Hou aan om by Die Wagtoring en Ontwaak! baat te vind
Noudat die reëling vir posintekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! beëindig word, sal ons ons moet inspan om seker te maak dat ons, sowel as die mense vir wie ons getuig, elke nommer ontvang.
Persoonlike eksemplare: Wanneer jou persoonlike intekening verval, moet jy jou bestelling by die tydskriftoonbank vermeerder. Ouers moet genoeg tydskrifte bestel sodat elke gesinslid sy eie tydskrif kan hê. Deur jou naam op jou tydskrif te skryf, sal jy seker maak dat jy dit nie per ongeluk vir iemand in die veld gee nie. Wanneer die gemeente se tydskrifte kom, sal die broers wat daarmee werk, dit onmiddellik by die Koninkryksaal beskikbaar stel.
Tydskrifroetes: Verkondigers moet probeer om alle belangstellendes wat elke nommer wil ontvang, op ’n tydskrifroete te plaas. Wanneer ons die tydskrifte persoonlik by hierdie mense aflewer, sal dit geleenthede skep om hulle belangstelling verder te kweek en Bybelstudies te begin.—Sien Ons Koninkryksbediening vir Oktober 1998, bladsy 12.
Diegene met spesiale behoeftes: As iemand werklik belangstel, maar in ontoegekende gebied woon, kan ’n uitsondering gemaak word sodat hy die tydskrifte deur die pos kan ontvang. As iemand wat in die gemeente se gebied woon, nie op ’n tydskrifroete geplaas kan word nie, maar die tydskrifte graag wil ontvang, moet jy die saak met die Gemeentelike Dienskomitee bespreek. As hulle dit goedkeur, kan daar gereël word dat die belangstellende ’n intekening kry. Die gewone intekeningstrokies (M-1 en M-101) kan hiervoor gebruik word en moet ingestuur word saam met ’n brief waarin die omstandighede verduidelik word.
Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah sal voortgaan om al ons pogings te seën om die Koninkryk deur middel van Die Wagtoring en Ontwaak! te verkondig.