Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 6/22 bl. 12-14
  • Wat van ’n bietjie uithang?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat van ’n bietjie uithang?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer mense uithang
  • Kwajongstreke en oproerigheid
  • Die beste gebruik van tyd
  • Heilsamer bedrywighede
  • Dina kom in die moeilikheid
    My boek met Bybelverhale
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Hoe kan ek pret hê?
    Ontwaak!—1996
  • Waarom het ander jongmense al die pret?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 6/22 bl. 12-14

Jongmense vra . . .

Wat van ’n bietjie uithang?

VIDEO-ARKADES, kitskosrestaurante, straathoeke, plaaslike kafees het—in ryk sowel as arm buurte—die bymekaarkomplekke geword waar jongmense uithang.

Winkelsentrums is besonder gewilde bymekaarkomplekke in die Verenigde State. ’n Mens kan dikwels groepe jongmense ure lank daar sien ronddrentel. “Winkelsentrums sal altyd dié plek wees om heen te gaan”, sê een tienermeisie, “want soveel gebeur daar, en daar is altyd iets wat jou aandag trek—soos die kêrels!”

Sê nou daar is nie ’n winkelsentrum in die omgewing nie? Dan sal ’n oop stuk grond of ’n straathoek net so goed wees. Die 15-jarige Tari sê: “Ek en my maats ry na party groot parkeerterreine in ’n nabygeleë park en sit ure lank op die masjienkap van ons motors en gesels.”—Die tydskrif ’Teen, September 1990.

Daar is natuurlik nie werklik iets nuuts aan uithang nie. Die Bybel vertel van mense in vroeë tye wat op openbare plekke bymekaargekom en “hulle tyd aan niks anders bestee [het] as om iets nuuts te sê of te hoor nie” (Handelinge 17:21, NAV). Maar waarom is hierdie tydverdryf vandag so gewild onder jongmense?

Die boek The Adolescent, deur F. Philip Rice, sê dat adolessente “al hoe meer bewus raak van hulle behoefte om deel van ’n groep uit te maak. Hulle wil hê hulle portuurs moet van hulle hou.” Dit bevredig dus blykbaar ’n behoefte aan kameraadskap en ondersteuning wanneer jy saam met maats uithang.

Ander jongmense beskou dit bloot as ’n manier om verveeldheid teë te werk. Jong Michelle verduidelik: “Dis vervelig om saans tuis te bly. Jy wil uitgaan en pret hê, want anders gaan jy ’n vervelige aand hê.” Die 16-jarige Ed sê uithang is “iets om te doen en dit hou jou min of meer uit die moeilikheid”. Maar is dit werklik die geval?

Wanneer mense uithang

Die Bybel veroordeel dit nie om saam met vriende pret te hê nie. Maar dit waarsku: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Hoeveel van die jongmense wat ledig op die straathoeke staan, kan as wyse mense beskou word—mense wat werklik respek vir Bybelbeginsels het? Hulle is dalk nie noodwendig rusverstoorders nie, maar as ’n groot groep verveelde jongmense sonder toesig is en baie vrye tyd het, kan dit maklik probleme tot gevolg hê.

Daarom stel die Bybel uithang in ’n slegte lig. Dink aan die tyd toe die apostel Paulus en Silas die stad Thessalonika besoek het. Mense wat die Christelike boodskap teëgestaan het, “het met die hulp van ’n klomp nikswerd leeglêers ’n betoging op tou gesit wat die stad in oproer gebring het” (Handelinge 17:5, NAV). Volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words was hierdie leeglêers mense “wat by markte geboer en dus ledig rondgedrentel het”. Klink dit bekend? Hierdie leeglêers het in elk geval waarskynlik min of glad nie in Paulus se boodskap belanggestel nie, maar aangesien hulle niks beters gehad het om te doen nie, kon hulle maklik tot oproerigheid oorgehaal word.

Kwajongstreke en oproerigheid

Dink nou aan hoe maklik probleme kan ontstaan wanneer ’n groep ledige jongmense bymekaarkom. Niemand beplan weliswaar om oproerig te wees nie. “Daar gaan nie veel aan nie”, sê die 16-jarige Ken wat by ’n skool se parkeerterrein uithang. “Ons sit op ons motors en vertel flou grappies of gesels sommer oor afsprake.” Ja, ’n gebabbel oor sport, musiek en die ander geslag hou almal dalk ’n ruk lank besig. Maar jongmense word alte dikwels gou moeg daarvan om net te gesels.

Die navorsers Mihaly Csikszentmihalyi en Reed Larson sê: “[Jongmense] het hierdie geleenthede [van uithang] keer op keer as ‘lawaaierig’, luidrugtig, gek en wild beskryf. . . . Daar is iets omtrent die groepwisselwerking van portuurs wat tot lawaaierigheid aanleiding gee, selfs as die betrokke individuele tieners nie daartoe geneig is nie. . . . Lawaaierige bedrywighede het dinge ingesluit soos om al skreeuende rond te ry, blikkies in mense se erwe te gooi en te baklei.” (Ons kursiveer.)—Being Adolescent.

Jy is weliswaar miskien nie geneig om iets dwaas te doen net omdat jou maats dit doen nie. Maar dit kan jou onder geweldige druk plaas om iets verkeerds te doen as jy tussen kwaaddoeners is (1 Korinthiërs 15:33). En selfs as jy nie aan die lawaaierigheid deelneem nie, kan jou teenwoordigheid daar ander mense die verkeerde indruk van jou gee. Dit is wat met ’n jong meisie, Dina, die dogter van die Hebreeuse aartsvader Jakob, gebeur het.

Dina is as ’n aanbidder van Jehovah God grootgemaak al het haar gesin in die land Kanaän gewoon—’n land waar seksuele verdorwenheid en afgodediens aan die orde van die dag was. Haar vader, Jakob, het dus hard probeer om kontak met die onsedelike Kanaäniete te beperk deur sy kamp buite die stad Sigem op te slaan en vir ’n aparte watervoorraad voorsiening te maak (Genesis 33:18; Johannes 4:12). Maar Dina ‘het gewoonlik uitgegaan om die dogters van die land te besoek’, moontlik gereeld (Genesis 34:1, NW). Dina het dit dalk as onskadelike pret beskou om saam met die Kanaäniete uit te hang. Maar Kanaänitiese vroue was bekend vir hulle promiskuïteit. Toe ’n Kanaänitiese man, Sigem, Dina dus in die geselskap van sulke vroue opgemerk het, het hy “haar gegryp en met haar gemeenskap gehad en haar onteer”.—Genesis 34:2.

Net so kan dit jou in groot moeilikheid laat beland as jy saam met die verkeerde mense uithang. ’n Jong man, Leonard, onthou dat hy, ondanks die feit dat hy as ’n Christen grootgemaak is, begin het om “saam met rebelse mense uit te hang. Ons het saam rondgeloop en bier gedrink—hoewel ek wetlik nog te jonk was. Toe ek 18 was, het ek al dagga gerook.”

Die beste gebruik van tyd

Een studie het bevind dat 44 persent van die jongmense onder wie die opname gedoen is elke keer wanneer hulle ’n winkelsentrum besoek het drie tot vyf uur of langer daar deurgebring het; 14 persent het ses uur daar deurgebring. Maar ’n verstandige jongmens sal, pleks van deur ledigheid tyd te mors, ‘die tyd uitkoop, omdat die dae boos is’.—Efesiërs 5:15, 16.

Skeep jy jou skoolwerk en huishoudelike takies af omdat jy soveel tyd by tienerbymekaarkomplekke deurbring? Wat van jou geestelike bedrywighede—persoonlike Bybelstudie, Christelike vergaderinge, die getuieniswerk? Verwaarloos jy sulke verantwoordelikhede? As jy “oorvloedig in die werk van die Here” is, sal jy waarskynlik nie veel tyd hê om ledig te wees nie.—1 Korinthiërs 15:58.

Heilsamer bedrywighede

Ontspanning is ’n belangrike deel van die lewe (Prediker 3:4). Maar uithang is nie die enigste manier waarop ’n mens pret kan hê nie. “Ek geniet dit om alleen te wees”, sê ’n jong vrou met die naam Lucy. “Ek hou van lees en dit het my gehelp om ’n belangstelling in ander lande se geskiedenis, kultuur en taal te ontwikkel. Ek besoek museums en galerye, en ek doen naaldwerk en kook. Ek geniet dit ook om te teken en briewe te skryf, en ek probeer selfs nou en dan om ’n bietjie te dig.” Nee, ’n mens hoef nie verveeld te wees wanneer jy alleen is nie.

Jou gesin kan nog ’n bron van heilsame ontspanning wees. Voordat jy hierdie idee verwerp, kan jy gerus luister na ’n jong man met die naam Jack. Hy sê: “My ouers het altyd gereël dat ons iets het om te doen. Ons het gaan ysskaats en rolskaats; ons het parke, dieretuine en museums besoek. Dit was selfs pret om die werf of huis skoon te maak wanneer ons dit as ’n gesin gedoen het.” Miskien het jou gesin opgehou om dinge saam te doen. As dit die geval is, kan jy gerus aan ’n paar idees vir ’n gesinsuitstappie dink. Jy geniet dit dalk meer as wat jy verwag het!

Dit beteken nie dat jy nie die geselskap van portuurs kan geniet nie—onder andere tye wanneer julle net lekker gesels of saam ontspan. Maar wees selektief wanneer jy jou vriende kies. ’n Jong man, Enrique, sê: “Ek het altyd saam met wêreldse jongmense uitgehang, maar toe ek eers my lewe aan Jehovah toegewy het om hom te dien, het ek met jongmense in die gemeente omgegaan. Ons het saam aan die predikingswerk deelgeneem en saam bal gespeel—ek het probeer om soveel moontlik saam met hulle te doen.”

Shelleace het eweneens vroeër saam met die verkeerde mense uitgehang. Sy sê van haar gewese vriende: “Hulle het nie ’n doel of koers in die lewe gehad nie. Dit het my ’n ruk geneem om my vriendskap met hulle te verbreek, maar nadat ek dit gedoen het, het ek met die regte soort maats begin omgaan. Toe eers het ek geestelike vooruitgang gemaak.”

Hoewel dit dus pret of selfs opwindend kan wees om ’n bietjie uit te hang, sal dit jou nie geestelik help nie en sal dit jou eerder skade berokken. Wees verstandig. Vind beter maniere om jou tyd te gebruik.

[Prent op bladsy 13]

Is uithang die beste manier om jou tyd te gebruik?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel