekstoere” vanaf Europa, die Verenigde State, Japan en ander plekke skep ’n groot vraag na kinderprostitute regoor die wêreld. ’n Europese lugredery het ’n tekenprent van ’n kind in ’n seksueel eksplisiete houding gebruik om sekstoere te verkoop. Reisagentskappe reël elke jaar sekstoere vir duisende mense.

Internasionale bevordering van die kinderseksbedryf deur middel van nuwe tegnologie is ook op die lang lys oorsake. Die Internet, tesame met ander verwante rekenaartegnologie, is na bewering die grootste enkele bron van pornografie. Goedkoop videotoerusting het eweneens die vervaardiging van kinderpornografie vergemaklik.

Wie is hulle?

Baie van die volwassenes wat kinders misbruik, is pedofiele. ’n Pedofiel het ’n perverse seksuele aangetrokkenheid tot kinders. Volgens die Kinders se Ombudsman van Swede “is hulle nie noodwendig bejaarde, slonserige mans in reënjasse of die gewelddadige, macho soort nie. ’n Tipiese pedofiel is ’n geleerde, middeljarige man, dikwels iemand wat met kinders werk as ’n onderwyser, dokter, maatskaplike werker of ’n priester.”

Die Sweedse groep het die voorbeeld genoem van Rosario, ’n 12-jarige Filippynse meisie wat seksueel gemolesteer is deur ’n sekstoeris, ’n dokter van Oostenryk. Sy molestering het haar dood veroorsaak.

Carol Bellamy, Uitvoerende Direktrise van UNICEF (Verenigde Nasies-kinderfonds) in Genève, het die volgende aangaande die 12-jarige Filippynse meisie gesê: “Dit is dikwels juis die volwassenes wat met die versorging en beskerming van die kinders toevertrou word wat hierdie onduldbare gebruik toelaat en laat voortduur. Daar is onderwysers, professionele gesondheidswerkers, polisiebeamptes, politici en geestelikes wat hulle aansien en mag gebruik om kinders seksueel uit te buit.”

Godsdiens se betrokkenheid

’n Afgevaardigde van die Rooms-Katolieke Kerk by die kongres in Stockholm het gesê dat die uitbuiting van kinders die “afskuwelikste van alle misdade” is, asook ’n “gevolg van diepgaande verwrongenheid en die agteruitgang in waardes”. Tog is die Katolieke Kerk al grootliks geraak deur sulke gebruike onder hulle eie geestelikes.

In Newsweek se nommer van 16 Augustus 1993 het ’n artikel met die opskrif “Priesters en molestering” verslag gedoen oor “die ergste kerklike skandaal in die moderne geskiedenis van die Katolieke Kerk in Amerika”. Dit het gesê: “Hoewel daar sedert 1982 aantygings teen ongeveer 400 priesters gemaak is, raam sommige geestelikes dat tot 2500 priesters al kinders of tienderjariges gemolesteer het. . . . Die skandaal het die kerk nie net geld nie, maar ook groot verleentheid gekos—én van sy sedelike gesag.” Ander godsdienste regoor die wêreld bevind hulle in dieselfde situasie.

Ray Wyre, ’n seksmisdaadraadgewer van die Verenigde Koninkryk, het die Stockholm-kongres vertel van twee seuns wat op sadistiese wyse deur ’n priester gemolesteer is. Een van die seuns bestuur nou ’n instelling vir slagoffers van kindermolestering deur priesters, en die ander een is self ’n molesteerder.

Mettanando Bhikkhu, ’n Boeddhistiese geleerde van Thailand, het berig dat “sekere soorte Boeddhistiese gebruike deels verantwoordelik is vir die kommersiële seksuele uitbuiting van kinders in Thailand op verskeie vlakke. In plaaslike dorpies in Thailand het monnike soms voordeel getrek uit die geld wat na die gemeenskap toe gekom het deur kinders wat gedwing is om as prostitute te werk.”

Wat kan gedoen word?

Dr. Julia O’Connell Davidson, van die Universiteit van Leicester in die Verenigde Koninkryk, het ’n beroep op die kongres gedoen om die uitbuiters se regverdiging van hulle gedrag te betwis. Molesteerders verwys dikwels na die vermeende onkuisheid en onsedelikheid van die kind, en beweer dat die kind reeds sleg en verdorwe is. Ander uitbuiters gebruik die verwronge en valse bewering dat geen kwaad uit hulle dade sal spruit nie en dat die kind daarby baat gevind het.

’n Paneel wat sekstoerisme bespreek het, het voorgestel dat dit deur middel van opvoeding in die skoolleerplan bestry word. Daarbenewens moet inligting teen seksuele uitbuiting van kinders regdeur die reis aan reisigers verskaf word—voor die vertrek, gedurende die reis en by die bestemming.

Wat die nuwe kommunikasietegnologie betref, het ’n paneel voorgestel dat lande van riglyne voorsien moet word vir die verwydering van materiaal wat kinders uitbuit. Die stigting van ’n enkele internasionale liggaam om hierdie werksaamhede te koördineer, is bespreek. ’n Ander paneel het voorgestel dat kinderpornografie op die rekenaar en die besit van kinderpornografie oor die algemeen in alle lande strafbare oortredings moet word, met straf wat deur die wet bepaal word.

Wat kan ouers doen? ’n Paneel wat die rol van die media bespreek het, het voorgestel dat ouers die verantwoordelikheid moet aanvaar om hulle kinders te beskerm. Hulle het gesê: “Buiten om hulle kinders leiding te gee terwyl hulle as mediaverbruikers ontwikkel, kan ouers bykomende inligting, verduidelikings en ’n verskeidenheid inligtingsbronne voorsien om ’n teenwig te vorm teen die trefkrag van die media en die kind help om sy begrip te vergroot.”

’n Sweedse TV-program wat oor die kongres berig gelewer het, het beklemtoon hoe belangrik dit is dat ouers hulle kinders beter oppas en hulle teen die gevare waarsku. Dit het egter voorgestel: “Moenie kinders net teen ‘vieslike ou mans’ waarsku nie, omdat kinders . . . dan dink dat hulle net vir bejaarde, slonserige mans op hulle hoede moet wees, terwyl iemand wat sulke misdade pleeg net sowel ’n uniform of ’n netjiese pak kan aanhê. Waarsku hulle dus teen vreemdelinge wat ’n buitengewone belangstelling in hulle toon.” Kinders moet natuurlik ook gewaarsku word teen—en aangespoor word om die owerheid in kennis te stel van—enige persoon wat onbehoorlike voorstelle aan hulle doen, met inbegrip van mense wat hulle ken.

Die enigste oplossing

Wat die Stockholm-kongres nie aan die hand kon doen nie, was hoe om die oorsake van seksuele uitbuiting van kinders te bowe te kom. Hierdie oorsake sluit in die vinnige sedelike verval wat oral plaasvind; toenemende selfsug en ’n begeerte na materiële dinge; toenemende verontagsaming van wette wat ingestel is om mense teen onregverdigheid te beskerm; toenemende minagting vir die welsyn, waardigheid en lewe van ander; die vinnige verbrokkeling van die gesinsreëling; wydverspreide armoede as gevolg van oorbevolking, werkloosheid, verstedeliking en migrasie; toenemende rassisme teenoor buitelanders en vlugtelinge; immer toenemende dwelmvervaardiging en -handel asook verdorwe godsdiensbeskouings, -gebruike en -tradisies.

Hoewel die seksuele uitbuiting van kinders ontstellend is, is sulke verdorwenheid nie iets onverwags vir mense wat die Bybel sorgvuldig lees nie. Waarom nie? Omdat ons nou lewe in die tyd wat die Bybel “die laaste dae” noem, en volgens God se Woord beleef ons nou “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1-5, 13). Dit is dus geen wonder dat sedes agteruitgaan nie.

Maar die Bybel toon wat die enigste oplossing vir die wêreld se ontsaglike probleme is—’n algehele skoonmaak deur God die Almagtige. Hy gaan binnekort sy krag openbaar en almal op die aarde vernietig wat nie by sy regverdige beginsels en wette hou nie: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei . . . word.”—Spreuke 2:21, 22; 2 Tessalonisense 1:6-9.

Onder diegene wat “uitgeroei” gaan word, sal diegene wees wat van kinders prostitute maak en verdorwe mense wat kinders misbruik. God se Woord sê: “Geen hoereerders . . . of egbrekers . . . of mans wat by mans [of seuns] lê . . . , sal God se koninkryk beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). Dit voeg by dat “dié wat walglik is in hulle vuilheid . . . en hoereerders” aan “die tweede dood”—ewige vernietiging—oorgelewer sal word.—Openbaring 21:8.

God sal die aarde reinig en ’n heeltemal nuwe en regverdige stelsel van dinge inlui, “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” (2 Petrus 3:13). Dan, in daardie nuwe wêreld wat hy tot stand gebring het, sal verdorwe, perverse mense nooit weer van die onskuldiges misbruik maak nie. En die onskuldiges sal nooit weer hoef te vrees dat hulle onreg aangedoen sal word nie, want daar sal niemand wees wat hulle “verskrik” nie.—Miga 4:4.

[Lokteks op bladsy 12]

“Die barbaarsste en walglikste soort misdaad”—Eerste Minister van Swede

[Lokteks op bladsy 13]

“Elke week besoek 10 miljoen tot 12 miljoen mans jong prostitute.”—The Economist, Londen

[Lokteks op bladsy 14]

Sekstoerisme is ’n vername oorsaak van die uitbuiting van kinders in ontwikkelende lande

[Venster op bladsy 13]

Sekstoerisme–Waarom?

(’n Paar redes waarom toeriste seks met kinders het)

(1) Die anonimiteit wat die toeris geniet, stel hom vry van die sosiale beperkinge van sy tuisland

(2) As gevolg van min of geen kennis van die plaaslike taal kan toeriste maklik mislei word om te glo dat dit aanvaarbaar is om vir seks met ’n kind te betaal of dat dit ’n manier is om arm kinders te help

(3) As gevolg van rassistiese gesindhede buit besoekers ander uit wat volgens hulle minderwaardig is

(4) Toeriste voel ryk wanneer hulle sien dat seksuele dienste goedkoop is in ontwikkelende lande

[Venster op bladsy 15]

Die wêreldwye omvang van die probleem

(Hier volg skattings deur verskeie regeringsowerhede en ander organisasies)

Brasilië: Ten minste 250 000 kinderprostitute

China: Van 200 000 tot 500 000 kinderprostitute. In die laaste jare is ongeveer 5000 Chinese meisies oor die grens gelok en in Myanma as prostitute verkoop

Colombia: Die aantal kinders wat in die strate van Bogotá seksueel uitgebuit word, het in die afgelope sewe jaar vervyfvoudig

Filippyne: 40 000 kinders betrokke

Indië: 400 000 kinders by die seksbedryf betrokke

Kanada: Duisende tienermeisies word deur georganiseerde koppelaarsindikate as prostitute gebruik

Mosambiek: Bystandsorganisasies het VN-vredesmagte van seksuele uitbuiting van kinders beskuldig

Myanma: 10 000 meisies en vroue word elke jaar na bordele in Thailand geneem

Oos-Europa: 100 000 straatkinders. Baie word na bordele in Wes-Europa gestuur

Sri Lanka: 10 000 kinders tussen die ouderdomme van 6 en 14 werk as slawe in bordele en 5000 tussen die ouderdomme van 10 en 18 werk onafhanklik in toeriste-oorde

Taiwan: 30 000 kinders betrokke

Thailand: 300 000 kinders betrokke

Verenigde State: Amptelike bronne praat van meer as 100 000 kinders wat betrokke is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel