Hoe ek my gesin gehelp het om geestelik ryk te word
Soos vertel deur Josephat Busane
Ek sal nooit ’n treinreis vergeet wat ek in Januarie 1941 na Johannesburg onderneem het nie. Ek en Elias Kunene, wat as kinders saam grootgeword het, het teruggekeer na ons werkplek nadat ons ’n vakansie in Zululand geniet het.
SAAM met ons op die trein was daar ’n jong man wat ’n bietjie moetie gehad het; dit is medisyne wat glo bonatuurlike krag het en gewoonlik by ’n toordokter verkry word. Die man het die moetie aan sy wenkbrou gesmeer omdat hy geglo het dat hy sodoende die guns van sy wit werkgewer sou geniet. Terwyl ons van die trein afgeklim het, het Elias gesê: “Daardie moetie is sy god.” Daardie woorde het my hart soos ’n mes deurboor omdat ek in my sak my eie moetie gehad het wat ek volgens ’n toordokter se voorskrif voorberei het.
Ek en Elias het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, en ek het dus besef dat hy geestelik baie groter vooruitgang as ek gemaak het. Ek het die moetie dadelik in ’n vullisdrom gegooi en daarna gereeld saam met Elias die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon.
Ek en Elias was albei getroud. Waarom het ons dan in ’n stad ongeveer 400 kilometer van die huis af gewerk? Hoe het die stadslewe met die plaaslewe in Zululand vergelyk? En het ons assosiasie met Jehovah se Getuies ons gesin tuis tot voordeel gestrek?
Die lewe in Zululand
Ek is in 1908 in Zululand gebore. Ons gesin het in die Msinga-distrik gewoon, ’n gebied met grasvlaktes, heuwels en doringbome. Hier in die herfs bedek die gepunte blomme van die aalwyn die landskap met ’n rooi gloed. Beeste en bokke wei tussen die bome op die heuwelhange. Krale en lappe mielies, die Zuluvolk se stapelvoedsel, lê oor die vlaktes verspreid.
Ons kraal het, soos die ander, uit ’n hut vir my ouers, een vir my suster en een vir my en my broer bestaan. ’n Ander hut het as die gesinskombuis gedien, en daar was een waarin ons goed geberg het. Elke hut was keëlvormig en het ’n moddermuur van ongeveer ’n meter hoog en ’n grasdak gehad. Tussen die hutte het hoenders in die grond geskrop en kos gesoek, en nie ver daarvandaan nie was daar ’n kamp vir die beeste. Ons gesin was tevrede met hierdie eenvoudige plaaslewe. Ons het kos en blyplek gehad, en dit was nie nodig dat my pa weg van die huis af moes werk nie.
Tog is die plattelandse rustigheid van Zululand al dikwels versteur. Hierdie pragtige heuwels en riviere is al met mensebloed deurdrenk. Aan die begin van die 19de eeu is Zululand deur verskeie onafhanklike stamme beset. Toe het ’n Zulukrygsman met die naam Shaka op die toneel verskyn. Sy leër het al die omliggende stamme aangeval. Oorlewendes het gevlug of het ’n deel van die Zulunasie geword.
Later was daar gevegte tussen die Zulu’s en die Boere. By ’n rivier nie ver van ons huis af nie is so ’n geveg gevoer. Soveel bloed het daar gevloei dat die water rooi geword het, en daarom is dit Bloedrivier genoem. Daarna het die Britse leërs gekom. By ’n heuwel wat Isandlwana genoem word, nie ver van my huis af nie, is duisende mense in een van talle hewige gevegte tussen Britse en Zulusoldate doodgemaak. Ongelukkig was daar nog nooit blywende vrede in ons deel van Zululand nie. Af en toe vlam daar ou stamhaat op.
Op soek na materiële rykdom
My ma is oorlede toe ek vyf was. My pa en my ouer suster, Bertina, het na my omgesien en my gehelp om ses jaar se skoolopleiding te verkry. Toe het ek, op 19, as ’n winkelassistent in die nabygeleë dorp Dundee begin werk.
Ek het gehoor dat baie jong manne in die stad Johannesburg, wat die middelpunt van Suid-Afrika se goudmynbedryf is, meer geld verdien het. Ek het dus die volgende jaar na Johannesburg verhuis en jare lank gewerk deur advertensieplakkate in openbare plekke aan te bring.
In Johannesburg is ek deur die aanloklikhede en geleenthede oorweldig, maar ek het spoedig besef dat die stadslewe die tradisionele sedes van my volk ondermyn het. Hoewel talle jong mans hulle gesin in die platteland in die steek gelaat het, het ek egter nooit van myne vergeet nie en gereeld vir hulle geld huis toe gestuur.
My pa is in 1938 oorlede. As die oudste seun is ek deur Zulutradisie verplig om ons gesinskraal te “laat herlewe”. Ek is dus die volgende jaar met ’n meisie van Zululand, Claudina Madondo, getroud. Hoewel ek getroud was, het ek steeds 400 kilometer daarvandaan in Johannesburg bly werk. Die meeste van my portuurs het dieselfde gedoen. Hoewel dit pynlik was om lank van my gesin af weg te wees, het ek verplig gevoel om hulle te help om ’n hoër lewenstandaard te handhaaf.
Materiële of geestelike rykdom?
Ma was die enigste kerkganger in ons gesin, en haar Bybel was die enigste boek in ons huis. ’n Ruk ná haar dood het ek leer lees en dadelik die Bybel begin lees. Maar die kerk se leerstellings en gebruike het my begin pla. Lidmate het byvoorbeeld steeds aansien geniet hoewel hulle gehoereer het. Ek het leraars oor sulke teenstrydighede uitgevra, maar niemand het my ’n bevredigende verduideliking gegee nie.
Terwyl ek en Elias Kunene in Johannesburg was, het ons besluit om na die ware geloof te soek. Ons het kerke in ons buurt besoek, maar ons was nie met enigeen van hulle tevrede nie. Toe het Elias Jehovah se Getuies ontmoet. Toe hy vir my probeer verduidelik het wat hy by hulle geleer het, het ek vir hom gesê dat hy mislei is. Maar nadat ek na sy gesprek met kerkleiers geluister het en gesien het dat hulle hom nie verkeerd kon bewys nie, het ek die Wagtoringgenootskap se publikasies begin lees wat Elias my gegee het. Dit was op hierdie tydstip dat ek die onvergeetlike treinreis onderneem het waartydens Elias my help besef het watter gevaar dit inhou om op moetie te vertrou.—Deuteronomium 18:10-12; Spreuke 3:5, 6.
Ek het toe saam met Elias begin om gereeld met die eerste swart gemeente van Jehovah se Getuies in Johannesburg te assosieer. In 1942, nadat ek my lewe aan Jehovah toegewy het, is ek in Orlando, Soweto, gedoop. Tydens my besoeke tuis in Zululand het ek Claudina van my oortuiging probeer vertel, maar sy was diep by kerkbedrywighede betrokke.
Sy het egter ons lektuur met haar Bybel begin vergelyk, en die waarheid van God se Woord het geleidelik haar hart bereik. In 1945 is sy gedoop. Sy het ’n ywerige Christenbedienaar geword en het Bybelwaarhede aan haar bure verkondig en by ons kinders se hart ingeskerp.
Ek het intussen in Johannesburg die voorreg geniet om ’n paar mense te help om Bybelwaarhede te leer ken. Teen 1945 was daar vier swart gemeentes in die omgewing van Johannesburg, en ek het as die presiderende opsiener van die Small Market-gemeente gedien. Skriftuurlike leiding is mettertyd aan getroude mans gegee wat ver van hulle huis af gewerk het om na hulle gesin terug te gaan en meer aandag aan hulle verantwoordelikhede as gesinshoof te skenk.—Efesiërs 5:28-31; 6:4.
Elias het Johannesburg voor my verlaat en het nooit weer van sy gesin weggegaan nie. As gevolg daarvan het sy vrou en al vyf sy kinders bedrywige Getuies van Jehovah geword. Elias het ook vier verweesde nefies en niggies grootgemaak, wat toegewyde Getuies geword het. Hy is in 1983 oorlede en het ’n goeie voorbeeld gestel deur die leiding wat Jehovah deur sy Woord en sy aardse organisasie voorsien getrou te volg.
In 1949 het ek uit my werk in Johannesburg bedank om op Jehovah se manier na my gesin om te sien. Tuis het ek by ’n vee-inspekteur werk gekry as ’n dipbak-assistent. Dit was moeilik om ’n gesin van ses kinders te onderhou met die karige salaris wat ek ontvang het. Om die uitgawes te dek, het ek dus ook groente en mielies verkoop wat ons tuis verbou het.
Seëninge van groter waarde
Hoewel ons gesin nie materieel ryk was nie, het ons geestelike skatte gehad omdat ons Jesus se raad gevolg het: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde nie, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie.”—Mattheüs 6:19, 20.
Dit verg harde werk om hierdie geestelike skatte te verkry, net soos dit is om in die myne om Johannesburg na goud te grawe. Ek het elke aand ’n Bybelteks met my kinders bespreek en elkeen gevra wat hy geleer het. Oor naweke het ek hulle om die beurt in die predikingswerk uitgeneem. Terwyl ons van kraal tot kraal gestap het, het ek oor skriftuurlike sake gepraat en hulle die Bybel se hoë sedelike standaarde op die hart probeer druk.—Deuteronomium 6:6, 7.
Om seker te wees dat ons kinders nie steel nie, het ek byvoorbeeld seker gemaak dat enige voorwerp wat hulle huis toe bring nie gesteel is nie (Efesiërs 4:28). Ek het eweneens nie geaarsel om die tugroede te gebruik as een van hulle ’n leuen vertel het nie (Spreuke 22:15). Ek het ook vereis dat hulle gepaste eerbied teenoor bejaardes betoon.—Levitikus 19:32.
As gesinshoof het ek ’n voorbeeld gestel deur nie vergaderinge te mis nie, en ek het vereis dat die kinders dit ook bywoon. Ek het gesorg dat elke kind ’n liedereboek, ’n Bybel en enige ander publikasie het wat by die vergaderinge gebruik word. Ons het ook saam vir ons vergaderinge voorberei, en as ’n kind nie geantwoord het nie, het ek hom probeer help om by die volgende vergadering te antwoord.
Ons was baie jare lank die enigste gesin wat gasvryheid teenoor reisende opsieners kon betoon. Hierdie verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap het ’n goeie invloed op ons kinders gehad en het ’n begeerte in hulle laat ontstaan om pioniers, of voltydse evangeliedienaars, te word. Ek en my vrou was bly toe ons oudste seun, Africa, ná tien jaar se skoolopleiding die pionierdiens betree het. Hy het uiteindelik as ’n reisende opsiener gedien en is later na die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Suid-Afrika genooi, waar hy as ’n vertaler gewerk het. Hy is nou getroud en het ’n gesin. Hy dien as ’n ouere man in ’n gemeente in Zululand, en hy geniet ook die voorreg om die Suid-Afrikaanse takkantoor met regsprobleme te help wat af en toe weens geskille in verband met aanbidding ontstaan.
Ons het vyf seuns en ’n dogter. Al ses kinders is nou volwasse en geestelik sterk. Dit het ons hart met groot vreugde gevul—’n diepe vergenoegdheid wat nooit met materiële dinge gekoop kan word nie. Vier van my seuns dien as ouere manne in die gemeentes van Jehovah se Getuies waarmee hulle assosieer. Een van hulle, Theophilus, geniet nou die voorreg van Betheldiens by die Suid-Afrikaanse takkantoor.
Die verspreiding van die waarheid in Zululand
Toe ek uiteindelik in 1949 teruggekeer het om saam met my gesin in Zululand te woon, was daar net drie Koninkryksverkondigers in ons Collessie-gemeente. Die gemeente het mettertyd groter geword, en ’n tweede gemeente is 30 kilometer daarvandaan in die dorp Pomeroy gestig.
Ons predikingswerk is deur die jare heen soms weens stamgevegte in die gemeenskappe ontwrig. Kerkgangers raak by hierdie stamgevegte betrokke. Dit is net Jehovah se Getuies wat vir hulle neutraliteit bekend is. ’n Geveg het eenkeer tussen die Mabaso- en die maBomvu-stam uitgebreek in ’n gebied waar ek beeste gedip het. Die mense in die gebied was van die Mabaso-stam en sou my normaalweg moontlik doodgemaak het omdat hulle geweet het dat ek van die maBomvu-stam afkomstig is. Maar hulle het ook geweet dat ek een van Jehovah se Getuies is, en hulle het my dus geen leed aangedoen nie.
Gedurende die sewentigerjare het voorvalle van stamgevegte toegeneem, en die Msinga-distrik het baie onveilig geword. Ek en ’n paar ander het besluit om met die gesin na ’n vreedsamer deel van Zululand te verhuis. Ons het ons in 1978 in die dorp Nongoma gevestig, waar ons met die Lindizwe-gemeente begin assosieer het. My dierbare vrou, Claudina, is die volgende jaar oorlede. Haar dood was vir my ’n geweldige skok, en my gesondheid het baie versleg.
Tog het ek, deur Jehovah se onverdiende goedhartigheid, voldoende herstel om twee jaar later die pionierdiens te kon betree. Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah omdat my gesondheid eintlik verbeter het met hierdie toename in die predikingsbedrywigheid! Ek is nou 85 en bestee steeds gemiddeld meer as 90 uur per maand aan die predikingswerk. In Januarie 1992 het ek en my seun Nicholas na Muden verhuis, ’n deel van Zululand waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is.
Hoe dankbaar is ek tog vir die leiding van Jehovah se organisasie wat mense soos ek aangespoor het om meer aandag aan die geestelike behoeftes van ons gesin te skenk! Die seëninge wat daaruit voortgespruit het, is veel beter as enigiets wat geld kan koop (Spreuke 10:22). Ek loof Jehovah om al hierdie dinge en bid dat die tyd aanbreek wanneer sy Koninkryk hierdie aarde in ’n paradys gaan omskep. Dan sal die lewe in hierdie pragtige heuwels en valleie van Zululand vir ewig rustig wees terwyl die inwoners “elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom [sit], sonder dat iemand hulle verskrik”.—Miga 4:4.