Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 6/22 bl. 4-6
  • Waarom baie glo dat die wêreld sal eindig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom baie glo dat die wêreld sal eindig
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bybelse oorspronge
  • Die Bybel en die wêreld se einde
  • Eerste-eeuse wanbegrippe
  • Ander het ook regstelling nodig
  • Apokalips—Wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Is die einde van die wêreld naby? Wat is die Apokalips?
    Nog onderwerpe
  • Apokalips—Wat is dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Openbaring—Sy gelukkige klimaks!
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 6/22 bl. 4-6

Waarom baie glo dat die wêreld sal eindig

DIE wêreld is waarlik in ’n benarde toestand, soos baie vandag geredelik erken. “Ek het al mense van verskillende wêrelddele gevra wat hulle van ons kanse vir die toekoms dink”, het die evangelis Billy Graham geskryf. “Die meeste het ’n pessimistiese uitkyk. . . . Die woorde ‘Armageddon’ en ‘Apokalips’ word voortdurend gebruik om gebeure op die wêreldtoneel te beskryf.”

Waarom word die woorde “Armageddon” en “Apokalips” dikwels gebruik om hedendaagse toestande te beskryf? Van watter belang is hulle?

Bybelse oorspronge

Die Bybel praat van “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” en bring hierdie oorlog in verband met die plek “wat in Hebreeus Har–Magedon”, of Armageddon, genoem word (Openbaring 16:14-16). Webster’s New Collegiate Dictionary definieer Armageddon as “’n finale en deurslaggewende slag tussen die magte van goed en kwaad”.

Hoewel “apokalips” van ’n Griekse woord afkomstig is wat “openbaring”, of “ontsluiering”, beteken, het dit ’n ander betekenis aangeneem. Die Bybelboek Openbaring, of Apokalips, vestig die aandag op God se vernietiging van die goddeloses en die Duisendjarige Bewind van sy Seun, Jesus Christus (Openbaring 19:11-16; 20:6). Webster’s New Collegiate Dictionary definieer “apokalips” as “’n naderende kosmiese ramp waartydens God die heersende magte van die kwaad vernietig en die regverdiges tot lewe in ’n Messiaanse koninkryk verhef”.

Wanneer mense vandag van die wêreld en die toestand daarvan praat, word hulle klaarblyklik beïnvloed deur wat in die Bybel gesê word. Wat sê die Bybel dan oor die einde van die wêreld?

Die Bybel en die wêreld se einde

Die Bybel voorspel duidelik dat die wêreld gaan eindig. Jesus Christus en sy dissipels het oor die tyd van die einde gepraat (Matteus 13:39, 40, 49; 24:3; 2 Timoteus 3:1; 2 Petrus 3:3; AB). Hulle het egter nie bedoel dat die aarde self vernietig gaan word nie. Die Bybel sê van die letterlike aarde: “Dit [sal] vir ewig en altyd nie wankel nie” (Psalm 104:5). Die uitdrukking “voleinding van die wêreld” beteken eenvoudig “voleinding van die stelsel van dinge”.—Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte.

Die apostel Petrus het van die wêreld voor die Vloed in Noag se dag gepraat en gesê: ‘Die wêreld van daardie tyd (wat uit goddelose mense bestaan het) is vernietig toe dit met water oorstroom is.’ Petrus het vervolgens gesê dat ons huidige wêreld ‘tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense bewaar’ word (2 Petrus 3:5-7). Die apostel Johannes het ook geskryf: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.

Gedurende die einde van hierdie wêreld sal sy onsigbare, goddelose heerser ook van die toneel verwyder word (Openbaring 20:1-3). Die apostel Paulus het oor hierdie bose heerser geskryf: ‘Die god van hierdie wêreld het die sinne van die ongelowiges verblind.’ Jesus het van hom gesê: “Nou sal die owerste van hierdie wêreld [Satan die Duiwel] buitentoe gedryf word.”—2 Korintiërs 4:4; Johannes 12:31, AB.

Sal dit nie ’n seën wees om van hierdie wêreld en sy goddelose heerser ontslae te wees nie? Christene bid lank reeds dat dit moet gebeur wanneer hulle vra dat God se Koninkryk moet kom en dat sy wil op aarde moet geskied. Hulle bid dat Jesus Christus in gehoorsaamheid aan sy Vader se bevel moet optree om die aarde van alle goddeloosheid te bevry!—Psalm 110:1, 2; Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10.

Dit laat egter ’n vraag ontstaan: Kon valse, of foutiewe, voorspellings van die wêreld se einde ontstaan het omdat mense op grond van ’n wanbegrip of wantoepassing van ware Bybelprofesieë ’n datum vir hierdie gebeurtenis voorspel het? Kom ons kyk.

Eerste-eeuse wanbegrippe

Kyk na wat in die eerste eeu gebeur het. Net voor Jesus na die hemel opgevaar het, het sy apostels gretig gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” Hulle wou onmiddellik al die seëninge van die Koninkryk geniet, maar Jesus het gesê: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie.”—Handelinge 1:6, 7.

Net drie dae voor sy dood het Jesus iets soortgelyks gesê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.” Hy het bygevoeg: “Aangaande daardie dag of die uur weet niemand nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader. Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie” (Matteus 24:42, 44; Markus 13:32, 33). ’n Paar maande vroeër het Jesus hulle ook aangemoedig: “Julle moet julle gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle dit nie waarskynlik ag nie.”—Lukas 12:40.

Ondanks sulke waarskuwings van Jesus het vroeë Christene, wat gretig gewag het op Christus se teenwoordigheid en die seëninge wat dit sou bring, begin spekuleer oor wanneer Koninkryksbeloftes vervul sou word. Dit is waarom die apostel Paulus aan die Tessalonisense geskryf het: “Wat die teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus en ons bymekaarbringing tot hom betref, versoek ons julle, broers, om nie gou van julle rede afgebring te word of opgewonde gemaak te word nie, hetsy deur ’n geïnspireerde uiting of deur ’n mondelinge boodskap of deur ’n brief wat glo van ons afkomstig sou wees, wat te kenne gee dat die dag van Jehovah hier is.”—2 Tessalonisense 2:1, 2.

Paulus se woorde toon dat party vroeë Christene verkeerde verwagtinge begin koester het. Hoewel die Christene in Tessalonika dalk nie ’n sekere datum vir hulle ‘bymekaarbringing tot Christus in die hemel’ voorspel het nie, het hulle klaarblyklik gedink dat daardie gebeurtenis op hande was. Hulle denke moes reggestel word, en Paulus se brief het dit gedoen.

Ander het ook regstelling nodig

Soos ons in die eerste artikel gesê het, het ander, ná die eerste eeu, ook die vervulling van God se beloftes op ’n sekere tyd verwag. Party het voorspellings gemaak dat die einde van ’n duisend jaar, wat óf van Jesus se geboorte af óf van sy dood af gereken word, met die einde van die wêreld gepaard sou gaan. Maar hulle voorspellings was eweneens vals, of foutief.

Dit laat die vrae ontstaan: Het foute met betrekking tot die vervulling van Bybelbeloftes beteken dat die beloftes self ongegrond was? Is God se beloftes betroubaar? En hoe het hedendaagse Christene regstelling van hierdie saak aanvaar?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel