GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR
Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie
DIE vinnige groei in Jehovah se organisasie skep ’n toenemende behoefte aan nog Koninkryksale, Byeenkomssale, teokratiese skoolfasiliteite, satellietvertaalkantore en takfasiliteite op verskeie plekke. In Oktober 2013 het die Bestuursliggaam dus ’n nuwe afdeling geskep om te verseker dat die ontwerp, bou, opknapping en instandhouding van ons fasiliteite op die doeltreffendste en ekonomiesste manier uitgevoer word. Hierdie nuwe afdeling, wat die Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie (WKO) genoem word, funksioneer vanaf ons wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, onder die leiding van die Uitgewerskomitee van die Bestuursliggaam.
Die WKO hou toesig oor die Streekkantore vir Ontwerp en Konstruksie, wat geleë is by ons takkantore in Australië, Duitsland, Suid-Afrika en die Verenigde State. Hierdie afdelings reël die ontwerp, bouwerk en instandhoudingswerk in hulle afsonderlike gebiede. Hulle doel is om die bou van Koninkryksale te bespoedig. Voorheen is Koninkryksale gebou met die hulp van die Streekboukomitee of as deel van die program vir lande met beperkte middele. Hierdie twee reëlings is nou saamgesmelt met die doel om die beste van al twee stelsels te gebruik om ons bouwerk te help bespoedig.
Om in die toenemende behoefte aan Koninkryksale en Byeenkomssale te voorsien, is ’n Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie by elke takkantoor opgestel. Hierdie afdeling val onder die toesig van die plaaslike Takkomitee. ’n Opwindende kenmerk van hierdie aanpassings is dat alle takkantore nou voltydse bouknegte kan stuur om plaaslike broers te help om Koninkryksale en Byeenkomssale te bou.
In April 2014 was daar meer as 270 groot projekte wat voltooi moes word, insluitende 90 satellietvertaalkantore, 35 Byeenkomssale en 130 takkantoorprojekte. Daarbenewens is daar ook ’n dringende behoefte aan Koninkryksale—meer as 14 000 moet gebou word of het groot opknappingswerk nodig.
Hoe geloofversterkend is dit tog om te sien hoe Jehovah se verenigde volk nasionale, kulturele en taalgrense oorbrug om fasiliteite te bou tot lof en heerlikheid van sy heilige naam! “Daar moet nog baie werk gedoen word, en daarom waardeer ons die gebede van ons broers en susters, asook hulle bydraes ter ondersteuning van die werk”, sê Dan Molchan van die Personeelkomitee by die wêreldhoofkwartier. “Maar ons is baie dankbaar dat die broers en susters hulle gewillig aanbied om met die projekte te help.”