Ons beskou die wêreld
Wêreldgevangenislys
Watter land is eerste op die lys vir die opsluiting van wetsoortreders? Die Verenigde State, sê Sentencing Project, ’n navorsingsgroep. Volgens hulle lys is Suid-Afrika tweede en die Sowjetunie derde. Meer as ’n miljoen Amerikaners is in die tronk, wat die Verenigde State die eerste plek op die lys besorg as die land met die hoogste getal mense wat opgesluit is—426 uit elke 100 000 inwoners. Die jaarlikse koste verbonde aan opsluiting? Vir die Verenigde State alleen is dit R40 miljard. “Ons moet ophou om mense toe te sluit en begin om hulle te rehabiliteer”, het ’n Amerikaanse regeringsamptenaar oor die verslag gesê. “Ons kan al die tronke bou wat ons dink nodig is en duisende mense toesluit, maar dit sal geen verskil maak totdat ons werk maak van die basiese oorsake van misdaad nie.”
Behandeling van breingewasse
“Stereotaktiese radiochirurgie” is dalk moeilik om uit te spreek, maar vir sommige mense wat klein, primêre breingewasse het, kan daardie woorde hoop beteken. Volgens die Los Angeles Times “rig [stereotaktiese radiochirurgie] verskeie radiasiestrale sekuur op die teikengewas en vernietig dit”. Die res van die brein, kopbeen en vel bly relatief ongeskonde deur hierdie nie-chirurgiese metode. Dit kan egter nie op ander organe buiten die brein gebruik word nie en is ondoeltreffend teen gewasse groter as 3,5 sentimeter in deursnee. “Dit is [nietemin] ’n waarlik merkwaardige idee”, sê dr. Michael L. J. Apuzzo, professor in Neurologiese Chirurgie aan die Universiteit van Suid-Kalifornië se Mediese Skool.
China veg teen ongeletterdheid
China het merkwaardige vooruitgang gemaak in sy 40 jaar lange stryd teen ongeletterdheid, maar die opdraande stryd is nog nie oor nie. In 1949 kon sowat 80 persent van die Chinese volk nie lees nie; vandag het daardie syfer tot ongeveer 20 persent gedaal, berig China Today. Tog is dit steeds ’n aansienlike hoeveelheid in ’n land waar die bevolking bykans 1,2 miljard tel. China Today skat dat daar sowat 220 miljoen ongeletterde of halfgeletterde mense in die land is; elke jaar is daar nóg 2 miljoen tieners van 15 jaar wat nie behoorlik kan lees of skryf nie. Die regering het gevolglik ’n tienjaarprogram van stapel gestuur om minstens viermiljoen ongeletterde mense elke jaar te leer lees en skryf.
Skuldige chirurg
“Dit is ’n uitspraak wat ’n opskudding in die mediese wêreld gaan veroorsaak”, het La Repubblica gesê. Vir die eerste keer in Italië is ’n chirurg aan manslag skuldig bevind. Hy is skuldig bevind aan die dood van ’n bejaarde vrou deur ’n uiters gevaarlike operasie sonder haar toestemming te doen. Die uitspraak van ’n hof in Florence het gesê dat die chirurg die operasie gedoen het “toe dit glad nie nodig was nie en ten spyte van die pasiënt se uitdruklike verset teen daardie soort operasie”. Die hof het die redenasie van die verdedigers verwerp wat beweer het dat die pasiënt in so ’n ernstige toestand was dat die operasie nie uitgestel kon word nie, maar dit het die argumente van die aanklaer en die eiseres se prokureurs aanvaar. Hulle het hulle argumente gebaseer op die “pasiënt se toestemming”, “waarsonder elke operasie onwettig is” en elke sny deur die skalpel “gelyk is aan ’n messteek”, sê La Repubblica. “Die uitspraak sê dat die pasiënt alleen die reg het om oor sy eie liggaam en sy eie lot te besluit.”
Gespanne jongmense
“Meisies ly baie meer aan die spanning van die daaglikse roetine as seuns”, berig die Frankfurter Allgemeine Zeitung. ’n Vier jaar lange studie onder 1700 jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 17 wat gedoen is by die Bielefeld-universiteit, Duitsland, het getoon dat meisies onder uitermatige druk geneig is om hulle angs te onderdruk en met hoofpyne, senuagtigheid, slaaploosheid en maagprobleme daarop te reageer. Daar is gesê dat seuns gewoonlik van daaglikse spanning ontslae raak deur middel van ekstroverte gedrag deur nors, aggressief of gewelddadig te raak. Wat veroorsaak die spanning? Ouers se onredelik hoë verwagtinge van hulle prestasies op skool, te min erkenning van persone van dieselfde ouderdom, ’n te groot aanvraag na verbruikersgoedere en te veel gejaagde vrye tyd.
Hoogterekord
Op 24 Oktober 1990 het 52-jarige Helen Stamataki daarin geslaag om tot op die sewe kilometer hoë bergkruin van die Himalaja wat die Tukutsje-piek genoem word, te klim, en sodoende ’n rekord vir Grieke in bergklimmery op te stel, berig die koerant “TA NEA” van Athene. Dit het gesê dat sy die eerste vrou is om dit te doen “sonder die hulp van suurstof, ’n daad wat deur die meeste bergklimmers as uiters avontuurlik beskou word, aangesien die bergklimmer long-edeem kan opdoen en binne ’n paar uur kan sterf”.
Weggooimotors
“Eers het weggooifietse vir ons probleme veroorsaak, maar nou is dit weggooimotors wat ons ’n moeilike tyd gee”, het ’n amptenaar van Japan se Nasionale Polisieagentskap gekla. Volgens ’n regeringskatting word ongeveer viermiljoen motors elke jaar dwarsdeur Japan weggegooi. In die verlede het motoreienaars hulle ou motors aan handelaars in afvalyster verkoop, maar nou moet hulle die handelaars betaal om dit te verwyder. Ter verduideliking van waarom motors weggegooi word, het The Daily Yomiuri gesê dat dit nie vir verwyderingsfirmas winsgewend is om motors te sloop kort ná die onlangse skerp daling in die pryse van afvalyster nie. Die polisie doen egter stappe. Hulle het begin om mense wat motors weggooi, te vervolg.
Allergies vir spaghetti
Een Italianer uit elke duisend kan nie ’n bord spaghetti geniet nie omdat hy “allergies vir pasta” is. Of soos die dagblad Corriere della Sera van Milaan sê, ly hierdie arme siele eerder aan ’n siekte wat seliak-siekte genoem word. Aangesien brood en pasta die hoofvoedsel van baie Italianers is, word die siekte nou ’n maatskaplike probleem. Trouens, spesialiste op hierdie gebied het by ’n konferensie byeengekom wat verlede November in Rome gehou is om geneesmiddels te bespreek. Seliak-siekte veroorsaak ’n permanente intoleransie teenoor gluten, ’n bestanddeel van koring, gort, rog en hawer, en bring veranderinge mee in die slymvlies van die ingewande.
Bloedbankkrisis in Indië
“Bloed: gee dit lewe of neem dit lewe?” het ’n onlangse nommer van India Today gevra in ’n berig oor die betreurenswaardige toestand van die land se privaat bloedbanke. Indië se Gesondheidsdepartement het ’n ondersoek gelas waarin daar bevind is dat meer as 70 persent van die bloed wat van professionele bloedskenkers in daardie land ontvang word, nie behoorlik getoets word vir die dodelike HIV-virus wat Vigs veroorsaak nie. Die berig het ook melding gemaak van die onhigiëniese toestande wat algemeen voorkom in talle privaat bloedbanke, wat bloed van sieklike en arm skenkers koop. Baie van hierdie skenkers is “alkoholiste of dwelmmisbruikers” of is “seksueel permissief”. India Today het dus die feit betreur dat “dit soos Russiese roulette is om bloed te koop” omdat geskenkte bloed moontlik met “hepatitis, malaria, sifilis en nou Vigs” besmet kan wees.
Verbruikers, wees op julle hoede!
“Gedurende die afgelope dekade het die wins wat gemaak kan word uit die farmaseutiese mark, waarvan die omset [R375 miljard] is, aanleiding gegee tot ’n nuwe soort vervalsing: medisyne wat nie is waarna dit lyk nie”, berig Newsweek. “Die name is bekend”, en dit sluit sommige van die wêreld se medisyne wat die beste verkoop in. “Die namaaksels lyk na die ware Jakob, met inbegrip van die etikette, die vervaardigers se pamflette en die beskermingseëls.” Maar dit kan skadelike bestanddele, soos nywerheidsoplosmiddels, saagsels, grond, talkpoeier en besoedelde water bevat. Die dosisse is dikwels swak en verdun of heeltemal nutteloos. Die gevolge? “Honderde mense, indien nie duisende nie, het al gesterf”, sê gesondheidsekonoom Susan Foster van die London School of Hygiene and Tropical Medicine. Dokters en hospitale kan die medisyne selfs onwetend versprei. Wettige vervaardigers soek hard na ’n oplossing. Dié medisyne kom dikwels uit lande wat nie internasionale medisynepatente erken nie. Wettige medisynemaatskappye hou die probleem gewoonlik dig om publisiteit te vermy wat mense sal afskrik om hulle produkte te koop.
Geregverdigde vrees?
Om per vliegtuig te reis, word steeds as een van die veiligste vervoermetodes beskou. Maar die volgende statistieke oor drink en vlieg wat in Newsweek verskyn het, sal diegene wat bang is om te vlieg dalk geensins verbaas nie: “Meer as 10 000 van die 675 500 gelisensieerde Amerikaanse vlieëniers het ’n geskiedenis van dronkbestuur. Meer as 1200 lugdiensvlieëniers is gedurende die afgelope 15 jaar vir alkoholisme behandel en het diens hervat. Tussen 5 en 10 persent van alle gewone lugvaartvlieëniers wat jaarliks in vliegtuigongelukke sterf, het alkohol in hulle bloed gehad. Ses pendelaar- en lugtaxi-ongelukke wat tussen 1980 en 1988 plaasgevind het, is uitsluitlik of gedeeltelik toegeskryf aan vlieëniers wat gedrink het.”