Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 5/22 bl. 9-15
  • Jongmense met “krag wat die normale te bowe gaan”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jongmense met “krag wat die normale te bowe gaan”
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lenae Martinez
  • Crystal Moore
  • Lisa Kosack
  • Ernestine Gregory
  • Wandel soos Jehovah ons geleer het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Ek het God se beskouing van bloed aanvaar
    Ontwaak!—2003
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Ek het die geloof behou”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 5/22 bl. 9-15

Jongmense met “krag wat die normale te bowe gaan”

JY IS jonk. Net 12 jaar oud. Jy het ’n gesin vir wie jy lief is. Jy het skoolvriende van wie jy hou. Jy gaan op uitstappies na die strand en na die berge toe. Jy word met ontsag vervul wanneer jy na ’n sterbesaaide naghemel kyk. Jou hele lewe lê voor jou.

En nou het jy kanker. Sulke nuus is ’n skok wanneer jy 60 is. Dit is totaal verpletterend wanneer jy 12 is.

Lenae Martinez

Só het dit vir die 12-jarige Lenae Martinez gevoel. Haar hoop was om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Hierdie hoop is versterk deur die Bybelopleiding wat sy van haar ouers, wat Jehovah se Getuies is, ontvang het. Het sy dan nie self in die Bybel gelees dat die aarde vir ewig sal bestaan, dat dit geskep is om vir ewig bewoon te word en dat die sagmoediges dit vir ewig sal beërf nie?—Prediker 1:4; Jesaja 45:18; Mattheüs 5:5.

Nou was sy in die Valley-kinderhospitaal in Fresno, Kalifornië, VSA. Sy is daar opgeneem omdat dit gelyk het of sy nierinfeksie het. Toetse het egter aan die lig gebring dat sy leukemie het. Die dokters wat Lenae behandel het, het besluit dat verpakte rooi bloedselle en bloedplaatjies oorgetap moes word en dat daar onmiddellik met chemoterapie begin moes word.

Lenae het gesê dat sy geen bloed of bloedprodukte wou hê nie, dat sy geleer is dat God dit verbied, soos die Bybelboeke Levitikus en Handelinge toon. “Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:28, 29). Haar ouers het haar in haar standpunt gesteun, maar Lenae het beklemtoon dat dit haar besluit is en dat dit vir haar baie belangrik is.

Die dokters het verskeie kere met Lenae en haar ouers gesels. Hulle het haar nogtans weer een middag besoek. Lenae het oor dié besoek gesê: “Ek het baie swak gevoel van al die pyn en het al baie bloed opgebring. Hulle het my dieselfde vrae gevra, net op ’n ander manier. Ek het weer vir hulle gesê: ‘Ek wil geen bloed of bloedprodukte hê nie. Ek sal eerder sterf, indien nodig, as wat ek my belofte aan Jehovah God om sy wil te doen, verbreek.’”

Lenae het verder gesê: “Hulle was die volgende oggend terug. Die plaatjies het minder geword en my koors was steeds hoog. Ek kon sien dat die dokter dié keer meer na my geluister het. Hoewel hulle nie van my standpunt gehou het nie, het hulle tog gesê dat ek ’n baie volwasse 12-jarige is. My kinderarts het later ingekom en vir my gesê dat hy jammer is, maar dat niks behalwe die chemoterapie en bloedoortappings my sou help nie. Hy het geloop en gesê dat hy later sou terugkom.

“Nadat hy weg is, het ek vreeslik begin huil omdat hy my hele lewe lank al my dokter is en ek nou gevoel het dat hy my in die steek gelaat het. Toe hy later terugkom, het ek vir hom gesê hoe hy my laat voel het—dat hy nie meer vir my omgee nie. Dit het hom verbaas en hy het gesê dat hy jammer is. Hy het nie bedoel om my seer te maak nie. Hy het na my gekyk en gesê: ‘Wel, Lenae, as dit dan nou so móét wees, dan sal ek jou in die hemel sien.’ Hy het sy bril afgehaal en met groot trane in sy oë gesê dat hy my liefhet en my ’n stywe drukkie gegee. Ek het hom bedank en gesê: ‘Dankie. Ek het jou ook lief, dr. Gillespie, maar ek hoop om in die opstanding op ’n paradysaarde te woon.’”

