Wen die stryd om meer lewensruimte!
‘EK HET meer lewensruimte nodig!’ Hoe dikwels het jy nie al daardie algemene klagte gehoor—of self geuiter—nie? Is ’n groter huis of woonstel die oplossing? Waarskynlik nie. Die meeste van ons kan eenvoudig nie bekostig om te verhuis nie. En selfs dié van ons wat dit kan doen, sal dalk ontdek dat die probleem van genoeg ruimte na ’n kort rukkie weer kop uitgesteek het.
Om die waarheid te sê, ongeag hoe klein ons woonplek is, daar is dikwels genoeg ruimte vir die dinge wat ons nodig het. Dit is die bykomstighede wat gewoonlik die probleem skep. En wanneer ’n huis deurmekaar en oorvol is, kan dit ’n voortdurende bron van ongerief, frustrasie en spanning wees. Kom ons beskou dus drie maniere om meer lewensruimte te “ontdek” net daar waar jy reeds bly—jou huis!a
Nr. 1: Raak ontslae van onnodige goed
In baie huise is die groot skoonmaak gedurende lente of herfs ’n ritueel waartydens dinge rondgeskuif, skoongemaak en dan weer op hulle oorspronklike plek teruggeplaas word. Maar waarom gebruik jy dit nie as ’n geleentheid om van onnodige goed ontslae te raak nie?
Het jy die gewoonte aangeleer om ou koerante en tydskrifte op te gaar? Waarom knip jy nie die artikels uit wat jy werklik wil hou nie (skryf die tydskrif se naam, datum en bladsynommer daarop vir toekomstige gebruik), en raak dan ontslae van die res van die koerant of tydskrif. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel nuwe ruimte dit kan gee!
Neem ook jou meubels in oënskou. Is daar meubelstukke wat maar net die wanorde vererger? Miskien kan ’n vriend hulle beter gebruik. En wat van jou klerekaste? Is hulle vol klere wat jy in jare nie gedra het nie? Waarom dink jy nie daaraan om ontslae te raak van enigiets wat jy die afgelope jaar of meer nie gedra het nie?
Ons moet toegee, dit klink na ’n groot projek, en dit kan ook wees. Maak dit dus ’n gesinsprojek. Betrek die kinders en jou huweliksmaat. As jou kinders in die regte stemming vir die projek kom, sal hulle dalk bereid wees om ontslae te raak van party van die onnodige dinge wat hulle besit. Die gevolg? Miskien is dit die begin van ’n lewenslange patroon van netheid.
Nr. 2: Benut al die beskikbare ruimte
Kom ons gaan nou deur jou huis en wys jou al die potensiële pakplekke. Dit sluit mure, rakke, deure, portale, kaste en plafonne in. Goedkoop mandjies of rakke kan aan portaalmure of aan deure gehang word om skoene, handdoeke, en so meer in te bêre. Kartondose en kratte kan gebruik word as nuttige opgaarplekke vir boeke, speelgoed, foto-albums en ander goed wat jy besluit om te hou. As jy hierdie houers in jou kaste sit, kan jy die ongebruikte vloerruimte benut.
Neem opvoustoele baie plek in beslag? Hulle kan miskien onder ’n rusbank of agter jou gordyne gebêre word. Word waardevolle woonvertrekruimte deur boekrakkies in beslag geneem? Waarom bou jy nie liewer in jou portaal ’n boekrak van die vloer tot teen die plafon nie? As jy deure daaraan hang, hoef jy nie net boeke daarin te bêre nie.
Moenie van die plek onder jou bed vergeet nie. Plastiek- of kartonhouers kan daar gesit word om beddegoed wat jy nie nou gebruik nie daarin te bêre. En wat van jou mure? Groot stereoluidsprekers kan aan die muur gemonteer word om vloerruimte te spaar. As speelgoed jou kind se slaapkamervloer vol lê, kan jy lae rakke teen die mure bou. Dit is ’n nuttige plek waar jou kind sy speelgoed kan bêre, pleks van hulle in ’n lywige kis op te hoop. Sodoende kan die kinders altyd hulle speelgoed sien, en die rakke kan hoër teen die muur opgeskuif word namate die kind groter word. Rakke in jou badkamer kan ook nuttig wees om handdoeke, seep en toiletware op te bêre.
Nr. 3: Herrangskik jou lewensruimte
Lewensruimte kan dikwels geskep word bloot deur ’n paar dinge te herrangskik. Baie huisvrouens skuif al hulle meubels teen die mure sodat die middel van die vertrek leeg is. Probeer om twee boekrakke of tafels rug aan rug te laat staan as ’n kamerskeiding. Of dink daaraan om ’n boekrak van die vloer tot teen die plafon te bou wat as pakplek sowel as kamerskeiding kan dien. Dieselfde kamer kan nou vir twee doeleindes gebruik word—die een deel as ’n studeerplek, die ander vir algemene huishoudelike doeleindes. Kamerskeidings is veral nuttig wanneer kinders ’n kamer moet deel. Sulke skeidings bied groter privaatheid teen ’n lae koste.
Wanneer lewensruimte egter beperk is, kan selfs die beste pogings om ’n huis te herorganiseer, misluk. Miskien kan jy dan ten minste die indruk van ruimte skep deur spieëls aan die mure te hang, of deur jou huis in ligter kleure te verf. In albei gevalle sal dit jou huis ’n ruimer voorkoms gee.
As beperkte lewensruimte ’n probleem is, kan jy gerus hierdie eenvoudige wenke probeer. Jy sal dalk vind dat wanneer jou huis netjies en ordelik is dit tot die welsyn en gemoedsrus van die hele gesin sal bydra—’n gepaste beloning vir iemand wat die stryd om meer lewensruimte gewen het!
[Voetnoot]
a Hoewel die wenke wat hier gegee word veral vir diegene in nywerheidslande geld, kan die beginsels ook nuttig wees vir lesers in ontwikkelende lande.