’n Brief van die Bestuursliggaam
Liewe mede-Getuies van Jehovah:
Ons lewe beslis in opwindende tye! En hoe vreugdevol is ons tog! Ons geniet dit werklik om “skouer aan skouer” saam met julle, ons dierbare broers en susters, te werk om die grootste getuienis in die geskiedenis te lewer van ons hemelse Vader, Jehovah.—Sef. 3:9; Joh. 14:12.
Die feit dat ons vreugdevol is in Jehovah se diens, beteken nie dat ons geen ernstige probleme het nie. Gedurende die afgelope diensjaar het party van julle ontberinge ondervind as gevolg van aardbewings, oorstromings, orkane en ander lewensgevaarlike natuurrampe (Matt. 24:7). Baie voer daagliks ’n stryd teen die aftakelende gevolge van siekte en bejaardheid. Ons het almal te kampe met toenemende “weë van benoudheid” (Matt. 24:8). In ’n hele paar lande, waaronder Armenië, Eritrea en Suid-Korea, sit baie van ons broers in die gevangenis weens hulle geloof.—Matt. 24:9.
Wat het ons gehelp om ondanks hierdie probleme positief te bly? Die jaarteks vir 2010 het ons aan een belangrike faktor herinner: ‘Die liefde verduur alles. Die liefde faal nooit nie’ (1 Kor. 13:7, 8). Ja, ons liefde vir mekaar—sowel as ons liefde vir Jehovah—versterk ons sodat ons kan volhard.
Baie wat beweer dat hulle Christene is, is stomgeslaan deur die omvang van ons predikingswerk en die feit dat ons daarmee volhou. Hoewel hulle dalk nie met ons opvattings en leringe saamstem nie, het baie al gesê: “Julle doen die werk wat ons behoort te doen!” Wat is een van die dinge wat Jehovah se Getuies in staat stel om dag ná dag met die predikingswerk vol te hou? Die antwoord is weer eens liefde. Soos ons hemelse Vader wil ons nie hê dat enigeen vernietig moet word nie (2 Pet. 3:9). Die nuwe hoogtepunt van 7 508 050 verkondigers vir die afgelope diensjaar bewys dat ons wil hê dat almal tot berou moet kom. Watter ander godsdiensorganisasie het soveel bedienaars wat bedrywig is in hierdie liefdeswerk en vrywillig van hulleself gee om ander geestelik te help?
Dit is vir ons bemoedigend om die voortgesette vervulling te sien van die profesie wat Jesaja opgeteken het: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en al die nasies sal daarheen stroom” (Jes. 2:2-4). Onder die groot menigte wat na die huis van Jehovah stroom, is die 294 368 wat gedurende die afgelope diensjaar gedoop is. Ons verwelkom hierdie kosbare broers en susters in ons midde. Mag ons Christelike liefde ons beweeg om hulle altyddeur te help om die aanvalle van ons vyand, Satan die Duiwel, af te weer.—1 Pet. 5:8, 9.
Die splinternuwe hoogtepunt van 18 706 895 wat die Gedenkmaal op Dinsdag 30 Maart 2010 bygewoon het, toon dat daar nog miljoene is wat Jehovah saam met ons kan aanbid. Hoe bly kan ons tog wees dat Jehovah nog nie hierdie goddelose stelsel van dinge tot ’n einde gebring het nie! Intussen help ons liefde ons om te volhard.—2 Tess. 3:5.
Die “Bly na aan Jehovah!”-streekbyeenkomste, waarvan die meeste in 2010 regoor die wêreld gehou is, het ons verhouding met ons hemelse Vader, Jehovah, versterk. Hoe waar is die woorde van die psalmis tog: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” (Ps. 144:15). Ongeag wat die toekoms inhou, ons is daarvan oortuig dat ons, met Jehovah aan ons sy, hoegenaamd niks hoef te vrees nie (Ps. 23:4). Jehovah sal binnekort, deur middel van sy Seun, “die werke van die Duiwel . . . verbreek” (1 Joh. 3:8). Ons sien werklik uit na daardie dag! Maar intussen het ons baie werk om ons besig te hou.—1 Kor. 15:58.
Wees verseker daarvan dat ons “sonder ophou” altyd in ons gebede van julle melding maak (Rom. 1:9). Mag julle julle “in God se liefde hou, terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig”.—Jud. 21.
Ons is lief vir julle almal!
Julle broers
Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies