Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 3/8 bl. 14-15
  • Stergeboorte in ’n “arendsnes”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stergeboorte in ’n “arendsnes”
  • Ontwaak!—1997
  • Soortgelyke materiaal
  • So geheimsinnig, en tog so pragtig
    Ontwaak!—1996
  • Die heelal—’n Paar geheime wat reeds ontrafel is
    Ontwaak!—1992
  • Die sterre en die mens—Is daar ’n verband?
    Ontwaak!—1994
  • Die “heerlikheid” van sterre
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 3/8 bl. 14-15

Stergeboorte in ’n “arendsnes”

● HOE word sterre gebore? Waarom is party groter en helderder as ander? ’n Reeks foto’s wat deur die Hubble-ruimteteleskoop geneem is, toon op skouspelagtige wyse hoe stervorming moontlik plaasvind. Hierdie unieke gebeurtenis vind plaas in die Arendnewel, ’n wolk van gas en stof in ons Melkwegstelsel.

Vir sterrekykers op aarde lyk die Arendnewel soos ’n voël met uitgestrekte vlerke en ontblote kloue. Sterrekundige Jeff Hester en sy kollegas by die Arizona-staatsuniversiteit het daarin belanggestel om die deel te fotografeer met die kloue, wat elkeen pilaaragtige kolomme vorm en soos olifantslurpe lyk. Waterstofmolekules word daar deur ultravioletstraling geïoniseer—met ander woorde, hulle elektrone word weggestroop.

Die mosaïek van Hubble-foto’s toon tientalle klein vingertjies wat by die punte van die pilare uitsteek. By die vingerpunte vorm gas wat kondenseer bolvormige globules waarin sterre en, volgens sommige sterrekundiges, moontlik selfs planete ontwikkel. Die groei van hierdie voorwerpe word egter gestrem deur sterk stellêre winde van ongeveer honderd jong sterre wat vroeër uit die newel gevorm het. Die helderste van hierdie sterre is moontlik 100 000 keer helderder en meer as agt keer warmer as ons son. Hulle straling het klaarblyklik reeds dunner dele van die newel verweer. Hierdie proses, wat fotoverdamping genoem word, kan stervorming vertraag deur materiaal te verwyder wat andersins deur embrioniese sterre ingesluk sou word. Op die foto’s lyk die verdampende gas soos stoom wat van die gas-en-stof-kolomme af opstyg.

Voordat een van hierdie gasagtige globules kan begin skyn, moet dit groot genoeg wees om kernreaksies aan die gang te sit. Wetenskaplikes skat dat dit ten minste 8 persent van die grootte van die son moet wees. Daarbenewens moet daar genoeg van die stof in die omgewing verwyder word sodat lig kan ontsnap. As die globule egter nie groot genoeg word om te skyn nie, kan dit eenvoudig ’n donker gasbol word wat as ’n bruin dwerg bekend staan. Sterrekundiges het onlangs hulle eerste herkenbare bruin dwerg ontdek.

Die ooreenkoms tussen die stofwolke in die Arendnewel en enorme donderwolke wat op ’n stormagtige dag gesien kan word, kan jou mislei sodat jy dink dat die stofwolke nie baie groot is nie. In werklikheid is elke wolkpilaar so lank dat dit ’n ligflits wat by een punt ontstaan bykans ’n jaar sal neem om die ander punt te bereik. Verder is elke “klein” globule in die beeld ongeveer so groot soos ons sonnestelsel. Daarbenewens is die newel so ver weg dat lig daarvandaan ongeveer 7000 jaar geneem het om ons te bereik—en lig beweeg teen ’n spoed van 299 792 kilometer per sekonde. Dit beteken dat ons die Arendnewel sien soos dit gelyk het voordat daar mense op die aarde was.

Sterrekundiges sê dit wil voorkom asof stervorming ook in ander newels, soos die Orionnewel, plaasvind. Maar die hoek waarteen daar na hierdie ander voorbeelde gekyk word, verhinder ons om die proses duidelik te sien. Sterre kan ook sterf deur eenvoudig uit te brand, deur in ’n supernova te ontplof of weens gravitasiekrag ineen te stort en ’n gravitasiekolk te vorm. Die Skepper van die heelal, Jehovah God, weet hoeveel sterre daar is, want hy het hulle elkeen getel en ’n naam gegee (Jesaja 40:26). Die stellêre “arendsnes” toon van die maniere waarop God “lig formeer” en sterre voortbring wat in heerlikheid verskil.—Jesaja 45:7; 1 Korintiërs 15:41.—Bygedra.

[Volbladillustrasie op bladsy 15]

[Foto-erkenning op bladsy 14]

J. Hester and P. Scowen, (AZ State Univ.), NASA

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel