Toon persoonlike belangstelling—Deur vrae te vra en te luister
1 Die meeste mense lug graag hulle menings, maar hou nie daarvan wanneer iemand vir hulle preek of hulle ondervra nie. Daarom moet ons as Christenbedienaars die kuns aanleer om vrae te gebruik om uit te vind wat mense dink.—Spr. 20:5.
2 Ons vrae moet nie mense afskrik nie, maar eerder ’n gewillige antwoord uitlok. Een broer vra die volgende vraag wanneer hy van huis tot huis getuig: “Dink jy dat daar ooit ’n tyd sal wees wanneer mense mekaar met waardigheid en respek sal behandel?” Afhangende van die antwoord wat hy kry, vra hy dan: “Wat dink jy is nodig om so iets moontlik te maak?” of “Waarom voel jy so?” Wanneer hy informeel of in openbare plekke getuig, vra ’n ander broer dié vraag aan mense wat kinders het: “Watter deel van ouerskap geniet jy die meeste?” Dan vra hy: “Wat bekommer jou die meeste as ’n ouer?” Let op dat hierdie vrae mense die geleentheid gee om hulle menings te lug sonder om hulle ongemaklik te laat voel. Aangesien omstandighede verskil, moet ons dalk die onderwerp en toon van ons vrae aanpas by diegene in ons gebied.
3 Vind uit wat mense dink: As mense bereid is om te sê wat hulle dink, moet jy geduldig luister sonder om hulle onnodig in die rede te val (Jak. 1:19). Bedank hulle vriendelik vir hulle kommentare (Kol. 4:6). Jy kan eenvoudig sê: “Dis interessant. Baie dankie vir jou antwoord.” Prys hulle opreg as jy kan. Verdere vrae kan vriendelik gestel word om uit te vind wat hulle dink en waarom hulle so voel. Probeer ’n gemeenskaplike grondslag vind. As jy hulle aandag op ’n teks wil vestig, kan jy sê: “Dink jy dat dit wat hier gesê word, moontlik is?” Vermy ’n dogmatiese of stryerige houding.—2 Tim. 2:24, 25.
4 Hoe ander op ons vrae reageer, kan tot ’n groot mate afhang van hoe ons luister. Mense kan sien as ons werklik luister. ’n Reisende opsiener het gesê: “Wanneer jy bereid is om geduldig na mense te luister, kan dit hulle op ’n kragtige wyse aantrek, en dit is ’n wonderlike blyk van hartlike persoonlike belangstelling.” Ons toon respek wanneer ons na ander luister, en dit kan hulle beweeg om te luister na die goeie nuus wat ons verkondig.—Rom. 12:10.