Ons beskou die wêreld
Katolieke sedeteologie en jong Italiaanse vroue
Jong Italiaanse vroue, of hulle nou Katoliek is of nie, steur hulle maar min aan die pous wanneer dit kom by geslagsedelikheid. Trouens, volgens navorsingsuitslae wat deur die Italiaanse dagblad La Repubblica gepubliseer is, was tot 90,8 persent van die jong vroue tussen 15 en 24 wat ondervra is van mening dat die “gebruik van voorbehoedmiddels aan vroue gewaarborg moet word”, terwyl 66,7 persent “die reg om ‘’n ongewenste swangerskap’ te beëindig”, verdedig het. Daarbenewens het 80,2 persent van hulle gemeen dat “die regte van homoseksuele gewaarborg en gerespekteer moet word”.
Gifstowwe in pasgebore babas se hare gevind
Daar is nou biologiese bewyse dat tweedehandse tabakrook wat deur nierokende swanger vroue ingeasem word die fetus bereik, sê The Globe and Mail van Toronto, Kanada. Nuwe bevindinge van ’n navorsingspan wat gelei is deur dr. Gideon Koren, ’n kliniese farmakoloog by die Hospital for Sick Children in Toronto, het aangedui dat haarmonsters van pasgebore babas nikotien sowel as sy byproduk kotinien bevat. Die nierokende moeders was ten minste twee uur per dag, tuis of by die werk, aan tweedehandse rook blootgestel. As jy gereeld tweedehandse rook inasem, kan jy volgens dr. Koren net sowel “twee tot vier sigarette per dag rook”. Hierdie nuwe navorsing “bekragtig vroeëre studies wat daarop gedui het dat blootstelling aan tabakrook ’n uitwerking op kinders se gedrags- en kognitiewe ontwikkeling het”, sê The Globe vervolgens. Dr. Koren het gewaarsku: “Ek kan julle nie die versekering gee dat ons in die prosedeersieke atmosfeer waarin ons tans lewe nie binne 10 tot 20 jaar babas sal sien wat hulle ouers dagvaar vir die agterstand waarmee hulle as gevolg van rook gebore is nie”!
Winkeldiefstal word internasionaal
“Gegradueerdes” aan ’n “diefstalskool” in Santiago, Chili, is bedrywig in Montreal en Toronto, Kanada, en ’n paar Amerikaanse stede, berig L’actualité, ’n Kanadese tydskrif. Die “skool” leer die tegnieke van sakkerollery en winkeldiefstal en voorsien onderrig in Kanadese wetgewing en polisiemetodes. “Gegradueerdes” werk in groepe, dra vals dokumente en is met spesiaal gevoerde klere en geskenkpakkies toegerus om hulle buit in weg te steek. Die Montrealse polisie het die netwerk dopgehou en sedert 1991 verskeie kere op gesteelde klere beslag gelê. Die grootste klomp gesteelde goedere wat onlangs teruggevind is, was ’n verskepingshouer vol klere wat op pad was na Chili. Hierdie internasionale netwerk van georganiseerde winkeldiefstal skep egter vir die polisie asook vir winkeleienaars ’n ontsaglike uitdaging. Een Montrealse speurder het volgens L’actualité gesê dat dit moeilik is om die internasionale polisie se samewerking te kry, want “dit is nie vir hulle ’n prioriteit nie”.
Wêreldwye vlugtelingekrisis
Gedurende 1992 het bykans 10-000 mense per dag vlugtelinge geword. So sê The State of the World’s Refugees, ’n boek deur die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge (UNHCR). Daar was in 1992 wêreldwyd 18,2 miljoen vlugtelinge, agt keer meer as 20 jaar gelede. Nog 24 miljoen mense is in hulle eie land ontwortel. Altesaam is ongeveer 1 uit elke 130 mense op aarde gedwing om uit hulle huis te vlug. Die UNHCR-tydskrif Refugees sê: “Die meedoënlose toename in getalle—van werklike vlugtelinge en mense wat weens ekonomiese redes migreer—het ’n groot druk op die 3500 jaar oue tradisie van asiel geplaas en dit byna tot niet gemaak.”
Is jy vaak?
Kry jy snags genoeg slaap? Een manier om uit te vind, sê ’n navorser, is om ’n groot maaltyd te eet en dan na ’n vervelige lesing in ’n warm vertrek te gaan luister. As jy goed uitgerus is, sal jy dalk verveeld of rusteloos voel, maar glad nie vaak nie. Volgens die International Herald Tribune meen kenners dat 100 miljoen Amerikaners nie genoeg slaap kry nie. Die meeste mense het agt tot agt en ’n half uur slaap per nag nodig; mense tussen 17 en 25 jaar het selfs meer nodig. Hoewel baie mense met minder slaap klaarkom as wat hulle werklik nodig het, is mense wat nie genoeg slaap kry nie meer geneig om foute te maak. Hulle bou ook ’n “slaapskuld” op. Die Tribune sê: “Ouers kla oor hulle tieners se ‘luiheid’ omdat hulle oor naweke tot die middag toe slaap, maar die meeste van hierdie jongmense probeer maar net die week se slaapskuld vereffen.”
Molestering deur geestelikes blootgelê
Een van Kanada se grootste ondersoeke na seksuele molestering deur Katolieke Christenbroeders is afgehandel. “Meer as 700 slagoffers het na vore gekom uit die St. Joseph’s”-skool in Alfred, Ontario, en uit die St. John’s-skool in Uxbridge, Ontario, berig The Toronto Star. Klagtes is “teen 30 manne, waaronder 29 lede van die Broeders van die Christenskole, ingedien. Klagtes sou teen ’n verdere 16 ingedien gewees het indien hulle nog gelewe het”, sê die Star voorts. Die slagoffers ervaar steeds ontstellende herinneringe van “slae en seksuele aanranding deur die swartgeklede lede van die Rooms Katolieke leke-orde in wie se sorg hulle toevertrou is”. Die Star sê dat die mense van Kanada sonder ’n openbare ondersoek nooit sal weet waarom mans wat beweer dat hulle God dien jong seuns aan seksuele molestering onderwerp nie.
Termometer-krieke
As jy in Afrika woon, kan jy nou die temperatuur sonder die hulp van ’n termometer bepaal, sê ’n wetenskapstydskrif oor soölogie. Dit kan in Celsius gedoen word deur die aantal tjirp-geluide wat ’n Afrika-boomkriek (Oecanthus karschi) in ses sekondes maak, te tel en 12 by die totaal te voeg. Of, as jy na die Kaapse boomkriek (Oecanthus capensis) luister, deur sy aantal tjirp-geluide in drie sekondes te tel en 11 by die totaal te voeg. Die tjirp-geluide van hierdie twee spesies boomkrieke is stadig genoeg om te tel. Dit is ook hard genoeg, aangesien hulle so op die blare gaan sit dat die getjirp versterk word soos deur ’n luidspreker. Namate die nagtemperatuur daal, raak die getjirp al hoe stadiger. Die tydskrif African Wildlife verduidelik: “Krieke is ‘koudbloedig’ en hulle metabolisme word gevolglik deur die lugtemperatuur beïnvloed. Dit beïnvloed feitlik elke aspek van hulle lewe, onder andere ook die tempo waarteen hulle sing.”
Ultraviolet-probleme
Geniet jy dit om jou vakansies in die son deur te bring? Indien wel, wees versigtig! Hoewel ’n matige dosis van die son se ultravioletstrale (UV-strale) gesond is, kan te veel blootstelling daaraan lei tot velkankers, oogsiektes, vroeë velveroudering, kwaadaardige velgewasse en ’n verswakking van die liggaam se vermoë om siektes te beveg. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie styg UV-vlakke omdat die osoonlaag verminder. In baie wêrelddele, onder andere Australië, Nieu-Seeland en die Verenigde State, ontwikkel UV-gesondheidsprobleme binne ’n korter tydperk, asook vinniger. Hoe kan jy jou in sonnige klimate beskerm? Dra beskermende klere, dra ’n UV-absorberende sonbril en bly in die middel van die dag wanneer die UV-vlak die hoogste is binnenshuis.
Godsdiens se reusebedryf
Een van die min sektore van die Italiaanse ekonomie wat winsgewend is, en moontlik die enigste een wat daarin sal slaag om die resessie te klop, is sakebedrywighede wat “in die skadu van die Kerk gedoen word”, sê die finansiële byvoegsel van La Repubblica. Trouens, gedurende die sesde Tentoonstelling van Godsdiensprodukte wat in Pompeji gehou is, was die omset vir die 1400 maatskappye wat in hierdie veld werk “op 400 biljoen liras [R830 miljoen] gereken, met ’n 15 persent styging in verkope”. Daarbenewens het godsdienstoerisme, wat in 1993 ongeveer 35 miljoen pelgrims na die verskeie plekke van aanbidding in Italië gelok het, ’n omset gehad wat tien keer groter was. “Ondernemings wat deur die kerk ‘geseën’ is, floreer”, sê die verslag, en “die Italiaanse Katolieke hiërargie, die Biskoppe se Konferensie en die Heilige See is al geruime tyd met genoeë daarvan bewus”. Die kerkhiërargie het selfs al konferensies georganiseer en geborg—wat deur hooggeplaaste kerkamptenare toegespreek is—om hierdie merkwaardige sakebedrywighede te bestuur.
Australië se hoë selfmoordsyfer
Die selfmoordsyfer in Australië neem so onrusbarend toe dat die Openbare Gesondheidsvereniging nou selfmoordvoorkoming in sy nasionale openbare gesondheidsbeleid ingesluit het. Toe die getal selfmoorde die getal sterftes weens padongelukke twee jaar in ’n ry oortref het, het die Openbare Gesondheidsvereniging besef dat iets konkreets gedoen moes word, en dringend ook. ’n Koerant, The Australian, het ’n woordvoerder van die vereniging aangehaal wat gesê het: “Tot dusver is die selfmoordkwessie nog nie deur die openbare gesondheidsgemeenskap aangepak nie; tog het dit die kenmerke van ander openbare gesondheidsprobleme. Dit kom net so dikwels voor en die skade is net so omvattend soos ander kwessies waaraan openbare gesondheidsinstansies aandag skenk en geld bestee.” Die selfmoordsyfer is tans ’n ongelooflike 31 persent van alle sterftes wat nie siekteverwant is nie, drie persent hoër as die sterftesyfer wat deur padongelukke veroorsaak word.