Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 9/06 bl. 4-5
  • Bly in afwagting van Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly in afwagting van Jehovah
  • Ons Koninkryksbediening—2006
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Geleentheid om geestelik gevoed te word en bly te wees
    Ons Koninkryksbediening—2008
  • Volg die Christus deur waardigheid aan die dag te lê
    Ons Koninkryksbediening—2007
  • Prys Jehovah in die groot gemeente
    Ons Koninkryksbediening—2005
  • Streekbyeenkomste—’n Tyd vir vreugdevolle aanbidding
    Ons Koninkryksbediening—2010
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—2006
km 9/06 bl. 4-5

Bly in afwagting van Jehovah

1. Wat is die tema van die streekbyeenkoms, en waarom is dit tydig?

1 “Jehovah is ’n God van oordeel”, het Jesaja geskryf. “Gelukkig is almal wat in afwagting van hom bly” (Jes. 30:18b). Daar is baie Bybelverslae oor hoe God oordeel aan sy vyande voltrek het en sy getroue knegte verlos het. Watter lesse kan aanbidders van Jehovah uit hierdie verslae leer? Wat kan ons nou doen om voor te berei vir “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”? (Joël 2:31, 32). Ons komende “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkoms sal ons beweeg om daardie vrae te oorweeg en selfondersoek te doen. Dit sal ons help om in afwagting van Jehovah te bly.

2. Hoe kan ons waardering vir ons streekbyeenkoms toon?

2 Het jy al reëlings getref sodat jy by al drie dae van die streekbyeenkoms kan baat vind? Het jy al byvoorbeeld jou werkgewer om verlof gevra sodat jy daar kan wees? Moet dit nie aan die toeval oorlaat nie. Maak dit ’n saak van gebed. Vra hom dan om verlof (Neh. 2:4, 5). Net so moet ons ook nie uitstel om reëlings te finaliseer in verband met vervoer, huisvesting en ander noodsaaklike dinge nie. Sulke goeie beplanning weerspieël ons diepe waardering vir Jehovah se geestelike tafel. Ouer manne moet oplettend wees sodat hulle dié kan help wat bystand nodig het met hulle byeenkomsreëlings, veral die oueres in die gemeente.—Gal. 6:10.

3. Watter eienskappe moet onder Jehovah se volk in die byeenkomsstad gesien kan word?

3 Goeie gedrag strek God tot eer: Wanneer ons in groot getalle by streekbyeenkomste vergader, dien ons goeie gedrag as ’n getuienis vir die gemeenskap. Wat vereis dit van ons? Wanneer ons by hotelle, restaurante en ander besigheidsplekke in en om die byeenkomsstad is, behoort dié met wie ons in aanraking kom, verfris te word deur ons Christelike eienskappe, soos lankmoedigheid, sagmoedigheid, selfbeheersing en redelikheid (Gal. 5:22, 23; Fil. 4:5). Almal van ons moet die soort liefde openbaar wat ‘hom nie onwelvoeglik gedra nie, nie sy eie belang soek nie, nie ergerlik raak nie’. Selfs as probleme ontstaan of ons ongerief moet verduur, moet ons “alles tot heerlikheid van God” doen.—1 Kor. 10:31; 13:5.

4. Hoe kan ouers hulle kinders help om hulle op so ’n manier te gedra dat dit lof aan Jehovah bring?

4 Ná een streekbyeenkoms was ’n hotelbestuurder so beïndruk deur die gedrag en voorkoms van ons jongmense dat hy sy begeerte uitgespreek het om “altyd Jehovah se Getuies as gaste in sy hotel te hê”. Wat ’n rede tot blydskap! Dit is ’n kompliment vir die opleiding en toesig wat julle as ouers voorsien. Dit sou nie wys wees as ouers toelaat dat hulle kinders sonder toesig in ’n hotelkamer bly nie. Daar moet altyd behoorlike toesig oor kinders gehou word (Spr. 29:15). Mag hulle goeie gedrag lof aan Jehovah bring en sy hart bly maak!—Spr. 27:11.

5. Hoe kan ons Jehovah tot eer strek deur ons kleredrag en persoonsversorging?

5 Beskeie kleredrag en persoonsversorging: Elkeen van ons kan bydra tot die algehele indruk wat by die streekbyeenkoms geskep word, deur style van kleredrag en persoonsversorging te vermy wat die nuutste modegiere slaafs navolg, wat tot uiterstes oorgaan, of wat onbeskeie of te informeel is. Dit geld ook wanneer ons na en van die byeenkomsstad reis, wanneer ons help om die byeenkomsterrein voor te berei en wanneer ons die sessies bywoon. As knegte van God is Jehovah se naam en reputasie vir ons van die grootste belang, nie ons persoonlike voorkeure of gerief nie. Gesinshoofde het die verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle gesin se voorkoms te alle tye beskeidenheid en gesonde verstand weerspieël.—1 Tim. 2:9.

6. Waarom moet ons voorkoms net so waardig wees in ons vrye tyd as wanneer ons die byeenkomssessies bywoon?

6 Dit is net so belangrik dat ons voorkoms ook waardig is wanneer ons in ons vrye tyd by hotelle, winkels en restaurante is. Dit is gepas om ons byeenkomsklere te dra as ons ná die sessies gaan uiteet. As ons ons byeenkomslapelkaarte dra, kan dit geleenthede skep om informeel te getuig.—2 Kor. 6:3, 4.

7. Hoe kan ons tot die ordelikheid en vreugde van die streekbyeenkoms bydra? (Sien “Streekbyeenkomsherinneringe”.)

7 Jesaja het voorspel: “Jehovah [sal] vol verwagting daarna uitsien om aan julle guns te betoon, en daarom sal hy opstaan om aan julle barmhartigheid te bewys” (Jes. 30:18a). Dankbaarheid vir Jehovah se barmhartigheid en onverdiende goedheid behoort ons te beweeg om hom te eer met ons gedrag en voorkoms wanneer ons by ons streekbyeenkomste vergader. Mag die “Verlossing is op hande!”-streekbyeenkoms ons God vereer en ons help om in afwagting van hom te bly!

[Venster op bladsy 5]

Streekbyeenkomsherinneringe

◼ Programtye: Die program sal al drie dae om 9:00 vm. begin. ’n Paar minute voordat die sessie begin, sal die voorsitter op die verhoog gaan sit terwyl inleidende Koninkryksmusiek gespeel word. Ons moet almal dan gaan sit sodat die program op ’n waardige wyse kan begin. Die program sal Vrydag om 4:25 nm., Saterdag om 4:15 nm. en Sondag om 3:20 nm. eindig.

◼ Parkering: By al die byeenkomsterreine waar ons die parkeerterreine mag gebruik, sal die parkering kosteloos op ’n “eerste kom, eerste bedien”-grondslag beskikbaar gestel word. Byeenkomslapelkaarte sal as identifikasie vir parkering dien. Aangesien parkeerplek gewoonlik beperk is, moet byeenkomsgangers motors sover moontlik vol maak en nie net een of twee in ’n motor ry nie.

◼ Die hou van sitplekke: Sitplekke mag net gehou word vir dié wat saam met jou in dieselfde voertuig ry of saam met jou in dieselfde huis woon.

◼ Middagete: Bring asseblief eerder middagete saam as om tydens die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. ’n Klein koelhouer wat onder ’n sitplek pas, kan gebruik word. Groot gesinsgrootte piekniekkoelhouers moet in ooreenstemming met die saalwagters se instruksies geberg word. Glashouers en alkohol word nie op die byeenkomsterrein toegelaat nie.

◼ Bydraes: Aansienlike onkoste word aangegaan om ’n streekbyeenkoms te reël. Ons kan ons waardering toon deur by ons Koninkryksaal of by die streekbyeenkoms vrywillige bydraes vir die wêreldwye werk te maak. As jy per tjek wil bydra, moet jy asseblief by die Byeenkomskomitee uitvind wat die naam van die rekening is.

◼ Ongelukke en noodgevalle: As ’n mediese noodgeval op die byeenkomsterrein ontstaan, moet jy asseblief met die naaste saalwagter praat, wat onmiddellik die Noodhulpafdeling in kennis sal stel sodat ons bekwame noodhulppersoneel op die terrein kan bepaal hoe ernstig die situasie is en hulp kan verleen.

◼ Opnames: Geen opneemtoestel mag aan die byeenkomsterrein se klankstelsel of elektrisiteit gekoppel word nie, en die toestelle mag net gebruik word op ’n manier wat ander nie steur nie.

◼ Foto’s: As jy foto’s neem, moet jy asseblief nie gedurende die sessies ’n flits gebruik nie.

◼ Roepradio’s en selfone: Dit moet gestel word sodat dit ander nie steur nie.

◼ “Volg asseblief op”-vorms: ’n “Volg asseblief op”-vorm (S-43) moet gebruik word om inligting te voorsien aangaande enigeen wat belangstelling toon as gevolg van ons informele getuieniswerk gedurende die streekbyeenkoms. Verkondigers moet een of twee van hierdie vorms na die streekbyeenkoms bring. Die vorms sal ook by die boekekamer van die streekbyeenkoms beskikbaar wees. Voltooide vorms kan by die boekekamer ingedien word of kan aan jou gemeentelike sekretaris gegee word nadat jy van die streekbyeenkoms teruggekeer het.—Sien Ons Koninkryksbediening vir April 2005, bl. 5.

◼ Restaurante: In baie plekke is dit gebruiklik om na gelang van die diens ’n fooitjie van 10 tot 15 persent te gee.

◼ Liedere: Gemeentes sal dalk die byeenkomsliedere voor die tyd wil oefen.

Liedere vir Vrydag: 91, 40, 59, 38, 74 en 92.

Liedere vir Saterdag: 71, 85, 204, 106, 43 en 195.

Liedere vir Sondag: 19, 207, 8, 14, 181 en 212.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel