’n Kykie na brille
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
LEES jy nou met behulp van ’n bril? Wel, jy is hoegenaamd nie die enigste een nie. Omtrent 60 persent van die Britse bevolking dra byvoorbeeld tans ’n bril.
Gevolglik het dit so alledaags geword om ’n bril te dra dat jou vriende waarskynlik slegs ’n opmerking daaroor sal maak as jy ’n ander raam gekry het of besluit het om jou bril glad nie te dra nie. Die meeste van ons raak so gewoond aan ons bril dat ons dit feitlik werktuiglik opsit en afhaal—behalwe as dit teen ons neus begin afgly of vol wasem begin word.
Die meeste brildraers sal egter normale gesigsvermoë bo ’n stylvolle raam verkies. ’n Bril kan ’n oorlas wees. Nietemin was mense met swak oë nog nooit so goed daaraan toe nie.
Vroeë hulpmiddels om beter te kan sien
Om die gladiatoriese spele beter te kon sien, het die Romeinse keiser Nero blykbaar ’n lens uit smarag laat maak—’n bra duur en ondoeltreffende manier om vir verswakkende oë te kompenseer. In antieke tye is lense ook uit kristalglas, kwarts, ametis, beril en topaas vervaardig. Maar omstreeks 1268 het die Engelse monnik Roger Bacon beskryf hoe ’n skerf van ’n glasbal as ’n leeshulp gebruik kon word. Omtrent dieselfde tyd het die eerste brille—rame met primitiewe lense daarin—verskyn.
Wie het dit eerste uitgevind—die Italianers of die Chinese? Dit is ’n omstrede saak, want dit wil voorkom of die toestel bykans gelyktydig sy verskyning in albei lande gemaak het. Aan die een kant verskyn daar op ’n graftombe in Florence, Italië, dié grafskrif: “Hier lê Salvino d’Armato van die Armati van Florence. Die uitvinder van die bril. Mag God hom sy sondes vergewe.” Niemand is seker wanneer hy gesterf het nie—1285, 1317 of 1340. Daarenteen het die groot Italiaanse ontdekkingsreisiger Marco Polo baie mense in China sien bril dra toe hy laat in die 13de eeu vir die eerste keer daar aangekom het. Trouens, volgens oorlewering het mense in China reeds teen 500 G.J. bril gedra.
Hoe dit ook al sy, die optiese handel het teen die 16de eeu in Venesië asook Neurenberg en ander Europese sentrums gefloreer. Brille het gesogte ornamente geword en is in baie stede deur straatsmouse verkoop. Maar helaas, die smouse het nie ’n oogtoets saam met hulle ware aangebied nie. Gevolglik is die koper se voorkoms dalk verbeter, maar nie noodwendig sy gesigsvermoë nie!
Die bril in ons dag
Brille het voortdurend verbeter. Hulle is voorheen met linte aan die ore vasgemaak of deur middel van ’n veerklem op die neus vasgeknyp. Teen die vroeë 18de eeu het iemand met die idee vorendag gekom om brille met stewige oorstukke in posisie te hou. Dit is steeds die gewildste metode.
Lensvervaardiging het ook aansienlik verbeter. Optiese glas van hoë gehalte het uiteindelik deursigtige kristalagtige stowwe vervang. Sir Isaac Newton se 17de-eeuse eksperimente met prismas het tot ’n begrip van ligbreking gelei. Presisielense kon dus met wetenskaplike noukeurigheid vervaardig word.
In 1784 het die Amerikaanse staatsman Benjamin Franklin ’n vindingryke oplossing gevind vir ’n probleem wat hy met sy bril gehad het. Met sy leesbril kon hy nie ver sien nie, en met die bril waarmee hy ver kon sien, kon hy nie lees nie. Hy het geredeneer: Waarom dan nie die twee soorte lense saamvoeg om een bril te maak in plaas van gedurig die twee brille te moet omruil nie? Dit was die begin van die bivokale bril. Maar nog honderd jaar het verloop voor ’n doeltreffende manier ontwikkel is om dit te vervaardig.
Verskillende soorte optiese glas is ook beskikbaar om in gespesialiseerde behoeftes te voorsien. Lamel- of versterkte lense kan in veiligheidsbrille aangebring word sodat werkers se oë teen vlieënde deeltjies beskerm word. Party lense is liggevoelig: wanneer hulle aan helder sonlig blootgestel word, word hulle donker, en in die skaduwee of binnenshuis word hulle weer helder. Nog ander lense is van plastiek, wat brille aansienlik ligter maak en mense met dik lense in staat stel om sonder ongerief bril te dra.
‘Ék? ’n Bril?’
Maar miskien is jy een van die min gelukkiges wat met volmaakte gesigsvermoë begaaf is. Maar dalk bly dit nie lank so nie.
‘Sê jy dat ek eendag dalk ’n bril sal moet dra?’ vra jy. Ja, jy sal waarskynlik moet, al is die wêreld op die oomblik vir jou helder. Waarom? Wel, om maar een ding te noem: teen die tyd dat jy 45 is—of ouer—sal jy waarskynlik die gevolge van presbiopie opmerk. Moet nou nie vir daardie woord skrik nie. Al wat dit beteken, is dat die lense in jou oë nie so doeltreffend soos in jou jeug van naby na ver sal fokus nie. ’n Bril is net een van die gevolge van die verouderingsproses.
Dra jou ouers bril? Baie meen dat oogprobleme geneties is. Dan is dit dalk reeds vooruit bepaal dat jy eendag ’n bril sal moet dra.
Mettertyd kan ouderdom, gene en gewoontes egter nadelige gevolge hê en algemene oogkwale veroorsaak, soos versiendheid (hiperopie), bysiendheid (miopie), astigmatisme (’n afwyking in die kromming van die kornea) en skeelheid (strabismus). As jy aan enige van die bogenoemde kwale ly, word ’n besoek aan ’n oogarts (byvoorbeeld ’n optometris) aanbeveel. Daarna hoef jy bloot ’n raam te kies waarvan jy hou.—Sien venster.
Versorging van jou bril
’n Bril kan nogal duur wees, en jy is dalk daarvan afhanklik om jou daaglikse take te verrig. Pas dit dus mooi op. Moet nooit ’n bril op sy lense neersit wanneer jy dit afhaal nie. Maak ook seker dat jy dit nie neersit waar iemand daarop kan sit of trap nie. ’n Bril word gewoonlik gou vuil, en daarom moet die lense elke dag met ’n sagte, droë lap afgevee word en die raam van tyd tot tyd in warm seepwater gewas word. As jy jong kinders het wat bril dra, sal jy moontlik vind dat hulle bril meer dikwels skoongemaak moet word.
Maar wat moet jy doen as jou raam buig en dit nie meer behoorlik pas nie? Neem dit na jou brilmaker om herstel te word pleks van ’n kans te waag en dit self te doen.
Met behoorlike sorg sal jy jou bril lank kan gebruik. O, dit sal miskien nog steeds van tyd tot tyd hinderlik wees, maar dit verbeter wel jou gesigsvermoë—en miskien selfs jou voorkoms. Dít is tog sekerlik ’n bietjie ongerief werd, nie waar nie?
[Venster op bladsy 22]
Brille en die mode
‘’n Bril sal my voorkoms bederf! ’ sê baie wanneer hulle hoor dat hulle ’n bril sal moet dra. Maar mode-ontwerpers het hulle talente so doeltreffend in brilontwerp aangewend dat ’n bril ’n redelik vleiende tooisel kan wees.
In die eerste plek gebruik raamvervaardigers nou nuwe ligte en duursame plastiek, wat die keuse van kleur en grootte amper eindeloos maak. Deur hoëbrekingsindeksglas te gebruik, is dit ook moontlik om sterk lense taamlik dun te maak. En wanneer die lense met ’n antirefleksielagie bedek word, word hulle amper onsigbaar.
As jy modebewus is, kan jy brilrame kies wat by jou klere pas. ’n Brosjure wat deur die Raad vir Optiese Inligting (Brittanje) uitgegee word, beveel aan dat jy ’n raam kies wat by die vorm van jou gesig pas om die aantreklike gelaatstrekke te beklemtoon maar die aandag van dié af te trek wat minder aantreklik is. Wil jy byvoorbeeld jou gesig smaller laat lyk? Dan moet jy volgens die brosjure ’n raam kies wat hoofsaaklik op die brug gekleurd is en ligter word na die kante toe. Sit jou oë naby mekaar? Kies dan ’n raam met ’n kleurlose brug en meer kleur aan die buitekante. Probeer verskillende style en let op die verskillende effekte. Dit sal dalk help as jy ’n goeie vriend of vriendin saamneem op wie jy kan staatmaak om ’n eerlike opinie te gee.
As jy vind dat ’n bril te hinderlik is, kan jy kontaklense oorweeg. Baie mense kan hulle heeldag met gemak dra.