Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 8/22 bl. 4-6
  • Aanvullende opleiding of nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aanvullende opleiding of nie?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gebalanseerde beskouing
  • Terug skool toe—Waarom?
    Ontwaak!—1994
  • Opvoeding met ’n doel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Is die Bybel teen geleerdheid gekant?
    Ontwaak!—1998
  • Ouers—Watter toekoms wil julle vir julle kinders hê?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 8/22 bl. 4-6

Aanvullende opleiding of nie?

HOEVEEL geleerdheid is nodig om ’n bestaan te maak? Die antwoord verskil van land tot land. Dit lyk asof die opleidingsvlak wat nodig is om jouself te onderhou in baie lande hoër as ’n paar jaar gelede is. Die minimum opleiding wat deur die wet vereis word, is in sommige gevalle nie voldoende nie.

Dit is ongetwyfeld waarom al hoe meer skoolverlaters eerder verder gaan leer as om te gaan werk. Die belonings lyk inderdaad aantreklik. The New York Times haal ’n verslag van die Ekonomiese Beleidsinstituut aan wat bevind het dat “die salariswaarde van werkende mans met slegs ’n hoërskoolsertifikaat van 1979 tot 1987 met 7,4 persent afgeneem het, terwyl die salaris van gegradueerde mans met 7 persent toegeneem het”.

Gegradueerdes ontvang grade wat die deur tot werksgeleenthede kan open. William B. Johnston, ’n senior navorser aan die Hudson-instituut, sê: “Die universiteitsgraad, of selfs die bewys dat iemand op universiteit was, het die land se vernaamste manier geword om werksgeleenthede te verseker.”

Maar daar moet ook erken word dat baie gegradueerdes sukkel om werk te kry, en hulle is nie teen afdanking gevrywaar nie. “Die meeste van my vriende wat saam met my gegradueer het, sit sonder werk”, sê die 22-jarige Karl. Jim, wat 55 jaar oud is, het met lof aan ’n vooraanstaande universiteit gegradueer, maar is in Februarie 1992 afgedank. Sy graad het hom nie beskerm nie en hom ook nie gehelp om ’n vaste werk te kry nie. “Jou fondasie was toe al die tyd van sand”, sê hy.

Soos Jim, het ’n hele paar gegradueerdes hulle bevind in wat die U.S.News & World Report die “pynlike situasie van kantoorwerkers” noem—te jonk om af te tree en te oud om deur ’n ander maatskappy aangestel te word.

Dit is dus duidelik dat universiteitsopleiding, hoewel dit moontlik voordele inhou, nie ’n wonderoplossing vir alle probleme is nie. Dit is ook nie die enigste keuse nie. Herbert Kohl skryf in The Question Is College: “Daar is talle suksesvolle mense wat nie universiteit toe gegaan het nie en talle ordentlike werke wat nie ’n universiteitsgraad vereis nie.” Een maatskappy neem byvoorbeeld mense sonder universiteitsopleiding in diens in poste wat dikwels deur gegradueerdes gevul word. In plaas van grade soek die maatskappy aansoekers wat die vermoë openbaar om te presteer. “Sodra ons daardie persoon gevind het”, sê ’n woordvoerder, “aanvaar ons dat ons [hom] spesifieke werkvaardighede kan leer.”

Ja, baie mense het al goed vir hulleself en hulle gesin gesorg sonder die voordeel van ’n universiteitsgraad. Van hulle het kursusse aan vakskole, tegnikons of gemeenskapskolleges gevolg teen ’n minimale koste wat hulle tyd en geld betref.a Ander het ’n ambag of ’n diens aangeleer sonder dat hulle enige gespesialiseerde opleiding het. Met ’n goeie reputasie as ’n betroubare werker kon hulle ’n vaste werk behou.

’n Gebalanseerde beskouing

Natuurlik bied geen vorm van geleerdheid—hetsy universiteit of enige ander aanvullende opleiding—gewaarborgde sukses nie. Wat meer is, die Bybel meld akkuraat dat ‘die gedaante van hierdie wêreld verbygaan’ (1 Korinthiërs 7:31). Wat vandag in aanvraag is, is môre moontlik nutteloos.

Iemand wat aanvullende opleiding oorweeg, sal dus verstandig wees om die voor- en nadele versigtig teen mekaar op te weeg. ‘Kan ek dit bekostig? Aan watter soort milieu en metgeselle sal ek blootgestel word? Sal die kursusse praktiese opleiding voorsien wat my in staat sal stel om myself te onderhou? Sal dit my help om vir ’n gesin te sorg as ek later sou trou?’ Ondersteunende ouers kan, in ooreenstemming met die verantwoordelikheid wat die Bybel op hulle plaas, nuttige raad voorsien (Deuteronomium 4:10; 6:4-9; 11:18-21; Spreuke 4:1, 2). As jy die finansiële voordele of enige ander aspek van aanvullende opleiding oorweeg, is Jesus se woorde gepas: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?”—Lukas 14:28.

Of jy verder gaan studeer of nie, is ’n besluit wat inderdaad versigtig oorweeg moet word. ’n Christen hou nietemin altyd Jesus se woorde in Mattheüs 6:33 in gedagte: “Soek eers die koninkryk van God en [julle hemelse Vader se] geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Onder ware Christene word daar nie neergesien op diegene wat nie aanvullende opleiding het nie en hulle word ook nie as minderwaardig beskou nie, en diegene wat verder geleer het, word nie verstoot of as hoogmoedig verwerp nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Wie is jy wat die huiskneg van ’n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou.”—Romeine 14:4.

Jesus het hierdie gebalanseerde beskouing weerspieël. Hy het nie “ongeleerde en eenvoudige” mense verag nie, en hy het ook nie gehuiwer om Paulus, wat hooggeleerd was, te kies om ’n kragtige evangelisasiewerk uit te voer nie (Handelinge 4:13; 9:10-16). In albei gevalle moet geleerdheid op sy plek gehou word, soos die volgende artikel sal toon.

[Voetnoot]

a Aanvullende opleidingsprogramme verskil van plek tot plek. Skole, biblioteke en arbeidsburo’s is nuttige bronne om uit te vind wat in jou gebied beskikbaar is.

[Venster op bladsy 5]

Aanvullende opleiding

Die Wagtoring van 1 November 1992 het aangaande Jehovah se Getuies en die voltydse bediening gesê: “Die neiging in baie lande is dat die vlak van geleerdheid wat vereis word om aanvaarbare besoldiging te ontvang nou hoër is as wat dit ’n paar jaar gelede was. . . . Dit is moeilik om werk met aanvaarbare besoldiging te vind as ’n mens net die minimum skoolopleiding voltooi het wat deur die wet vereis word . . .

“Wat word bedoel met ‘aanvaarbare besoldiging’? . . . Hulle besoldiging kan ‘toereikend’ of ‘bevredigend’ genoem word as dít wat hulle verdien hulle toelaat om taamlik goed te lewe terwyl hulle nog genoeg tyd en krag het om hulle Christelike bediening te vervul.”

Daarom het Die Wagtoring gesê: “Daar behoort . . . geen vaste reëls gemaak te word om mense wat verder wil leer aan te moedig of te ontmoedig nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel