“Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen”
Jesus se dood sal op 2 April herdenk word
1. Waarom is 2 April 2007 ’n belangrike datum?
1 Op 2 April 2007 sal miljoene mense oral in die wêreld bymekaarkom om Jesus se offerdood te herdenk. Jesus het as ’n ondersteuner van sy hemelse Vader se soewereiniteit gesterf en sodoende bewys dat Satan die Duiwel se bewering dat mense God bloot uit selfsugtige beweegredes dien, vals is (Job 2:1-5). Die Here se Aandmaal herinner ons ook daaraan dat Jesus deur middel van sy dood as ’n volmaakte, sondelose mens ‘sy siel as ’n losprys in ruil vir baie gegee het’ (Matt. 20:28). Jesus het sy dissipels dus beveel: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Luk. 22:19). Het waardering vir hierdie kosbare gawe van God jou beweeg om voorbereidings te begin tref om hierdie voortreflike liefdedaad te herdenk?—Joh. 3:16.
2. Hoe kan ons ons hart vir die Gedenkmaal voorberei?
2 Berei jou hart voor: Ons kan ons hart vir hierdie Gedenkmaal voorberei deur te dink oor wat op elkeen van die laaste dae van Jesus se lewe as ’n mens plaasgevind het (Esra 7:10). Om ons hiermee te help, verskyn daar ’n rooster vir spesiale Bybellees in Ondersoek die Skrif—2007 en op die Kalender vir 2007. Hierdie leesrooster stem ooreen met die dae waarop die gebeure in verband met Jesus se dood plaasgevind het volgens die kalender wat ons vandag gebruik. Die dae en datums waarna die Bybelverslae verwys, is gegrond op die Joodse kalender, waarvolgens dae van sononder tot sononder gemeet word. Hierdie verskil is in ag geneem en word in die Bybelleesrooster vir die Gedenkmaal weerspieël. As ons hierdie inligting hersien en biddend peins oor hoe groot God se liefde is, sal dit ons help om ten volle by die Gedenkmaal baat te vind.
3. Hoe kan ons belangstellendes en onbedrywiges help om by die Gedenkmaal baat te vind?
3 Nooi ander om dit by te woon: Die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Februarie het ’n spesiale kampanje aangekondig om mense na hierdie belangrike geleentheid te nooi. Het jy al reëlings getref om ’n volle aandeel aan hierdie kampanje te hê? Het jy al ’n lys opgestel van die mense wat jy wil nooi, en het jy al met hulle in aanraking begin kom? Reël om die aand van die Gedenkmaal vroeg genoeg daar te wees om diegene wat jy genooi het, sowel as ander belangstellendes, te verwelkom. Jy sal dalk by hulle wil sit en wil seker maak dat hulle ’n Bybel en ’n liedereboek het. Stel hulle aan ander in die gemeente voor. Bied ná die program aan om hulle vrae te beantwoord. Nooi hulle om die spesiale toespraak by te woon wat op 15 April gehou sal word. Veral ouer manne sal daarin belangstel om seker te maak dat diegene wat voorheen met die gemeente omgegaan het maar onbedrywig geword het, ’n uitnodiging na die Gedenkmaal en die spesiale toespraak ontvang.
4. Hoe kan ons mense help om ná die Gedenkmaal aan te hou om geestelike vooruitgang te maak?
4 Help nuwe belangstellendes en onbedrywiges om vooruitgang te maak: Die Gedenkmaalspreker sal ons Bybelstudiereëling kortliks verduidelik en nuwe belangstellendes aanspoor om aan te hou om van Jehovah te leer. Jy kan sy opmerkings as ’n grondslag gebruik om vir dié wat jy genooi het, verdere geestelike hulp aan te bied. As hulle nie op die oomblik die Bybel bestudeer nie, moet jy hulle kort ná die Gedenkmaal besoek en ’n gratis Bybelstudie demonstreer. Hulle sal ook gemeentelike vergaderinge moet bywoon om geestelike vooruitgang te maak (Heb. 10:24, 25). Met die oog hierop moet jy hulle aanspoor om dit gereeld te begin bywoon. Ouer manne moet onbedrywige Christene wat die Gedenkmaal bygewoon het, besoek en voortbou op die gedagtes wat in die toespraak bespreek is. Dit kan hulle aanmoedig om weer bedrywig te word in die gemeente.
5. Watter uitwerking kan die Gedenkmaal op ons hê?
5 Die Gedenkmaal bied ons die geleentheid om ernstig na te dink oor wat Jehovah en Jesus vir ons gedoen het. Sulke bepeinsing verinnig ons liefde vir hulle en het ’n uitwerking op ons gedrag (2 Kor. 5:14, 15; 1 Joh. 4:11). Dit is nou die tyd om ons en belangstellendes te begin voorberei vir hierdie belangrike geleentheid waartydens ons ‘die dood van die Here verkondig’.—1 Kor. 11:26.