’n Opwindende ontwerp vir nuwe traktate!
1. Watter velddienshulpmiddele het ’n opwindende, nuwe ontwerp?
1 Vyf nuwe traktate is in 2013 by die “God se Woord is die waarheid!”-streekbyeenkoms vrygestel. Koninkryksnuus Nr. 38 met die titel “Kan die dooies werklik weer lewe?” is ook as ’n traktaat vrygestel. Al ses van hierdie traktate het ’n opwindende nuwe ontwerp. Wat is die redes vir die nuwe ontwerp? Hoe kan ons goed gebruik maak van die manier waarop die traktate ontwerp is wanneer ons dit van huis tot huis aanbied?
2. Wat is die doel van die nuwe ontwerp?
2 Waarom die nuwe ontwerp?: Doeltreffende aanbiedings in die huis-tot-huis-bediening sluit dikwels die volgende vier stappe in: (1) Vra ’n beskouingsvraag om ’n gesprek te begin. (2) Bespreek ’n gedagte uit die Bybel. (3) Bied lektuur aan. (4) Meld ’n vraag wat julle die volgende keer sal bespreek, en tref reëlings om terug te keer. Die traktate se nuwe ontwerp maak dit vir ons maklik om hierdie vier stappe te volg.
3. Hoe kan ons die nuwe traktate in die bediening aanbied?
3 Hoe om dit te gebruik: (1) Nadat jy die huisbewoner gegroet het, kan jy hom die interessante veelkeusevraag op die voorkant van die traktaat wys, en vra wat hy dink. (2) Vou die traktaat oop, en bespreek die deel “Wat die Bybel sê”. Lees die teks direk uit die Bybel wanneer dit moontlik is. As die huisbewoner tyd het, kan jy die deel “Wat dit vir jou kan beteken” bespreek. (3) Bied die traktaat aan, en spoor die huisbewoner aan om die res te lees wanneer dit hom pas. (4) Voordat jy gaan, kan jy hom die vraag agterop, onder die deel “Iets om oor te dink”, wys en reëlings tref om die volgende keer die Bybel se antwoord daarop te bespreek.
4. Hoe kan ons die nuwe traktate tydens die herbesoek gebruik?
4 Die herbesoek is ook maklik. Gebruik eenvoudig die teksverwysings agterop om die vraag te beantwoord wat jy aan die einde van die vorige besoek gemeld het. Vestig die aandag op die prent van die Goeie nuus-brosjure voordat jy gaan en wys vir hom die brosjure asook die les wat meer inligting oor die onderwerp bevat, en bied dan die brosjure aan. As hy dit neem, kan jy reëlings tref om die brosjure op jou volgende besoek te bespreek. Jy het ’n Bybelstudie begin! Of pleks van die brosjure aan te bied, kan jy ’n ander traktaat aanbied en reëlings tref om terug te gaan om dit met die huisbewoner te bespreek.
5. Waarom is traktate waardevol in ons bediening?
5 Ons gebruik traktate al meer as 130 jaar lank in ons bediening. Hoewel hulle in grootte en ontwerp van mekaar verskil het, was hulle nog altyd ’n baie doeltreffende velddienshulpmiddel. Mag ons goed van hierdie nuwe ontwerp gebruik maak om aan te hou om Bybelkennis regoor die wêreld te versprei.—Spr. 15:7a.