Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 7/8 bl. 26-27
  • Moet jy toelaat dat jou gewete jou lei?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet jy toelaat dat jou gewete jou lei?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat dit is
  • Waarom werk dit nie behoorlik nie?
  • Wat kan ons doen?
  • Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • ’n Goeie gewete voor God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Is jou gewete goed opgelei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hoe kan ek my gewete oplei?
    Jongmense vra
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 7/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Moet jy toelaat dat jou gewete jou lei?

TERWYL jy in ’n besige straat af loop, loop jy verby ’n elegant geklede vrou wat onwetend ’n rol note laat val. Terwyl jy buk om dit op te tel, sien jy hoe sy haastig in ’n limousine klim. Wat sal jy doen? Sal jy haar roep of die note vinnig in jou sak steek?

Die antwoord hang van jou gewete af. Wat sal dit vir jou sê om te doen? Nog belangriker, kan jy vertrou wat dit vir jou sê? Kan jy met vrymoedigheid toelaat dat jou gewete jou lei?

Wat dit is

Die gewete is al beskryf as ’n natuurlike aanvoeling vir wat reg en verkeerd, regverdig en onregverdig en sedelik en onsedelik is. Die Bybel beskryf hoe die gewete werk in Romeine 2:14, 15: “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ’n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig.” Jou gewete is dus só gemaak dat dit jou in staat stel om situasies op te som, die regte besluite te neem en jouself te beoordeel op grond van die besluite wat jy geneem het. Maar kan jy dit vertrou?

Dit hang van sekere dinge af. Daar is per slot van rekening afdoende bewys dat ’n dwalende gewete daartoe kan lei dat ’n mens doen wat verkeerd is. Die feit dat ’n mens se gewete jou toelaat om sekere dinge te doen, beteken nie dat God dit goedkeur nie. Voordat Saulus van Tarsus byvoorbeeld ’n Christen geword het, het hy die leiding geneem in die vervolging van Christene. Hy het selfs die moord van die Christenmartelaar Stefanus goedgekeur en was ’n medepligtige. Deur dit alles het sy gewete hom nie veroordeel nie.—Handelinge 7:58, 59; Galasiërs 1:13, 14; 1 Timotheüs 1:12-16.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het baie SS-soldate in Nazi-Duitsland gesê dat hulle net bevele uitgevoer het toe hulle miljoene in Hitler se konsentrasiekampe gemartel en doodgemaak het. Hulle gewete het hulle toegelaat om dit te doen. Maar die wêreld—om nie eers van God te praat nie—het nie hulle dade goedgekeur nie. Hulle is tereg veroordeel.

Waarom werk dit nie behoorlik nie?

Waarom sal iets wat deur God geskep is, nie behoorlik werk nie? Die Bybel verduidelik. Aangesien die mens as gevolg van Adam se ongehoorsaamheid in sonde verval het, word daar gesê dat sonde “as koning heers” en mense dwing om sy begeertes te bevredig (Romeine 5:12; 6:12, NW). Die mens se gewete, wat aanvanklik volmaak was, het verwronge geraak; die dryfkrag van sonde wedywer nou daarmee (Romeine 7:18-20). Dit het die stryd laat ontstaan waarmee ons so bekend is: “Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. . . . Ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.”—Romeine 7:21-23.

Buiten hierdie oorgeërfde swakheid word ons gewete ook deur uitwendige faktore beïnvloed. Portuurdwang het byvoorbeeld die SS-soldate van die Nazi’s wat vroeër genoem is se gewete klaarblyklik verdraai of onderdruk. (Vergelyk Spreuke 29:25.) Om die verstand boonop met onheilsame dinge te voed, soos onsedelikheid en geweld op TV en in rolprente en boeke, het ook ’n uitwerking. As ons ons gereeld aan sulke dinge blootstel, sal dit uiteindelik lyk asof hulle nie so sleg is nie, en ons gewete sal verswak. Om dit anders te stel: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33.

As iemand geleer word om God se wette te ken en te respekteer, sal sy gewete uit die aard van die saak ’n betroubaarder gids wees as wanneer hy nie so geleer is nie. Tog kan selfs iemand met ’n begrip van, en innige waardering vir, God se weë by geleentheid steeds vind dat sy gewete as gevolg van oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid, en miskien uitwendige invloede, nie ’n betroubare gids is nie.

Wat kan ons doen?

Kan ’n gewete verander word sodat dit sensitiewer is vir die regte beginsels? Ja. Paulus het Christene vermaan dat hulle “deur die gebruik hulle waarnemingsvermoë moet oefen om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:11-14, NW). Dié gebruik en oefening behels onder andere dat ons die Bybel bestudeer en veral ag slaan op die volmaakte voorbeeld wat Jesus Christus vir ons nagelaat het (1 Petrus 2:21, 22). Daarna, namate ons ons waarnemingsvermoë gebruik om besluite te neem, sal ons gewete ons al hoe meer van verkeerde gedagtes en dade af weglei en ons aanspoor om wat eerlik en reg is, te doen.

Ons moet nogtans nooit selfvoldaan raak of sê dat iets in orde is as dit “nie ons gewete pla nie”. Die behoorlike en veilige manier waarop onvolmaakte mense hulle gewete moet gebruik, kan toegelig word deur die versigtigheid van ’n veilige bestuurder. Wanneer ’n bestuurder van baan wil verwissel, kyk hy instinktief eers in sy truspieëltjie. As hy ’n motor sien, weet hy dat dit gevaarlik is om na die ander baan oor te beweeg. Maar selfs al sien hy niks nie, sal die verstandige bestuurder besef dat daar sekere blinde kolle is—nie alles kan te alle tye gesien word deur net op die spieëltjie te vertrou nie. Hy kyk dus nie net in die spieëltjie nie. Hy draai sy kop om te kyk en seker te maak dat die baan oop is voor hy oorbeweeg. Dit is eweneens die geval met die gewete. As dit jou waarsku, moet jy daarop ag slaan! Maar selfs al waarsku dit jou nie in die begin nie, moet jy soos die verstandige motoris wees—stel verdere ondersoek in om seker te maak daar is geen gevaar nie.

Ondersoek jou denkwyse om te sien of dit met God se denkwyse ooreenstem. Gebruik sy Woord as ’n riglyn om jou gewete te beoordeel. Die wyse raad in Spreuke 3:5, 6 is: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”

Dit is dus verstandig om na jou gewete te luister. Maar dit is nog verstandiger om alles wat ons doen met God se wil te vergelyk soos dit in sy Woord uiteengesit word. Slegs dan kan ons met sekerheid sê: “Ons is oortuig dat ons ’n goeie gewete het.”—Hebreërs 13:18; 2 Korinthiërs 1:12.

[Prent op bladsy 26]

“Die bekering van St. Paulus”

[Erkenning]

Painting by Caravaggio: Scala/Art Resource, N.Y.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel