Wat ons bediening bereik
1. Hoe beskou Jehovah ons bediening, en hoe reageer mense daarop?
1 Volgens God se Woord gaan Christene seëvierend vooruit in Jehovah se diens, asof hulle in ’n triomftog is (2 Kor. 2:14-16). Wanneer ons die kennis van God bekend maak, is ons diensoffers soos aangename reukwerk vir Jehovah. Party mense word deur die soetheid van die goeie nuus aangetrek; ander verwerp dit. Maar die ongunstige reaksie van die meerderheid beteken nie dat ons werk onsuksesvol is nie. Dink aan wat ons bediening bereik.
2. Wat stel ons bediening ons in staat om te toon?
2 Dit verheerlik Jehovah: Satan voer aan dat mense Jehovah om selfsugtige redes dien (Job 1:9-11). Die Christelike bediening gee ons die geleentheid om te toon dat ons toegewydheid aan God opreg is. Baie verkondigers hou aan om die bevel te gehoorsaam om te getuig en dissipels te maak ondanks moeilike persoonlike omstandighede of die onverskilligheid van mense oor die algemeen. Hierdie lojale volharding maak Jehovah se hart bly!—Spr. 27:11.
3. Waarom is dit so belangrik dat ons aanhou om God se naam en voorneme bekend te maak?
3 Daarbenewens speel ons bediening ’n rol in die verwesenliking van God se voorneme. Jehovah sê omtrent die komende vernietiging van Satan se wêreld: “Die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is” (Eseg. 39:7). Omdat die nasies dit moet weet, is dit noodsaaklik dat God se knegte aanhou om sy naam en voorneme “aan elke nasie en stam en taal en volk” bekend te maak.—Op. 14:6, 7.
4. Hoe is die predikingswerk ’n grondslag vir oordeel?
4 Grondslag vir oordeel: Die verkondiging van die goeie nuus is ook ’n grondslag vir oordeel. Die apostel Paulus het gesê dat Christus Jesus wraak sal uitoefen op “dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” (2 Tess. 1:8, 9). Mense sal geoordeel word op grond van hulle reaksie op die goeie nuus. Watter ernstige verantwoordelikheid plaas dit tog op God se knegte! As ons bloedskuld wil vermy, moet ons ons nie daarvan weerhou om die lewensreddende Koninkryksboodskap bekend te maak nie.—Hand. 20:26, 27.
5. Hoe word God se barmhartigheid in ons bediening weerspieël?
5 Ons volgehoue pogings om ons medemens te help om God se guns te verkry, is ’n blyk van Jehovah se barmhartigheid (1 Tim. 2:3, 4). In die wete dat mense se lewe voortdurend verander, gaan ons herhaaldelik na hulle toe terug en spoor ons hulle aan om Jehovah te soek terwyl daar nog tyd is. Sodoende weerspieël ons “die tere medelye van ons God”, wat “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom”.—Luk. 1:78; 2 Pet. 3:9.
6. Hoe help dit ons om in Jehovah se diens besig te bly?
6 Voordelig vir ons: Dit is vir ons ’n beskerming om in Jehovah se diens besig te bly. Dit help ons om “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah . . . goed in gedagte” te hou en om nie deur die teenswoordige goddelose stelsel van dinge besmet te word nie (2 Pet. 3:11-14; Tit. 2:11, 12). Laat ons dus ‘standvastig, onbeweeglik wees, terwyl ons altyd baie het om in die werk van die Here te doen’, in die wete dat ons pogings in die Christelike bediening nie tevergeefs is nie.—1 Kor. 15:58.