“Hulle het vir my gesê ek sal nooit weer loop nie!”
TOE Ed 20 was, was hy in ’n ernstige motorongeluk betrokke. Nadat hy sy bewussyn herwin het, kon hy nie opstaan nie. Hy het besef dat hy verlam was maar het gedink dat dit net tydelik sou wees. Ed vertel wat later in die hospitaal gebeur het: “Hulle het vir my gesê ek sal nooit weer loop nie!” Hy was van sy bors af ondertoe verlam.
“Ek was verpletter toe my seun beseer is”, het Ed se pa gesê. “Hy was ’n gesonde jong man, maar nou kon hy nie meer loop nie. Dit het sy lewe net daar tot stilstand laat kom.” Ed was in die voltydse diens, wat Jehovah se Getuies pionierdiens noem.
Nog ’n jong man in sy twintigerjare, Bill, het spelenderwyse in die branders geduik en sy kop teen ’n sandbank gestamp. Hy kon onmiddellik daarna nie beweeg of asemhaal nie. Danksy vriende daar naby het Bill nie verdrink nie. Maar hy was van sy nek af ondertoe verlam. Dokters het vir Bill gesê dat hy ook nooit weer sou loop nie.
Eerste reaksie
“Ek wou selfmoord pleeg”, het Bill erken, “maar ek kon nie in die hospitaalbed nie.” Bill het in die Viëtnamese oorlog geveg en was van plan om ’n vlieënier te word. Toe hy in 1969 beseer is, is al sy drome vernietig en het hy geen rede gesien om te lewe nie.
Ed het anders gereageer toe daar vir hom gesê is dat hy permanent verlam sou wees. “Ek was nie ontmoedig nie, en die rede daarvoor was my geloof in God se beloftes in die Bybel. Ek het besef dat my toestand nou miskien permanent is maar dat dit nie vir altyd permanent sal wees nie.” Weens die hoop wat hy het, bied Ed sy gebrek nou reeds 25 jaar lank met welslae die hoof.
Bied die uitdaging die hoof
Bill daarenteen het nie geweet van God se beloftes nie. Maar daar het eendag iets gebeur wat hom beweeg het om iets omtrent homself te doen.
Nadat Bill agt maande lank in die hospitaal gelê het, is hy in ’n badkamer ingestoot sodat ’n verpleër hom kon skeer. “Toe ek in ’n spieël gekyk het”, het hy gesê, “het ek iemand gesien wat nie ek was nie!”
Bill was vroeër ’n sterk man wat 90 kilogram geweeg het en 1,85 meter lank was, maar nou was hy ’n geraamte van net 40 kilogram. Hy het geweier om te glo dat die beeld van die persoon in die spieël sy eie was. Die ondervinding het ’n veglus by hom wakker gemaak om die uitdaging van sy gebrek te aanvaar. “Die eerste jaar van jou gebrek is die kritieke tyd”, sê Bill, “want dit is wanneer jy besluit wat jy gaan doen.”
Probleme wat ontstaan
Ed is nie ’n senuweeagtige mens nie, maar hy erken dat sy emosies soms die oorhand kry. “Soms kan ek eenvoudige dinge, soos om iets by te kom, nie regkry nie”, verduidelik Ed, “en dan voel ek terneergedruk.”
Vir Bill is dit die moeilikste om te lewe met ’n liggaam wat beperk is maar ’n brein wat nie is nie. “Dit is soos om ’n straalaangedrewe verstand in ’n ossewa vir ’n liggaam te hê”, sê hy.
Daar is ook fisiese komplikasies wat met rugmurgbesering gepaard gaan, soos ’n gebrek aan blaas- en dermbeheer, druksere en asemhalingsprobleme. Ed het nierprobleme vandat hy beseer is en daar is tye dat hy ses tot sewe dae op ’n keer koors van 40 grade Celsius het. Dit is vir Bill ook uiters frustrerend dat hy nie sy blaas en derm kan beheer nie. Soos hy dit stel: “Jy raak nooit daaraan gewoond om die liggaam van ’n baba te hê nie.”
Ed spoor alle gestremdes aan om so onafhanklik moontlik te wees. “Probeer jou bes om dit self te doen”, sê hy, “en jy sal baie verder kom.” Dit is waarom hy, toe hy uit die hospitaal ontslaan is, sy motor dadelik met handkontroles toegerus het sodat hy kon bestuur. Ed gebruik nou selfs ’n spesiaal toegeruste vragmotor in sy suksesvolle skoonmaakonderneming.
“Probeer van jou gebrek vergeet”, doen Bill aan die hand, “en lei jou lewe so goed as jy kan. As jy nie soos ’n gestremde optree nie, sal mense jou ook nie soos een behandel nie.” Bill se woorde en dade stem ooreen. Hy het selfs ’n onderneming gehad en dit bedryf, en met sy gholfkarretjie, in sy rolstoel en op krukke oral gekom waar hy wou wees.
Wat kan gedoen word?
Daar kan gesê word dat een hindernis vir die gestremde in die gedagtes bestaan van diegene wat nie gestrem is nie. Begrip is die beste manier om hierdie hindernis te verwyder. Gestremdes wil dieselfde agting en begrip hê as mense sonder liggaamsgebreke.
Sommige mense voel blykbaar bedreig of ongemaklik wanneer hulle met gestremdes te doen kry. Bill sê: “Ons het maar almal die een of ander gebrek. Party se gebreke is net groter as ander s’n.” Gestremdes is maar net mense wat byvoorbeeld nie soos ander kan loop, sien of hoor nie. Dit is noodsaaklik dat ons alle gebreke beskou as ’n toestand waarin iemand verkeer en die hele mens sien.
“Ek waardeer dit wanneer mense my nie uitsonder nie”, het Ed gesê. “Kyk na my. Moenie na die stoel kyk nie.” Toe het hy vertel wat met hom en sy vrou by ’n restaurant gebeur het: “Die kelnerin het eers my vrou se bestelling geneem en haar, pleks van my, toe gevra wat ek wou hê. Ek is nie doof nie! Ek kan maar net nie loop nie.”
“Die meeste mense wil gestremdes help”, verduidelik Ed, “maar hulle weet nie wat om te doen nie.” Sy raad is: “Die beste is om te wag en uit te vind wat jy kan doen voordat jy sommer net iets doen.”
Jy moet dus eers vra: “Kan ek help?” Of: “Is daar iets wat ek kan doen om te help?” Moenie aanneem dat ’n gestremde jou hulp wil hê nie; hy wil dalk nie.
“Die grootste kompliment vir ’n gestremde”, sê Bill, “is om hom soos ’n normale mens te behandel, om teenoor hom op te tree soos jy teenoor enigiemand anders sal.” Sommige sal dit weliswaar moeilik vind. Daar kan ’n persoonlike, geestelike of emosionele hindernis tussen hulle en gestremdes wees. Maar hoe beter ons hulle as persone leer ken, hoe minder dink ons aan hulle gebrek.
Ed, wat reeds jare lank in dieselfde gemeente van Jehovah se Getuies is, verduidelik: “Die meeste van die vriende dink nie eers daaraan dat ek gestrem is nie. Trouens, hulle sal my tydens ons openbare predikingswerk op ’n herbesoek stuur in ’n gebou wat tien stelle trappe het! Dan gaan ek terug en sê vir hulle om iemand anders te stuur.”
Ontstel dit Ed wanneer sy vriende van sy liggaamlike beperkings vergeet? Inteendeel. Hy vertel: “Dis wonderlik dat hulle dink ek het nie hulp nodig nie. Ek waardeer dit, want dan voel ek dat ek volgens hulle nie ’n gestremde nie, maar dat ek net ’n gewone mens is.”
Beskikbare hulp
Daar is in onlangse jare in baie lande groot vooruitgang gemaak om die liggaamlik gestremdes te help. ’n Groot aantal organisasies, produkte en dienste is beskikbaar om hulle te help om onafhanklik te wees. Op baie plekke hoef ’n mens maar net in die plaaslike telefoongids te kyk vir inligting oor hierdie organisasies en dienste.
Baie openbare geboue en fasiliteite word nou ontwerp om dit makliker te maak vir gestremdes. Sommige lugrederye en reisagentskappe bied spesiale toere aan vir gestremdes. En spesiaal toegeruste motors en vervoerwaens stel kwadrupleë vandag in staat om onafhanklik rond te beweeg.
Die moderne tegnologie, wat dit in party gevalle moontlik gemaak het om ’n omweg om die werking van beskadigde senuwees te verkry, het sommige verlamdes in staat gestel om te loop. Dr. J. Petrofsky, ’n navorser wat baanbrekerswerk op hierdie gebied gedoen het, erken egter dat mense te hoë verwagtinge oor sulke tegnologie koester. Hulle glo dalk dat dit enige verlamde sal help om weer te loop. “Jy kan maar net eerlik wees”, sê dr. Petrofsky, “en hulle presies probeer vertel in watter stadium daardie navorsing is. Dit is mos nie iets wat ons genees nie.”
Ware genesing
Maar die ware en blywende genesing van alle liggaamsgebreke sal mettertyd ’n werklikheid word. Hierdie vaste hoop dat hy weer sal kan loop, het Ed al hierdie jare versterk en gehelp om sy gebrek die hoof te bied. Die Bybel se belofte is: “Die oë van die blindes [sal] geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”—Jesaja 35:5, 6.
Die genesing van alle gebreke sal hier op aarde verwesenlik word wanneer God se Koninkryk die heerskappy van alle menseregerings vervang (Daniël 2:44). God se Koninkryk, waarvoor Christus sy volgelinge geleer het om te bid, sal inderdaad ’n nuwe wêreld inlui waarin die Bybelse belofte ook vervul sal word: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.”—Jesaja 33:24; Mattheüs 6:9, 10.
Toe Bill se ongeluk gebeur het, het hy nie geweet wat hierdie Bybelse beloftes beteken nie, hoewel hy altyd groot respek vir die Bybel gehad het. Hy het tydens die eerste vyf jaar van sy gebrek dwelms straf begin gebruik. “Ek het in Viëtnam dwelms gebruik om van die aaklighede te ontsnap”, sê hy, “en ek het dit later gebruik om die lewe in ’n rolstoel te kan verduur.”
Maar Bill het in 1974, met die hulp van Jehovah se Getuies, uitgevind dat die Bybel werklik waar is en dat die beloftes daarin heeltemal betroubaar is. “Van toe af”, het hy gesê, “het daar as ’t ware skille van my oë afgeval!” Bill het sewe maande later sy lewe aan Jehovah God toegewy en hy en sy vrou het kort daarna ’n lewe saam in die voltydse bediening as pioniers begin.
Bill erken, as hy aan sy ondervindinge in die verlede dink, dat sy ongeluk en die gevolglike gebrek pynlik was. “Maar”, sê hy, “ek het so baie uit die besering geleer.” Hoe kon hy so sê?
“Ek twyfel of ek vandag ’n ware Christen sou gewees het as dit nie vir die gebrek was nie”, verduidelik hy. “Ek was voorheen te trots, te ambisieus, en ek sou moontlik nie lank genoeg op een plek gebly het om die Christenboodskap te aanvaar nie.”
Net soos Ed, glo Bill dus nou vas dat hy binnekort in God se nuwe wêreld weer sy liggaam ten volle sal kan gebruik. En ondanks die feit dat dit lyk of die situasie hopeloos is, kan enige gestremde daardie selfde vertroue in God se genesende krag hê. So ’n persoon se hart sal daagliks versterk word deur die oortuiging: “Ek weet ek sal weer loop!”—Bygedra.
[Prent op bladsy 23]
Ed neem ondanks sy gebrek ten volle aan die Christenbediening deel