’n Skool wat ons toerus vir wat die heel belangrikste is
1 Mense gaan skool toe om opleiding te ontvang wat hulle sal help om hulle doelwitte in die lewe te bereik. Maar watter doelwit kan belangriker wees as om die Lewegewer te loof en om ander te help om van sy voornemens en sy weë te leer? Nie een nie. Die doel van die Teokratiese Bedieningskool is om ons voor te berei om ons geloof aan ander te leer. Terwyl ons elke week die skool bywoon, verkry ons dus vaardighede wat ons toerus vir die belangrikste bedrywighede in die lewe.
2 Die “Rooster vir Teokratiese Bedieningskool vir 2003” is in verlede maand se nommer van Ons Koninkryksbediening voorsien. Die rooster bevat besonderhede oor hoe die skool gehou gaan word. Jy sal dit dalk prakties vind om die rooster in jou eksemplaar van Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool te hou, wat jy elke week moet saambring na die Teokratiese Bedieningskool. Kyk na ’n paar van die fasette van die Teokratiese Bedieningskool vir 2003.
3 Spraakhoedanigheid: Van Januarie af sal elke vergadering begin met ’n toespraak van vyf minute oor ’n spraakhoedanigheid of ’n aspek van voorlesing, studie of onderrigting. Die skoolopsiener sal hierdie inleidende besprekings behartig, of hy kan hierdie toespraak aan ’n ander bekwame ouer man toewys. Die spreker kan die definisie en belangrikheid van die spraakhoedanigheid bespreek. Hy moet dan oor die materiaal uitwei deur skriftuurlike voorbeelde te bespreek en te toon hoe die hoedanigheid gebruik kan word, en hy moet veral die aandag vestig op hoe ons ons veldbediening sodoende kan verbeter.
4 Toespraak nr. 1: Broers wat die toewysing ontvang om die instruksietoespraak te hou, word weer eens aangeraai om “die aandag op die praktiese waarde van die betrokke inligting te vestig”. Dit beteken dat hulle die gemeente moet wys hoe om die inligting te gebruik. As jy hierdie toewysing ontvang, kan jy bladsye 48-9 van die Bedieningskool-handboek raadpleeg vir wenke oor hoe om voor te berei, en jy kan die verwysings in die boek se saakregister onder “Praktiese toepassing” bestudeer.
5 Bybelleesrooster: As jy in die verlede nie by die weeklikse Bybelleesgedeelte kon bybly nie, kan jy dit gerus jou voorneme maak om vanjaar by die rooster te bly. Diegene wat dit doen, sal teen die einde van die jaar die Christelike Griekse Geskrifte voltooi. Die voordele daarvan om ’n Bybelleesprogram met die Christelike Griekse Geskrifte te begin, word op bladsy 10, paragraaf 4, van die Bedieningskool-boek bespreek.
6 Glanspunte uit die Bybelleesgedeelte: Hierdie deel is tot tien minute verleng sodat die gehoor oor die week se leesgedeelte kommentaar kan lewer. Diegene wat hierdie toewysing kry, moet by die toegewese tyd bly. Dit sal elke week aangebied word, insluitende die week van die mondelinge hersiening. Terwyl jy die toegewese hoofstukke lees, moet jy let op punte wat vir jou nuttig sal wees in gesinstudie, in jou bediening of in jou lewe. Watter eienskappe van Jehovah is in sy handelinge met mense en nasies geopenbaar? Wat het jy geleer wat jou geloof versterk en jou waardering vir Jehovah opgebou het? Lewer gerus kommentaar oor enige punt in die toegewese hoofstukke, selfs in verse wat gedurende Toespraak nr. 2 gelees gaan word, aangesien die broer wat die leesgedeelte gaan behartig, nie oor die verse kommentaar gaan lewer nie.
7 Toespraak nr. 2: Die eerste studentetoespraak elke week sal ’n oefening in openbare voorlesing wees. Al die leesgedeeltes vir elke maand, buiten die laaste een, sal uit die week se Bybelleesgedeelte geneem word. Die laaste leesgedeelte vir die maand sal uit Die Wagtoring geneem word. Die student moet die toegewese materiaal lees sonder inleidende of slotopmerkings. Op hierdie manier kan hy sy aandag hoofsaaklik op sy leesvaardighede toespits.—1 Tim. 4:13.
8 Toesprake nr. 3 en nr. 4: Van hierdie toesprake het meer bronnemateriaal uit die Redenering-boek as ander; party het net ’n tema. Diegene wat toesprake met beperkte bronnemateriaal of met net ’n tema gegee word, sal die geleentheid hê om hulle toesprake op te stel deur navorsing in ons Christelike publikasies te doen. Dit sal dit vir susters dalk makliker maak om hulle kommentare by hulle assistente aan te pas.
9 Agtergronde: Soos daar op bladsy 45 van die Bedieningskool-boek aangedui word, kan die skoolopsiener ’n agtergrond toewys. As hy dit nie doen nie, kan susters ’n agtergrond uit die lys op bladsy 82 kies. As ’n suster elke twee maande ’n toespraak hou, sal die 30 agtergronde haar vyf jaar lank genoeg verskeidenheid bied. Susters wat nr. 30 kies, naamlik “’n Ander agtergrond wat gepas is vir julle gebied”, moet die agtergrond onderaan of agterop hulle toewysingstrokie (S-89) skryf. Die skoolopsiener sal die datum van die student se toespraak op bladsy 82 van haar boek skryf langs die agtergrond wat sy gebruik het. Hy kan dit doen wanneer hy die student se raadgewingsvorm merk.
10 Raadgewingsvorm: Jou raadgewingsvorm is in jou boek. Dit verskyn op bladsy 79-81. Jy sal dus jou boek vir die skoolopsiener moet bring ná elke toespraak wat jy hou. Die skoolopsiener sal ’n rekord moet hou van die raadgewingspunte waaraan die studente werk.
11 Mondelinge hersiening: Die hersiening vir die Teokratiese Bedieningskool sal mondelings gehou word. Dit sal een keer elke twee maande gehou word en 30 minute lank duur. Vrae wat gedurende die hersiening bespreek gaan word, sal nog steeds in Ons Koninkryksbediening verskyn. As die week waarin die mondelinge hersiening op die rooster is, saamval met die week van ’n kringbyeenkoms of die kringopsiener se besoek, moet die volgende week se toesprake ’n week vroeër gehou word en die mondelinge hersiening die volgende week gedoen word.
12 Bykomende klasse: In gemeentes waar daar meer as 50 studente in die skool is, kan die ouer manne dit oorweeg om bykomende klasse te reël. “Hierdie reëling kan . . . alle studentetoewysings of net die laaste twee insluit” (Bedieningskool, bl. 285). Die laasgenoemde voorstel word gemaak om gemeentes in ag te neem waarin daar baie susters is maar net ’n paar broers om die leestoewysings te behartig. Die ouer manne moet bekwame broers kies om hierdie klasse te behartig.
13 Bykomende raadgewer: Soos daar in die rooster vir die Teokratiese Bedieningskool aangedui word, moet ’n bykomende raadgewer deur die liggaam van ouer manne gekies word om private raad aan ouer manne en bedieningsknegte te gee wat die Bybelglanspunte behartig en instruksietoesprake hou. Die broer wat hiervoor gekies word, moet ondervinding hê en iemand wees wie se raad deur die ander ouer manne gerespekteer sal word. Sy raad moet opbouend wees, en hy moet die broer prys vir goeie spraak- en onderrigtegnieke en een of twee punte aanbeveel waarop hy kan verbeter. Dit is nie nodig om raad te gee ná elke toespraak van ’n broer wat gereeld toesprake hou nie. Maar die broer met die toewysing om hierdie raad te gee, moet goeie oordeel aan die dag lê en besef dat selfs broers wat nou openbare toesprake hou, gehelp kan word om verdere vooruitgang te maak.—1 Tim. 4:15.
14 Waarna om te luister: Wat kan ’n raadgewer help om ’n aanbieding te ontleed? In die derde venster in die meeste van die 53 genommerde hoofstukke van die Bedieningskool-boek is daar ’n kort opsomming van dinge waarna geluister kan word. Die skoolopsiener moet ook let op ander herinneringe of wenke in die boek wat hom sal help om gou die samehangende ontwikkeling en doeltreffendheid van ’n aanbieding te beoordeel. Kyk byvoorbeeld na die reeks vrae boaan bladsy 55 en die idees in die laaste paragraaf op bladsy 163.
15 Vul die oop spasies in: Buiten die wye kantruimtes in die Bedieningskool-boek is daar ook ’n aantal oop spasies sodat jy aantekeninge kan maak gedurende jou persoonlike studie en wanneer jy die Teokratiese Bedieningskool bywoon. (Sien bladsye 77, 92, 165, 243, 246 en 250.) Maak seker dat jy elke week jou boek saambring. Volg daarin gedurende die inleidende toespraak. Hou jou boek gedurende die res van die skool oop. Let op die wenke wat deur die skoolopsiener gegee word. Skenk aandag aan onderrigmetodes, vrae, voorbeelde, beeldspraak, illustrasies, visuele hulpmiddele en teenstellings wat deur die sprekers gebruik word. Deur goeie aantekeninge te maak, sal jy al die uitstekende punte wat jy by die skool geleer het, kan onthou en gebruik.
16 Jesus Christus het geweet dat die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk die grootste voorreg is wat aan enigiemand gegee kan word. Dit was sy hoofopdrag (Mark. 1:38). Hy het gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Luk. 4:43). As diegene wat die uitnodiging aanvaar het om hom te volg, is ons ook druk besig met die verkondiging van die goeie nuus, en ons probeer altyd om die gehalte van ons “lofoffer” te verbeter (Heb. 13:15). Mag ons met dié doel vasbeslote wees om gereeld deel te neem aan die Teokratiese Bedieningskool, ’n skool wat ons sal help om voor te berei vir wat die heel belangrikste in die lewe is.