Toe het twee dokters en ’n regsgeleerde gekom, vir Lenae se ouers gesê dat hulle alleen met haar wil gesels en haar ouers gevra om die kamer te verlaat, wat hulle toe gedoen het. Gedurende hierdie hele bespreking was die dokters baie bedagsaam en vriendelik en was hulle beïndruk deur Lenae se sterk godsdiensoortuiging en die feit dat sy haar goed kon uitdruk.

Toe hulle alleen met haar was, het hulle vir haar vertel dat sy besig was om aan leukemie te sterf en gesê: “Maar bloedoortappings sal jou lewe verleng. As jy bloed weier, sal jy binne ’n paar dae sterf.”

“As ek bloed neem”, het Lenae gevra, “hoe lank sal dit my lewe verleng?”

“Ongeveer drie tot ses maande”, het hulle geantwoord.

“Wat kan ek in ses maande doen?” het sy gevra.

“Jy sal sterk word. Jy kan baie dinge doen. Jy kan Disney World besoek. Jy kan baie ander plekke besoek.”

Lenae het ’n bietjie daaroor nagedink en toe geantwoord: “Ek het Jehovah my hele lewe lank gedien, 12 jaar lank. Hy het my die ewige lewe in die Paradys belowe as ek hom gehoorsaam. Ek sal nie nou my rug op hom keer sodat ek ses maande kan lewe nie. Ek wil getrou wees tot ek sterf. Dan weet ek dat hy my op sy bestemde tyd uit die dood sal opwek en my die ewige lewe sal gee. Dan sal ek meer as genoeg tyd hê om alles te doen wat ek graag wil doen.”

Dit was duidelik dat die dokters en die regsgeleerde beïndruk was. Hulle het haar geprys en het uitgegaan en vir haar ouers gesê dat sy soos ’n volwassene dink en praat en dat sy in staat is om haar eie besluite te neem. Hulle het aanbeveel dat die Valley-kinderhospitaal se etiekkomitee Lenae as ’n volwasse minderjarige moet beskou. Hierdie komitee, wat uit dokters en ander professionele gesondheidswerkers bestaan, asook ’n professor van etiek wat aan die Fresno-staatsuniversiteit verbonde is, het besluit om Lenae toe te laat om haar eie besluite met betrekking tot haar mediese behandeling te neem. Hulle het Lenae as ’n volwasse minderjarige beskou. Daar is nie om ’n hofbevel aansoek gedoen nie.

Ná ’n lang, moeilike nag, om 6:30 vm. op 22 September 1993, het Lenae in haar ma se arms gesterf. Die waardigheid en kalmte van daardie nag is iets wat diegene wat teenwoordig was nooit sal vergeet nie. Daar was 482 wat die gedenkdiens bygewoon het, waaronder dokters, verpleegsters en onderwysers wat deur Lenae se geloof en onkreukbaarheid beïndruk is.

Lenae se ouers en vriende was baie dankbaar dat die dokters en verpleegsters sowel as die administrateurs van die Valley-kinderhospitaal soveel insig getoon het deur die volwassenheid van hierdie minderjarige te erken en dat geen hofsaak nodig was om daaroor te besluit nie.

Crystal Moore

Die 17-jarige Crystal Moore is nie met sulke bedagsaamheid behandel toe sy in die Columbia- Presbiteriaanse Mediese Sentrum in die stad New York opgeneem is nie. Sy het aan verswerende dikdermontsteking gely. Toe Crystal in die hospitaal opgeneem is, het sy sowel as haar ouers herhaaldelik beklemtoon dat sy weier om bloed te neem. Sy wou nie sterf nie; sy wou liewer mediese behandeling hê wat in ooreenstemming is met die Bybel se gebod om haar van bloed te weerhou.—Handelinge 15:28, 29.

Die mediese span wat na Crystal omgesien het, was seker dat haar toestand ’n bloedoortapping vereis het. Een dokter het botweg gesê: “As Crystal nie teen Donderdag, 15 Junie, ’n bloedoortapping kry nie, sal sy teen Vrydag, 16 Junie, dood wees!” Crystal was nie op 16 Junie dood nie en die hospitaal het by die Appèlhof van die staat New York toestemming gevra om bloedoortappings op haar af te dwing.

Tydens die verhoor, wat inderhaas daardie oggend by die hospitaal byeengeroep is, het een van die geneeshere getuig dat Crystal dadelik twee eenhede bloed nodig gehad het en dat sy dalk ten minste ’n bykomende tien eenhede sou nodig hê. Hy het verder gesê as Crystal haar teen die oortappings sou verset, sou hy haar met gewrigs- en beenbande aan die bed vasbind om haar die bloedoortapping te gee. Crystal het vir die dokters gesê dat sy sou “gil en skreeu” as hulle haar ’n bloedoortapping sou probeer gee en dat sy, as een van Jehovah se Getuies, enige gedwonge toediening van bloed net so afstootlik soos verkragting beskou.

Ondanks haar advokaat se herhaaldelike versoeke tydens die verhoor is Crystal die geleentheid ontsê om self voor die hof te getuig en te toon dat sy die vermoë het om haar eie besluite te neem. Hoewel Crystal kort tevore ’n toekenning in ’n program vir jong toppresteerders gekry het ter erkenning van haar akademiese voortreflikheid en leierskapvermoëns by haar hoërskool, het die verhoorregter geweier dat sy amptelik in die hof getuig oor haar weiering om bloed te neem. Dit het neergekom op ’n ontkenning van Crystal se reg om haarself te verdedig, haar reg tot liggaamlike selfbeskikking, persoonlike privaatheid en godsdiensvryheid.

Hoewel die verhoorhof Crystal nie wou toelaat om amptelik in die hof te getuig nie, het die hof Crystal ongeveer 20 minute lank alleen in haar kamer besoek. Ná die besoek het die verhoorregter gesê dat Crystal “klaarblyklik baie intelligent” en “welsprekend” is en het verduidelik dat Crystal “beslis gesond van verstand is” en dat sy “haarself ten volle kan uitdruk”. Ondanks hierdie waarnemings was die verhoorhof onversetlik en het hulle geweier om Crystal die geleentheid te gee om oor haar eie mediese sorg te besluit.

Op Sondagoggend, 18 Junie, moes Crystal ’n noodoperasie ondergaan en het sy tot die operasie ingestem, maar het aangehou om bloed te weier. Sy het net 50-100 milliliter bloed gedurende die operasie verloor. Die geneeshere het nogtans beweer dat ’n bloedoortapping dalk ná die operasie nodig sou wees. ’n Ander dokter het getuig dat geen bloedoortapping nodig is nie. Hy het die afgelope 13 jaar gereeld soortgelyke gevalle sonder bloed behandel en geen oortappings was al ooit ná die operasies nodig nie.

Op 22 Junie 1989 het die verhoorhof die hospitaal tydelike toesig oor Crystal gegee met die doel om bloedoortappings te gee net as “dit nodig was om haar te beskerm en haar lewe te red”. Hierdie toesig sou verstryk wanneer Crystal uit die hospitaal ontslaan is. Crystal het nooit bloed nodig gehad nie en geen oortappings is ooit gedoen nie, maar dit is skokkend om te sien hoe die hof Crystal behandel het.

Sedert Crystal uit die hospitaal ontslaan is, het sy haar hoërskoolopleiding met lof voltooi. Kort daarna het sy as een van Jehovah se Getuies ’n voltydse bedienaar geword. Sy het ’n toergids by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City geword en het aangebied om as ’n lid van ’n groep te werk wat Koninkryksale bou en restoureer.

Tog het die dokters by die Columbia- Presbiteriaanse Mediese Sentrum gesê dat sy teen 16 Junie dood sou wees as sy nie op 15 Junie ’n oortapping gekry het nie en dat sy met gewrigs- en beenbande vasgebind sou word as sy weerstand teen die bloedoortapping sou bied. Wanneer dokters, wat hofbevele wil aanvra om bloed af te dwing, summier sê dat die pasiënt sal sterf as die regter dit nie dadelik toestaan nie, kan hulle gerus Crystal Moore se geval onthou.

Lisa Kosack

Lisa se eerste nag in Toronto se Hospitaal vir Siek Kinders was erger as ’n nagmerrie. Sy is vieruur die middag opgeneem en ’n klomp toetse is dadelik op haar gedoen. Sy het eers kwart oor elf daardie aand in haar kamer gekom. Teen middernag—wel, laat Lisa vertel wat gebeur het. “Teen middernag het ’n verpleegster ingekom en gesê: ‘Ek moet vir jou bloed gee.’ Ek het uitgeroep: ‘Ek kan nie bloed neem nie, want ek is een van Jehovah se Getuies! Ek hoop jy weet dit! Ek hoop jy weet dit!’ ‘Wel, ja, ek weet’, het sy gesê en dadelik my binne-aarse voeding uitgepluk en die bloed ingedruk. Ek het gehuil en histeries begin raak.”

Wat ’n gevoellose en wrede manier om ’n siek en vreesbevange 12-jarige meisie in die middel van die nag in ’n vreemde omgewing te behandel! Lisa se ouers het haar na Toronto se Hospitaal vir Siek Kinders toe geneem in die hoop dat hulle vriendelike en tegemoetkomende dokters sou vind. Pleks daarvan is hulle dogter aan ’n vreesaanjaende middernagtelike bloedoortapping onderwerp, ondanks Lisa sowel as haar ouers se standpunt dat bloed en bloedprodukte ’n skending van God se wet is en nie gebruik moet word nie.—Handelinge 15:28, 29.

Die volgende oggend het die hospitaal ’n hofbevel vir oortappings aangevra. Die verhoor het vyf dae geduur en is deur regter David R. Main gelei. Dit is in ’n hospitaalvertrek gehou en Lisa het dit al vyf dae bygewoon. Lisa het akute miëlogene leukemie gehad, ’n toestand wat meestal noodlottig is, hoewel die dokters getuig het dat die kans op herstel 30 persent is. Hulle het herhaalde bloedoortappings voorgeskryf, asook intensiewe chemoterapie—’n behandeling wat verskriklike pyn en verswakkende newe-effekte insluit.

Op die vierde dag van die hofsaak het Lisa getuienis afgelê. Een van die vrae wat aan haar gevra is, was hoe die middernagtelike bloedoortapping wat op haar afgedwing is haar laat voel het. Sy het verduidelik dat dit haar soos ’n hond laat voel het wat vir ’n eksperiment gebruik is, dat sy gevoel het of sy verkrag is en dat die blote feit dat sy minderjarig is party mense laat dink het dat hulle enigiets aan haar kan doen. Sy het dit gehaat om iemand anders se bloed in haar te sien inloop en het gewonder of sy vigs of hepatitis of van die ander oordraagbare siektes daarvan sou kry. En sy was veral bekommerd oor wat Jehovah van haar sou dink omdat sy sy wet teen bloed verbreek het deur iemand anders se bloed in haar liggaam in te neem. Sy het gesê as dit ooit weer sou gebeur, “sou [sy] baklei en die paal met die sakkie bloed bo haar bed omskop en die naald uitruk, ongeag hoe seer dit is, en dat sy gate in die sakkie bloed sou steek”.

Haar advokaat het gevra: “Hoe laat dit jou voel dat die Kinderhulpvereniging vra dat toesig van jou ouers weggeneem en aan hulle gegee word?”

“Wel, dit maak my baie, baie kwaad; dit laat my dink dat hulle wreed is, want my ouers het my nog nooit geslaan nie, hulle het my lief en ek het hulle lief, en wanneer ek ook al siek was met ’n septiese seerkeel of verkoue of enigiets het hulle na my omgesien. Hulle hele lewe het om my gedraai en vir iemand om nou te kom, net omdat hy nie saamstem nie, en my net van hulle af weg te neem, dink ek is baie, baie gemeen en dit ontstel my baie.”

“Wil jy sterf?”

“Nee, ek dink nie daar is enigiemand wat wil sterf nie, maar as ek wel sterf, sal ek nie bang wees nie, want ek weet dat ek die hoop het om vir ewig in ’n paradys op aarde te leef.”

Daar was min wat nie trane in hulle oë gehad het nie toe Lisa moedig gepraat het oor haar naderende dood, haar geloof in Jehovah en haar vasbeslotenheid om aan sy wet oor die heiligheid van bloed gehoorsaam te bly.

“Lisa,” het haar advokaat verder gevra, “sal dit enige verskil aan jou maak om te weet dat die hof jou beveel om bloedoortappings te neem?”

“Nee, want ek gaan nog getrou bly aan my God en na sy bevele luister, want God is baie hoër as enige hof of enige mens.”

“Lisa, wat wil jy hê moet die regter in hierdie saak besluit?”

“Wel, wat ek wil hê die regter in dié saak moet besluit, is om my net na my ouers toe terug te stuur en my weer in hulle sorg te plaas sodat ek gelukkig kan wees, en sodat ek huis toe kan gaan en in ’n gelukkige omgewing kan wees.”

En dit is presies wat regter Main besluit het. Hier is ’n paar aanhalings uit sy beslissing.

“L. het hierdie hof duidelik en saaklik meegedeel dat sy al haar kragte sal inspan om daardie oortapping te beveg as daar probeer sou word om haar ’n bloedoortapping te gee. Sy het gesê, en ek glo haar, dat sy sal skreeu en worstel en dat sy die inspuittoestel uit haar arm sal ruk en sal probeer om die bloed in die sak oor haar bed te laat uitloop. Ek weier om enige bevel uit te reik wat hierdie kind daardie beproewing sal laat deurmaak.”

Aangaande die middernagtelike oortapping wat op haar afgedwing is, het hy gesê:

“Ek kan nie anders as bevind dat daar, ingevolge subartikel 15(1), op grond van haar godsdiens en haar ouderdom teen haar gediskrimineer is nie. Toe ’n bloedoortapping onder hierdie omstandighede aan haar gegee is, is haar reg op persoonsekuriteit ingevolge Artikel 7 geskend.”

Sy indrukke van Lisa self is interessant:

“L. is ’n pragtige, uiters intelligente, welsprekende, beleefde, sensitiewe en allerbelangriks, ’n moedige mens. Sy het wysheid en volwassenheid ver bo haar jare en ek dink ek kan met sekerheid sê dat sy al die positiewe eienskappe het wat enige ouer in ’n kind wil hê. Sy het ’n weldeurdagte, onwrikbare en helder godsdiensoortuiging. Na my mening sal geen aanbeveling uit watter bron ook al, of druk van haar ouers of enigiemand anders, ’n bevel van hierdie hof inkluis, haar godsdiensoortuiging laat wankel of verander nie. Ek is van mening dat L. K. die geleentheid gegun moet word om hierdie siekte met waardigheid en gemoedsrus te bestry.”

“Aansoek van die hand gewys.”

