Ons beskou die wêreld
Die geheim van geluk?
Hoewel die Britte gesonder en ryker is as wat hulle 25 jaar gelede was, is hulle volgens ’n opname wat in The Daily Telegraph van Londen verskyn het oor die algemeen minder gelukkig. Een Amerikaanse sosioloog wat met hierdie bevindings van die Sosiale Neigings-verslag van die Sentrale Statistiek-kantoor saamstem, hou vol dat ware geluk gevind word deur ’n “doel in die lewe” te hê wat “die najaging van waardevolle doelwitte” insluit. Nadat hulle onderhoude met byna 400 mense gehou het, het twee Nieu-Seelandse navorsers tot ’n soortgelyke gevolgtrekking gekom—dat die meeste mense geluk toeskryf aan “’n erkenning van orde en sin in hulle bestaan”. Dit is waarskynliker dat getroude mense en diegene met sterk godsdiensoortuigings tevredenheid sal ervaar. In die lig van die verval van die huwelik en godsdienstigheid in Brittanje sê die koerant dat “ons as ’n volk sal voortgaan om nog ongelukkiger te raak”.
DNS en die Dooie See-rolle
Die ontsyfering van die antieke Dooie See-rolle het begin kort nadat hulle in 1947 in die Judese woestyn ontdek is. Tot dusver is ongeveer 15 rolle vertaal. Daar is nog sowat 10 000 duimnael-grootte stukkies van honderde ander rolle oor. Om die stukkies aanmekaar te sit, is baie frustrerend. Die rante is te verweer om soos ’n legkaart inmekaar te pas, en aangesien elke stukkie net ’n paar karakters bevat, kan hulle nie volgens betekenis gekoppel word nie. Nou, volgens die International Herald Tribune, kom die wetenskap tot die redding. Hoe? Die rolle is op dierevelle geskryf en DNS-tipering kan dus die diersoort, kudde en individuele dier waarvan elke stukkie kom, identifiseer. Geleerdes hoop dat dit sal help om die stukkies te klassifiseer en uit te sorteer.
Wydverspreide verval van die gesin
“Regoor die wêreld, in ryk en arm lande, ondergaan die struktuur van gesinslewe omvattende veranderinge”, sê The New York Times wanneer dit kommentaar lewer op ’n onlangse verslag. “Omwentelinge in die gesin ontsien nie stand of geografiese ligging nie.” Die verslag, wat gebaseer is op ’n studie van tientalle lande deur die Bevolkingsraad, vestig die aandag op neigings soos die stygende egskeidingsyfer en die toenemende aantal ongehude moeders. “Die gedagte dat die gesin ’n stabiele en hegte eenheid is waarin die vader die ekonomiese voorsiener is en die moeder die een wat emosionele sorg voorsien, is ’n mite”, sê Judith Bruce, een van die skrywers van die studie. Die ontbinding van huwelike, hetsy deur skeiding, verlating of egskeiding, neem vinnig toe en ongehude moeders het amper oral algemeen geword. Tot ’n derde van alle geboortes in Noord-Europa is byvoorbeeld vir ongehude moeders. Navorsers wys op “die bevryding van vroue”, wat hulle ekonomiese status en toenemende rol in die arbeidskragte insluit, as ’n belangrike faktor in die veranderinge in die gesin. ’n Merkwaardige uitsondering is Japan, waar ongehude moeders en enkelouerhuishoudings nog redelik skaars is. Driekwart van die geskeide vaders daar betaal egter nie onderhoud nie.
Die sondes van die vaders
Israel se Departement van Godsdienssake het erken dat dit ’n geheime swartlys hou van etlike duisend Jode wat nie met ander Jode mag trou nie omdat hulle die nakomelinge is van ongeoorloofde verhoudings. Party voornemende paartjies beweer dat hulle eers hiervan uitvind as hulle trouplanne amper gefinaliseer is. Die Ortodokse rabbinaat het die laaste sê. Toe Shoshana Hadad en Masoud Cohen hulle vierjarige seun by die Departement van Binnelandse Sake wou registreer, het hulle uitgevind dat hulle huwelik wat in 1982 bevestig is, ongeldig verklaar is “as gevolg van ’n sonde wat ongeveer 2500 jaar gelede deur die vrou se familie gepleeg is”, berig die Times Union van Albany, New York. Dit voeg by: “Die uitspraak is op ’n historiese gerug gebaseer. Die rabbi’s glo dat ’n voorouer van Hadad uit die verre verlede . . . in ongeveer 580 v.C. onwettig met ’n geskeide persoon getrou het.” Sedertdien is niemand in Hadad se familie toegelaat om met enigiemand genaamd Cohen te trou nie. Die Cohens word as afstammelinge van die oorspronklike tempelpriesters beskou en moet hulle aan spesiale beperkings hou. “Moet ons vandag nog daarvoor ly as die een of ander oupagrootjie gedurende die dae van die Eerste Tempel iets gedoen het?” het Shoshana gevra. Die Departement van Godsdienssake sê die paartjie kan ook voor kriminele aanklagte te staan kom omdat hulle die rabbi wat hulle in die huwelik bevestig het kwansuis mislei het.
