Is dit vir jou moeilik om besluite te neem?
“Hou jy daarvan? Moet ek dit koop?” het Flora gevra terwyl sy die elegante swart baadjie aangepas het. “Ek hou daarvan”, het haar vriendin Anna gesê, “maar dit is jou keuse.” Besluiteloos het Flora die baadjie weer op die rak teruggesit en die winkel verlaat.
Hulle was skaars 15 minute tuis toe Flora uitroep: “Ek moes daardie baadjie gekoop het!” Hulle het die volgende oggend na die winkel teruggegaan, maar dit was te laat. Die baadjie was weg—aan iemand anders verkoop.
GESTEL jy staan voor ’n persoonlike besluit. Sukkel jy baie, stel jy uit en vra jy eindelik iemand anders om namens jou te besluit? En hou jy aan wonder of ’n ander keuse beter sou gewees het na die besluit geneem is? As dit die geval is, kan jy jou moontlik met Flora se ondervinding hierbo vereenselwig. Jy weet hoe moeilik dit kan wees om besluite te neem.
Jy kan nietemin leer om makliker en met groter genot besluite te neem. Hoe?
Verminder jou spanning
Gestel jy sukkel met ’n besluit. Bekommer jy jou dan die hele tyd of jy die regte keuse doen, asof net een keuse kan slaag? As dit die geval is, sal jy bly wees om te hoor dat dit selde nodig is. Die boek Overcoming Indecisiveness, deur dr. Theodore Isaac Rubin, sê: “Dit is byna altyd die besluitnemer wat die besluit laat slaag, en nie die bepaalde keuse nie. . . . Die mislukking van die besluit het min of niks met die keuse te make nie. Die mislukking kan direk teruggevoer word tot en is eweredig aan die gebrek aan ’n toegewyde verbintenis.”
Ja, ’n keuse kan in die meeste gevalle slaag as dit met volharding nagestreef word. Steun die besluit wat geneem is derhalwe heelhartig. Dit sal baie van die spanning wat met besluitneming gepaard gaan, verminder.
Maar hoe kan jy die besluit neem?
Dink stelselmatig
Dit is belangrik, veral as jy te make het met ’n besluit wat ’n langdurige uitwerking het: wanneer jy iets groots aanskaf; die keuse van ’n huis, ’n loopbaan, ’n huweliksmaat. Bestry enige neiging om bekommerd van een gedagte na ’n ander rond te spring. Win eers die feite wat jy nodig het in. Maak dan ’n lys van jou keuses op papier. Neem elke keuse, skryf die voor- en nadele daarvan neer, en vergelyk dit met jou behoeftes. As jy jouself ken—jou persoonlike voorkeure, waardes, prioriteite, goeie eienskappe en swakhede—is jy in staat om te sien watter keuse jou belangrikste behoeftes bevredig.
Behalwe wanneer iets onmiddellik afgehandel moet word, moet jy tyd toelaat sodat jou ware gevoelens na vore kan kom. As jy die proses aanjaag, sal dit net jou vermoë om besluite te neem onderdruk. Dit kan selfs aangenaam wees om ’n paar dae, weke of selfs maande lank een keuse op ’n slag te oordink. Dr. Harold H. Bloomfield merk op: “Talle mense dink dat angs, kommer en spanning onvermydelik is terwyl hulle met ’n probleem of besluit sukkel.” Maar jy hoef nie jou geluk uit te stel totdat jy seker is van jou besluit nie. Jy kan die besluitnemingsproses geniet. Dit is ’n deel van die lewe wat uitdagend sowel as lonend is.
‘Maar ek is nog verward!’
Sê nou jy is nog besluiteloos nadat jy jou keuses stelselmatig oordink het? Wat kan jy doen? Moet jy ’n vriend om hulp vra?
Party mense wat te min selfvertroue het, wil altyd hê dat ander namens hulle moet besluit. Gestel jy moet aandag skenk aan ’n saak wat meer kennis en ervaring verg as wat jy het. As jy dán ’n bevoegde persoon om raad vra, sal jy natuurlik nie jou verantwoordelikheid op ’n ander afskuif nie. Diegene wat besluite soortgelyk aan joune suksesvol deurgevoer het, kan bykomende keuses en feite verstrek wat jou kan help (Spreuke 15:22). Maar die persoon wie se hulp jy vra, sal jou versoek ernstiger opneem as jy sake eers so goed moontlik oordink het.
As dit moeilik is om ’n finale keuse te doen, moet jy onthou dat daar byna altyd ’n risiko is wanneer jy ’n besluit neem. As jy bang is om ’n keuse te doen voordat jy doodseker is dat dit suksesvol sal wees, sal jy besluiteloos bly, omdat talle besluite onsekerheid behels en op grond van waarskynlikheid geneem moet word (Prediker 11:4). In die meeste gevalle hou nie een enkele keuse al die voordele in nie. Ongeag watter keuse jy doen, jy sal iets moet opoffer. Doen derhalwe die keuse wat die beste lyk en . . .
Bly by jou besluit!
Weerstaan die versoeking om jou besluit te heroorweeg wanneer jy dit eers geneem het. Onthou, elke keer wanneer jy in jou gedagtes toegee aan ‘miskien moes ek’, beroof jy jou van krag wat jy kan gebruik om by jou besluit te bly en dit te laat werk. Moet dus nie voortdurend terugkyk en wonder hoe dinge sou afgeloop het as jy ’n ander keuse gedoen het nie. Vergeet die keuses wat jy verwerp het, behalwe as daar duidelike bewys opduik wat toon dat jy van gedagte moet verander. Doen jou bes om jou besluit deur te voer.
Ter opsomming: Dink stelselmatig, doen die keuse wat jou die beste kans op sukses bied en bly heelhartig by daardie keuse. Dit is onvermydelik dat party van jou besluite beter as ander sal uitwerk. Jou bekwaamheid en selfvertroue sal nietemin toeneem terwyl jy die verantwoordelikheid aanvaar om persoonlike besluite te neem en daarby te bly.
[Venster op bladsy 19]
’N PAAR BASIESE STADIUMS VAN BESLUIT- NEMING
1: Maak ’n lys van en beskou al die moontlikhede of keuses wat by die saak betrokke is
2: Laat jou gevoelens en gedagtes vryelik gaan oor elk van die moontlike keuses
3: Bring keuses in verband met gevestigde prioriteite
4: Kom tot ’n slotsom deur een keuse te doen en begin om dié wat nie gekies is nie te elimineer
5: Spits jou gevoelens, gedagtes, tyd en energie op die besluit toe en skakel die ongebruikte keuses heeltemal uit
6: Sit die besluit om in optimistiese optrede