Lisa en haar gesin het die hospitaal daardie dag verlaat. Lisa het haar siekte inderdaad met waardigheid en gemoedsrus bestry. Sy het vreedsaam by die huis, in die liefdevolle arms van haar ma en pa, gesterf. Sodoende het sy haar by baie ander jong Getuies van Jehovah geskaar wat God eerste gestel het. Sy sal gevolglik saam met hulle die vervulling van Jesus se belofte geniet: “Wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.”—Mattheüs 10:39.

Ernestine Gregory

Toe Ernestine 17 was, is daar vasgestel dat sy leukemie het. Toe sy in die hospitaal opgeneem is, het sy geweier om in te stem tot die gebruik van bloedprodukte ter ondersteuning van die chemoterapie wat die dokters haar wou gee. Omdat Ernestine geweier het en haar ma haar in haar keuse van bloedlose behandeling ondersteun het, het die hospitaal die saak by die welsynsbeamptes in Chicago, Illinois, VSA, aangemeld, wat op hulle beurt ’n hofbevel aangevra het om bloed te gebruik. ’n Verhoor is gereël waartydens die verhoorhof getuienis aangehoor het van Ernestine, ’n mediese dokter, ’n psigiater en ’n advokaat, sowel as van ander betrokkenes.

Ernestine het vir haar dokter gesê dat sy nie bloed wil hê nie. Dat dit haar eie persoonlike besluit is wat gegrond is op wat sy in die Bybel gelees het. Dat ’n bloedoortapping wat deur ’n hofbevel op haar afgedwing word steeds ’n verontagsaming van God se wet is en dat dit in haar oë verkeerd is, ongeag die hof se gesag. Dat sy nie teen mediese behandeling gekant is nie en dat sy nie wil sterf nie. Dat haar besluit nie daarop neerkom dat sy wil sterf of wil selfmoord pleeg nie; sy vrees egter nie die dood nie.

Stanley Yachnin, M.D., het getuig dat hy “beïndruk [was] deur Ernestine se volwassenheid, haar selfvertroue”, en die opregtheid van haar godsdiensoortuiging. Hy het ook gesê dat Ernestine die aard en die gevolge van haar siekte verstaan. Vanweë haar insig het dr. Yachnin geen nodigheid gesien om ’n psigiater en ’n sielkundige in te roep nie.

’n Psigiater is nogtans ingeroep, Ner Littner, M.D., ’n psigiater wat, nadat hy met Ernestine gepraat het, van mening was dat sy die volwassenheid van iemand tussen 18 en 21 het. Hy het gesê dat Ernestine begryp het wat die gevolge sou wees as sy bloedoortappings aanvaar of weier. Hy het gesê dat sy dit aanvaar het, nie omdat sy onder iemand se beheer was nie, maar omdat sy dit self geglo het. Dr. Littner het gesê dat Ernestine toegelaat moet word om self oor hierdie saak te besluit.

Jane McAtee, ’n advokaat vir die hospitaal, het getuig dat sy ná ’n onderhoud met Ernestine van mening was dat Ernestine die aard van haar siekte verstaan het en dat sy “blykbaar heeltemal in staat was om haar besluit te verstaan en die gevolge daarvan te aanvaar”.

Die hof was ook baie beïndruk met Ernestine se getuienis. Die hof het bevind dat Ernestine ’n volwasse 17-jarige is, dat Ernestine haar besluit self geneem het en dat sy verstaan in watter verskriklike situasie sy is. Maar hoewel sy getoon het dat sy ’n volwasse jong vrou is wat in staat is om self verstandige, intelligente mediese besluite in ooreenstemming met haar diepgewortelde waardes en oortuigings te neem, was dit skokkend dat die verhoorhof ’n bevel uitgereik het wat die bloedoortappings toegelaat het.

Die verhoorhof se bevel is eers na die Appèlhof van Illinois geappelleer. In ’n besluit van twee teen een het die Appèlhof beslis dat Ernestine nie gedwing kon word om bloedoortappings teen haar wil te kry nie. Die hof het geredeneer dat Ernestine se Eerste Wysigingsreg tot godsdiensvryheid tesame met haar grondwetlike reg tot privaatheid haar reg as ’n volwasse minderjarige beskerm het om bloedoortappings op grond van godsdiensredes te weier.

Die kinderwelsynsbeamptes het toe geappelleer en die Appèlhof se besluit na Illinois se Hoogste Hof geneem. Illinois se Hoogste Hof het dit bevestig en het beslis dat Ernestine, ten spyte van die feit dat sy ’n minderjarige is, die reg gehad het om die mediese behandeling te weier waarteen sy beswaar gehad het. Hierdie hoogste hof het sy besluit gegrond op die gemene reg op liggaamlike selfbeskikking en die wet op volwasse minderjariges. Die standaard wat in Illinois in gevalle van volwasse minderjariges toegepas moet word, is deur Illinois se Hoogste Hof in die volgende verklaring opgesom:

“As daar duidelike en oortuigende getuienis is dat die minderjarige volwasse genoeg is om die gevolge van haar optrede te begryp en dat die minderjarige volwasse genoeg is om die oordeel van ’n volwassene uit te oefen, dan gee die regsbeginsel ten opsigte van volwasse minderjariges haar die gemene reg om tot mediese behandeling in te stem of dit te weier.”

Ernestine het geen chemoterapie of bloedoortappings gekry nie, en tog het sy nie aan haar leukemie gesterf soos die dokters die hof wou laat glo het nie. Ernestine het vasgestaan en God eerste gestel, soos die ander jongmense wat vroeër genoem is. Elkeen het “krag [ontvang] wat die normale te bowe gaan”.—2 Korinthiërs 4:7, NW.

[Venster op bladsy 13]

Gevare van bloedoortappings

The New England Journal of Medicine van 14 Desember 1989 het berig dat ’n enkele eenheid bloed genoeg van die vigs-virus kan bevat om tot 1,75 miljoen mense te besmet!

In 1987, nadat dit bekend geword het dat die bloedvoorraad wat van vrywilligers afkomstig is vigs oorgedra het, het die boek Autologous and Directed Blood Programs gesê: “Dit was die bitterste mediese ironie; dat die kosbare, lewegewende gawe van bloed ’n instrument van die dood kan wees.”

Dr. Charles Huggins, direkteur van die bloedoortappingsdiens by ’n hospitaal in Massachusetts, VSA, het gesê: “Dit is die gevaarlikste bestanddeel wat ons in die geneeskunde gebruik.”

Die Surgery Annual het so afgesluit: “Dit is duidelik dat die veiligste oortapping dié een is wat nie gegee word nie.”

Aangesien die kanse baie groter is dat kanker sal terugkeer ná operasies waar bloedoortappings gebruik is, het dr. John S. Spratt in The American Journal of Surgery vir September 1986 gesê: “Die kankerchirurg sal moontlik ’n bloedlose chirurg moet word.”

Die tydskrif Emergency Medicine het gesê: “Ons ondervinding met Jehovah se Getuies kan moontlik vertolk word as ’n aanduiding dat ons nie soveel op bloedoortappings, met al hulle potensiële komplikasies, hoef te steun as wat ons eers gedink het nie.”

Die tydskrif Pathologist het verwys na die weiering van Jehovah se Getuies om bloed te neem en het gesê: “Daar is aansienlike bewyse om hulle argument te staaf, ondanks bloedbankhandelaars se besware in stryd hiermee.”

Dr. Charles H. Baron, ’n professor in die regte aan die Boston-kollege se Regsfakulteit, het oor Jehovah se Getuies se weiering om bloed te neem, gesê: “Die hele Amerikaanse gemeenskap het daarby baat gevind. Vanweë die werk van die Getuies se Hospitaalskakelkomitees is daar vandag vir Jehovah se Getuies, sowel as vir pasiënte in die algemeen, ’n geringer moontlikheid dat hulle onnodig bloedoortappings gegee sal word.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel