Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 7/8 bl. 20-22
  • Hoe kan Christelike vergaderinge my help?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan Christelike vergaderinge my help?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vergaderinge wat jou help om te leer
  • “Soos yster deur yster geslyp word”
  • “’n Geoefende tong”
  • ‘Loof Jehovah met jou lippe’
  • Jy word hartlik uitgenooi
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Vergaderinge strek jongmense tot voordeel
    Ons Koninkryksbediening—2000
  • Hoe Jehovah ons lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Vergaderinge om tot liefde en goeie werke aan te spoor
    Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 7/8 bl. 20-22

Jongmense vra . . .

Hoe kan Christelike vergaderinge my help?

“Ek dink nie dat die kerke jou help om geestelike vordering te maak nie. Ek bedoel, dit hang van die persoon af of hy geestelik wil wees of nie.”—19-jarige Kevin.

KEVIN het in meer as een opsig gelyk. Dit hang werklik van elke persoon af “of hy geestelik wil wees of nie”. Maar aangesien jy hierdie artikel lees, wil jy ten minste heel waarskynlik geestelik wees. Maar jy is dalk nie heeltemal seker wat ’n geestelike persoon is of hoe jy een kan word nie.

Eenvoudig gestel, ’n geestelike persoon is een wat sy gedagtes, opinies en dade aan die allerhoogste God, Jehovah, se leiding onderwerp. Hy dink aan sy Skepper wanneer hy daaglikse besluite neem en doelwitte of prioriteite in sy lewe stel. Met ander woorde, ’n geestelike persoon is God-georiënteerd.

As ’n tiener vind jy dalk dat “die sorg van hierdie wêreld” jou geestelike groei belemmer (Mattheüs 13:22). Om die hele dag lank met skoolmaats te moet omgaan ‘wat geneig is om altyd slegte dinge te doen’, kan ook ontmoedigend wees (Genesis 6:5, NW). Party kan selfs ‘spot en in boosheid verdrukking spreek’, wat dit vir jou moeilik maak om jou gedagtes by goeie dinge te bepaal (Psalm 73:8). En as jou ouers of ander gesinslede nie in jou geloof is nie, gee hulle dalk vir jou weinig of geen geestelike aanmoediging nie. Wat kan jy doen om hierdie negatiewe invloede teen te werk en geestelik te groei?

Een ding wat jy kan doen, is om gereeld vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by te woon. Anders as kerkdienste, moedig die vergaderinge wat daar gehou word jou aan om ‘godvrugtige toegewydheid as jou doel’ na te streef en hulle help jou om geestelik van ’n kind tot ’n volwassene te ontwikkel.—1 Timotheüs 4:7, NW; Efesiërs 4:13, 14.

Vergaderinge wat jou help om te leer

In meer as 63 000 gemeentes wêreldwyd gee Jehovah se Getuies ag op die Bybel se vermaning, naamlik: “Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders . . . dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer” (Deuteronomium 31:12). Daarom sal jy baie jongmense soos jy onder die Getuies vind.

Jehovah se Getuies het in alle wêrelddele dieselfde opvoedkundige program. Dit bestaan uit vyf weeklikse vergaderinge, waarvan elkeen ongeveer ’n uur lank is. Die vyf vergaderinge is:

Openbare Vergadering—’n Bybelse toespraak wat oor ’n Bybelse tema handel.

Wagtoring-studie—’n breedvoerige bestudering van Bybelleerstellings deur gebruik te maak van Die Wagtoring, Jehovah se Getuies se vernaamste publikasie.

Teokratiese Bedieningskool—verskaf onderrigting in spreekvermoë vir die Christelike bediening.

Diensvergadering—bevat besprekings en demonstrasies van doeltreffende onderrigtingsmetodes vir die huis-tot-huisbediening en Bybelstudiewerk.

Gemeentelike Boekstudie—’n vraag-en-antwoordbespreking deur kleiner groepies wat ’n Bybelstudiehulp gebruik—word gewoonlik in privaat huise gehou.

Die opvoedkundige programme by hierdie vergaderinge kan jou help om selfs “die diepste geheimenisse van God” te leer ken (1 Korinthiërs 2:10, NAV; Spreuke 2:5). Maar daar is ander voordele as jy hulle bywoon.

“Soos yster deur yster geslyp word”

“Dit is maklik om ’n Christen te wees tussen ander wat God ook dien”, sê die 15-jarige Michelle. “Maar wanneer jy skool toe gaan, is dit moeiliker omdat jou skoolmaats ’n ander stel standaarde en doelwitte het.” Een voordeel van vergaderingbywoning is dus die geleentheid om met medegelowiges om te gaan.

Wyse koning Salomo het gesê: “Soos yster deur yster geslyp word, so slyp die een mens die sinne van die ander” (Spreuke 27:17). Met tye is dit nodig dat ons geestelike “sinne”, dit wil sê, ons geestelike kennis en insig, geslyp word. Maar net soos vaardigheid en die regte gereedskap nodig is om ’n letterlike mes te slyp, is dit nodig dat jy met die regte mense omgaan, dié wat die vermoë het om jou “die een of ander geestelike genadegawe mee te deel”.—Romeine 1:11.

Jy sal sulke mense van verskillende ouderdomme, rasse en nasionaliteite by die Koninkryksaal kry. Dit is te verstane dat jy aangetrokke kan voel tot jou portuurs. Maar let veral op diegene wat Jehovah al baie jare getrou dien (Levitikus 19:32). Hulle lewenservaring saam met hulle grondige kennis van die Bybel kan jou baie help. Hoe kan jy sulke mense leer ken? Probeer om vir hulle vrae te vra soos: ‘Hoe het Oom die waarheid gekry?’ of: ‘Hoe was die velddiens toe Tannie jonk was?’ Dit sal heel moontlik die een of ander geestelike genadegawe vir jou oplewer!

Wanneer jy ander in die gemeente vir die eerste keer nader, sal jy weliswaar dalk voel soos die 12-jarige Craig wat gesê het: “Ek was altyd bang om met ouer mense te praat. Ek het gedink hulle sou vir my ’n preek afsteek as ek iets verkeerds sê.” Craig weet nou dat sy gevoelens ongegrond was. “Ek kan nou op my gemak met hulle praat”, verduidelik hy. Probeer gerus om dieselfde poging aan te wend om met geestelik volwasse mense in die gemeente om te gaan. As jy dit doen, sal dit vir jou ’n kosbare geleentheid bied om volwasse Christene dop te hou en na te volg.—2 Thessalonicense 3:9.

“’n Geoefende tong”

Nog ’n gebied waarin jy vooruitgang kan maak, is jou onderrigtingsvermoë. Kan jy byvoorbeeld Bybelwaarhede duidelik oordra? Kan jy ’n gehoor boei? Weet jy hoe om jou voorlesing werklik betekenisvol te maak? Die profeet Jesaja het gesê: “Die Here HERE het My ’n geoefende tong gegee” (Jesaja 50:4). En met opleiding kan jy ook ’n geoefende tong hê. Een vergadering in die besonder kan jou in hierdie opsig tot voordeel strek: die Teokratiese Bedieningskool. Het jy jou al by daardie skool laat inskryf?

Die Teokratiese Bedieningskool is ontwerp om Christene te leer hoe om met ander te praat. Dit het nie ’n ouderdomsbeperking nie, en doop is ook nie ’n vereiste nie. Jy moet egter kan lees en skryf, daadwerklik met die gemeente omgaan en ’n lewe lei wat in ooreenstemming met Christelike standaarde is. Hoe werk hierdie bedieningskool?

Nadat jy jou laat inskryf het, sal jy aangewys word om ’n kort toespraak oor ’n spesifieke skriftuurlike onderwerp te hou. Berei jou toespraak goed voor. Bykomende inligting oor jou onderwerp kan byvoorbeeld gewoonlik gevind word deur navorsing te doen in Bybelse publikasies deur die indekse van Wagtoringpublikasies en die Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures te gebruik.a As jy hulp hiermee nodig het, kan jy jou ouers of ’n ervare Christen vra om jou te help. Die navorsing wat jy doen, sal jou toespraak interessanter maak en jou geestelike groei stimuleer.—Spreuke 2:1-5.

Wanneer jy jou toespraak voor die gemeente hou, sal die bekwame bedienaar wat die skool behartig aandagtig luister. Ná jou toespraak sal hy gepaste aanmoediging en raad gee wat gebaseer is op die inligting in die Teokratiese Bedieningskool-Handleiding, ’n publikasie wat ontwerp is om openbare sprekers te help. Luister goed na hierdie raad. Dit word nie gegee om jou te kritiseer of in die verleentheid te bring nie. Die wenke word gegee om jou te help. As jy aanhou om ‘jou daarop toe te lê om uit die Skrif voor te lees’, sal “almal jou [geestelike] vordering kan sien”.—1 Timotheüs 4:13-15, NAV.

‘Loof Jehovah met jou lippe’

Nog ’n manier om geestelik te groei by Christelike vergaderinge is om te antwoord of kommentare te lewer wanneer gehoordeelname gevra word. Voorbereiding is die sleutel.b Maar miskien vind jy dit moeilik om te antwoord al het jy vir die vergadering voorberei. Vra Jehovah in sulke gevalle om hulp. Koning Dawid het gebid: “Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.”—Psalm 51:17.

Onthou: ’n Antwoord hoef nie lank en ingewikkeld te wees om opbouend te wees nie. Soos 12-jarige Rachel sê: “Pleks van ’n ellelange toespraak te hou, kan ’n antwoord net een sin wees.” Aan die begin lyk dit dalk vir jou baie moeilik om by die vergaderinge te antwoord en jy kan hulp vra, maar mettertyd sal jy voel soos Rachel gevoel het. Sy verduidelik: “Wanneer jy self antwoord, is dit regtig jou antwoord, en jy is trots daarop.” Buitendien sal jy as gevolg van jou pogings geestelik groei.

Dit is nie maklik om in vandag se selfbehepte wêreld geestelikgesind te wees nie. Maar as jy vergaderinge gereeld bywoon, deeglik voorberei, deelneem en ’n poging aanwend om met ryp Christene om te gaan, sal Christelike vergaderinge jou beslis help om geestelik te groei.

[Voetnote]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

b Sien die Ontwaak!, 22 Junie 1988, bladsye 11-13, vir meer inligting oor hoe om vir vergaderinge voor te berei en daaraan deel te neem.

[Prente op bladsy 21]

Die Teokratiese Bedieningskool het duisende jongmense opgelei om bekwame onderrigters van God se Woord te wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel