Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ijwyp artikel 114
  • Wat as ek nie meer wil lewe nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat as ek nie meer wil lewe nie?
  • Jongmense vra
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek wil doodgaan – Kan die Bybel my help as ek daaraan dink om selfmoord te pleeg?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Waarom nie net ’n einde aan alles maak nie?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Depressie—Wat kan ek doen?
    Jongmense vra
  • Waarom nie net ’n einde aan alles maak nie?
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Jongmense vra
ijwyp artikel 114
’n Depressiewe tienermeisie kyk by haar venster uit na die reën.

JONGMENSE VRA

Wat as ek nie meer wil lewe nie?

“’n Paar jaar terug was ek so angstig dat dit gevoel het asof ek elke dag net vure doodslaan. Gedurende daardie tye het ek gevoel dat ek myself wil doodmaak. Ek wou nie regtig sterf nie. Ek wou net nie meer so sleg voel nie.” – Jonathan, 17.

In ’n opname van omtrent 14 000 hoërskoolstudente het amper 1 uit 5 erken dat hulle binne ’n tydperk van 12 maande selfmoordgedagtes gehad het.a Wat kan jy doen as jy voel dat dit nie meer die moeite werd is om te lewe nie?

  • Wag. Belowe jouself dat jy nie impulsief sal optree nie. Al voel dit vir jou asof jou probleme jou oorweldig, is daar oplossings beskikbaar.

’n Tienermeisie wat vasgekeer is, soek na ’n manier uit.

Jy voel dalk asof jy vasgekeer is. Maar gevoelens stem nie altyd ooreen met die realiteit nie. Daar is maniere om jou situasie te hanteer. Met die regte soort hulp kan jy die oplossing vinniger kry as wat jy besef.

  • Bybelwaarheid: “Ons word van alle kante af onder swaar druk geplaas, maar ons is nie so vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie heeltemal sonder ’n uitweg nie.” – 2 Korintiërs 4:8.

    Wenk: As jy oorweldigende selfmoordgedagtes het wat nie wil weggaan nie, moet jy uitvind watter hulp vir jou beskikbaar is – dalk ’n selfmoordnoodlyn of ’n hospitaal se noodeenheid. Die mense wat daar werk, is opgelei om jou te help, en hulle wil dit graag doen.

  • Praat met iemand. Daar is mense wat vir jou omgee en wat jou wil help. Dit sluit dalk vriende en familielede in wat nie weet waardeur jy gaan totdat jy vir hulle sê nie.

’n Tienermeisie sit ’n bril op.

Party mense het ’n bril nodig om dinge duidelik te kan sien. Op ’n soortgelyke manier kan ’n vriend jou help om jou probleme in perspektief te sien en om jou lus vir die lewe terug te kry.

  • Bybelwaarheid: “’n Ware vriend . . . is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

    Wenk: Jy kan die volgende sê as jy ’n gesprek wil begin: “Deesdae sukkel ek met baie negatiewe gedagtes. Kan ek dalk met jou daaroor praat?” Of jy kan sê: “Ek het probleme en sukkel om dit op my eie te hanteer. Kan jy my help?”

  • Gaan dokter toe. Gesondheidsprobleme soos angstigheid of depressie kan veroorsaak dat mense hulle lus vir die lewe verloor. Die goeie nuus is dat daar behandeling vir hierdie probleme is.

’n Siek tienermeisie staar doelloos voor haar uit. Sy eet nie die kos wat voor haar gesit is nie.

Net soos griep kan veroorsaak dat jy jou eetlus verloor, kan depressie veroorsaak dat jy jou begeerte om te lewe, verloor. Maar daar is behandeling vir albei siektes.

  • Bybelwaarheid: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel.” – Matteus 9:12.

    Wenk: Maak seker dat jy genoeg slaap, gereeld oefen en gesond eet. Jou fisiese gesondheid kan jou emosies affekteer.

  • Bid. Die Bybel sê: Ons Skepper “is groter as ons hart en weet alles” (1 Johannes 3:20). Hoekom praat jy nie vandag met hom in gebed nie? Gebruik sy naam, Jehovah, en praat uit jou hart uit.

’n Tienermeisie wat sukkel om ’n groot boks te dra.

Sommige probleme is te swaar om op jou eie te dra. Jou Skepper, Jehovah, wil jou graag help.

  • Bybelwaarheid: ‘Vra God om julle te help. Dan sal die vrede van God, wat alle denke oortref, julle harte en julle verstande beskerm.’ – Filippense 4:6, 7.

    Wenk: Moenie net vir Jehovah van jou probleme vertel nie. Probeer om vandag aan ten minste een goeie ding te dink waarvoor jy vir hom dankie kan sê (Kolossense 3:15). As jy dankbaar is, sal dit jou help om op die goeie dinge in jou lewe te fokus.

As jy dink dat dit nie die moeite werd is om te lewe nie, kry hulp. Dit is wat Jonathan, wat aan die begin genoem is, gedoen het. Hy sê: “Ek het baie met my ouers gepraat en moes mediese hulp kry. Maar ek voel nou baie beter. Al is daar nog tye wanneer ek hartseer voel, het ek nie meer selfmoordgedagtes nie.”

a Die opname was in 2019 deur die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming gedoen.

Wat ander jongmense sê

Alexandra.

“Jou emosionele gesondheid is net so belangrik soos jou fisiese gesondheid. Die verskil is dat jy kan sien wanneer ’n persoon ’n gebreekte been het, maar jy kan nie altyd sien wanneer ’n persoon emosionele pyn het nie. As jy sukkel, moet jy nie bang wees om iemand daarvan te vertel nie. Dit is oukei om vir hulp te vra.” – Alexandra.

Ian.

“Toe ek jonger was, het my ouers my gehelp om te besef dat jy enige probleem kan oplos of dat jy ten minste kan leer om daarmee saam te lewe. Om iemand met jou probleme te vertrou – in my geval, my ouers – het my baie gehelp om dinge in perspektief te sien.” – Ian.

Bybelverse wat kan help

Maak ’n lysie van Bybelverse wat jou kan help wanneer jy mismoedig is. Hier is ’n paar verse waarmee jy kan begin.

Psalm 34:18: “Jehovah is naby dié wie se hart gebreek is. Hy red dié wat mismoedig is.”

Betekenis: Jehovah gee baie om vir mense wat voel dat hulle probleme te moeilik is om te hanteer. Hy wil hulle help.

Psalm 46:1: “God is ons skuilplek en sterkte, ’n hulp wat maklik gevind kan word in moeilike tye.”

Betekenis: Jy kan altyd tot Jehovah bid wanneer jy angstig voel. Hy wil jou graag help om jou situasie te hanteer.

Psalm 94:18, 19: “Toe ek gesê het: ‘My voet gly,’ het u lojale liefde, o Jehovah, my bly ondersteun. Toe sorge my oorweldig het, het u my vertroos en gekalmeer.”

Betekenis: God kan jou die vertroosting gee wat jy nodig het deur middel van sy Woord, die Bybel. Maak seker dat jy dit elke dag lees!

Psalm 139:23, 24: “Deursoek my, o God, . . . en ken my angstige gedagtes. Kyk of daar in my enige skadelike weg is, en lei my op die weg van die ewigheid.”

Betekenis: Jehovah ken jou beter as wat jy jouself ken. Hy kan jou help om op te hou om op maniere te dink wat sleg is vir jou sodat jy weer gelukkig kan wees.

Jesaja 41:10: “Moenie angstig wees nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk, ja, ek sal jou help.”

Betekenis: Maak nie saak watter probleme ons het nie, Jehovah kan ons die krag gee wat ons nodig het om dit te hanteer.

Hersiening: Wat as ek nie meer wil lewe nie?

  • Wag. Belowe jouself dat jy nie impulsief sal optree nie. Daar is dinge wat jy kan doen wat jou kan help om jou probleme te hanteer.

  • Praat met iemand. Vriende en familielede sal nie weet waardeur jy gaan totdat jy vir hulle sê nie.

  • Gaan dokter toe. Selfmoordgedagtes kan ’n teken van depressie wees – ’n siekte wat behandel kan word.

  • Sê vir God hoe jy voel in gebed. Hy ken jou beter as wat jy jouself ken, en hy wil jou help.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel