Troy Harrison/Moment via Getty Images
IS DIT ONTWERP?
Die bewer se vermoë om damme te bou
Wetenskaplikes het al bewerdamme gevind wat soveel as 850 meter lank en 5,3 meter hoog is. Hoe bou bewers sulke groot strukture?
Bewers begin deur bome wat gewoonlik minder as 30 sentimeter in omtrek is, af te knaag en die takke daarvan te verwyder. Hulle stoot groot takke in die stroombedding in om vertikale kolomme te vorm en weef dan boompies en riete tussen die takke in. Bewers anker die dam met groot klippe en maak beide ente aan ’n boom of groot rots vas. Hulle versterk ook die dam deur ekstra stompe aan die een kant te sit om die druk van die aankomende water te weerstaan. Die bewers seël die ander kant van die dam met takkies, bossies en modder. Hulle bou ook oorlope aan beide ente van die dam vir ekstra water om deur te vloei. En wanneer daar swaar reën is, vergroot die bewers die oorlope.
’n Prent van die verskillende dele van ’n bewerdam: (1) vertikale kolomme, (2) boompies wat tussen die takke ingeweef is, (3) ekstra stompe wat die dam versterk, (4) klippe wat die dam anker, en (5) takkies, bossies en modder wat die dam seël
Navorsers het ontdek dat bewers se pogings om damme te bou, ’n positiewe impak op die gebied om die dam kan hê. Byvoorbeeld, bewerdamme verminder gronderosie, verbeter die gehalte van water en verhoog grondwatervlakke. En waterstrome wat voorheen in die somer opgedroog het, het dikwels regdeur die jaar begin vloei. Die damme verminder ook oorstromings deur vleilande te skep wat water absorbeer gedurende swaar reën. Hierdie vleilande kan selfs keer dat veldbrande versprei en bly dikwels groen terwyl die velde rondom die vleiland afbrand. Baie diere kom bly ook in hierdie vleilande wat deur die damme geskep word.
In ’n studie het party navorsers gesê dat bewerdamme soos strukture lyk wat deur ’n ingenieur ontwerp is. Om die waarheid te sê, navorsers het baie damme in Noord-Amerika gebou wat soos bewerdamme lyk. So dis nie verbasend dat bewers dikwels die ingenieurs van die ekosisteem genoem word nie.
Kyk hoe ’n bewer ’n dam bou
Wat dink jy? Het die bewer se vermoë om damme te bou deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?