Binnekort: die eerste Asiatiese land sonder woude
Die Filippyne staar algehele ontbossing in die gesig, waarsku die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (VNOP). “Bevolkingsdruk en onvolhoubare houtkappery” is besig om al hoe meer van die boomryke streke in die Filippyne te vernietig. Voor die Tweede Wêreldoorlog was 60 tot 70 persent van die land met woude bedek. Vandag is dit slegs 15 persent. “Teen die jaar 2000”, berig Update, die VNOP se nuusbrief, “sal die Filippyne miskien die eerste Asiatiese land word wat al sy woude en boomryke streke verloor het.”
“Geseënd is Jehovah se Getuies”
Soos in baie ander lande het daar in Italië ’n bloedskandaal uitgebreek. Daar word beweer dat duisende liters bloed na oortappingsentrums versprei is sonder voldoende toetsing of sonder dat behoorlike veiligheidsmaatreëls getref is, en duisende mense is sodoende blootgestel aan die gevaar om siektes soos vigs en hepatitis op te doen. Luigi Pintor, redakteur van die Italiaanse koerant Il Manifesto, het kommentaar gelewer op hierdie skokkende situasie wat winste bo mense se gesondheid stel en het sy artikel met hierdie woorde begin: “Geseënd is Jehovah se Getuies, wat . . . bloedoortappings om godsdiensredes weier. Wanneer hulle vandag se koerante lees, sal hulle die enigstes wees wat nie bekommerd hoef te wees oor wat aangaan . . . in die bloedindustrieë en klinieke wat bloed, plasma en verwante derivate aan hulle medemens verkoop en toedien nie.”
Skoonheidskundige vir olifante
Die olifante in die Suid-Indiese staat Kerala dra swaar vragte, dikwels met hulle lang tande. Maar baie van die olifante word ook in tempeloptogte en by godsdiensfeeste gebruik. Voor hierdie geleenthede gee ’n professionele skoonheidskundige die olifante nie ’n gesigsbehandeling nie, maar ’n tandbehandeling. Die enigste persoon in Kerala wat hierdie veeleisende werk doen, P. K. Sasidharan, het sy vaardighede by sy oupa geleer. Hoe besluit hy hoeveel om af te sny? Die spesifikasies—gebaseer op die olifant se hoogte, grootte en liggaamsvorm—is ’n goedbewaarde familiegeheim. As die dier saamwerk, neem die behandeling ongeveer drie uur, maar ’n iesegrimmige olifant is gevaarlik en kan langer neem. Buiten om skoonheidsredes moet die tande van werkende olifante elke twee jaar getop word om dit ’n gerieflike lengte te hou om vragte mee te dra.
Die jong slagoffers van oorlog
Vroeër was oorlogslagoffers meestal soldate. Nie meer nie. Gedurende die afgelope tien jaar is daar baie meer kinders as soldate in oorloë vermink en gedood. Ongeveer tweemiljoen kinders het gedurende die laaste dekade in oorloë gesterf, sê The State of the World’s Children 1995, ’n verslag deur die Verenigde Nasies-kinderfonds. Nog 4 tot 5 miljoen kinders is vermink, meer as 5 miljoen is na vlugtelingkampe gestuur en meer as 12 miljoen is dakloos gelaat. Die verslag sê: “Dit is statistieke van skande. En hulle werp ’n lang skaduwee op toekomstige geslagte en hulle stryd om stabiliteit en sosiale samehorigheid.”
Die arme pennie
“Baie mense sal nousedae nie eers stop om ’n pennie op te tel nie”, sê ’n woordvoerder vir die Britse Koninklike Munt. Maar Brittanje is nie alleen nie. In die Verenigde State word so baie pennies elke dag verloor of weggegooi dat die banke nou te min daarvan het. Die Key-bank van New York het onlangs 55 sent (R2) aangebied vir enigiemand wat 50 pennies ingebring het. Die gevolg was dat vyfmiljoen pennies in twee weke versamel is. The Sunday Times van Londen berig dat ’n groot vullisverwerkingsentrum in Massachusetts elke dag $1000 (R3600) in kleingeld—meestal pennies—versamel deurdat hulle deur die as sif.
Hoop vir hartaanvalslagoffers
“Daar is voorheen gedink dat hartversaking onvermydelik op ernstige hartbesering sou volg, maar met oefening kan die skade omgekeer word”, beweer dr. Peter Liu, direkteur van kardiologienavorsing aan die Toronto-hospitaal. Ná ’n belowende studie op rotte het die hospitaal se Hartfunksiekliniek pasiënte “elke dag toenemende afstande [laat] loop”, berig The Globe and Mail. “Die aanvanklike resultate bewys dat die ‘afdraande pad’ ná hartversaking ook by mense omgekeer kan word deur ten minste ’n kilometer per dag te stap.” Maar die pas moet redelik vinnig wees en dit moet onder toesig gedoen word, het dr. Liu gesê.