Vraebus
◼ Sal dit gepas wees om rommelverkopings of ander fondsinsamelings te reël om die gemeente te help?
Dit is algemeen vir godsdiensorganisasies om geleenthede soos onthale, verkopings of kermisse te reël om fondse in te samel. Hoewel party meen dat hierdie geleenthede vir ’n goeie doel gereël word, is dit maar net verskillende maniere om geld te vra. Jehovah se Getuies verkry nie finansiële steun op hierdie manier nie.
Die tweede nommer van die Watch Tower, van Augustus 1879, het die volgende gesê oor ons weiering om die kerke na te volg en geld te vra: “Ons glo dat JEHOVAH die ondersteuner van ‘Zion’s Watch Tower’ is, en solank dit die geval is, sal dit nooit bedel of mense om ondersteuning smeek nie. Wanneer Hy wat sê: ‘Al die goud en silwer van die berge is myne’, nie die nodige geld voorsien nie, sal ons verstaan dat dit tyd is om die publikasie te staak.”
Ons volg steeds die skriftuurlike beginsel: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Kor. 9:7). Daar is bydraebussies in die Koninkryksaal sodat mense vrywillige bydraes kan maak as hulle wil (2 Kon. 12:9). Bydraes word nie aangevra nie; dit word ook nie gegee met die verwagting dat iets in ruil daarvoor ontvang sal word nie.