Vertrou op Jehovah vir krag
1 Daar is baie redes waarom ons op Jehovah moet vertrou. Dit is ’n moeilike toewysing om die goeie nuus “in die hele bewoonde aarde” te verkondig (Matt. 24:14). Ons voer voortdurend ’n stryd teen ons onvolmaakte vlees (Rom. 7:21-23). Daarbenewens “het [ons] ’n worstelstryd . . . teen die [bomenslike] wêreldheersers van hierdie duisternis” (Ef. 6:11, 12). Dit is duidelik dat ons hulp nodig het. Hoe kan ons krag van Jehovah af verkry?
2 Deur gebed: Jehovah gee sy kragtige heilige gees vryelik aan sy knegte wat dit vra (Luk. 11:13). Twyfel jy in jou vermoë om van huis tot huis, op straat of oor die telefoon te getuig? Voel jy verleë om informeel te getuig? Het die onverskilligheid van mense in die gebied jou ywer laat afneem? Sê nou daar word druk op jou geplaas om jou geloof of onkreukbaarheid prys te gee? Vertrou op Jehovah. Bid vir krag.—Fil. 4:13.
3 Deur persoonlike studie: Net soos ons krag kry deur fisiese voedsel te eet, so word ons geestelik versterk deur ons gereeld met God se Woord en die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” te voed (Matt. 4:4; 24:45). Toe Stanley Jones gevra is wat hom die krag gegee het om jare van alleenopsluiting in China sonder ’n Bybel te verduur, het hy gesê: “Ons kan vasstaan in die geloof. Ons moet natuurlik eers studeer. Ons het geen innerlike krag as ons nie studeer nie.”
4 Deur vergaderingbywoning: By ’n Christelike vergadering in die eerste eeu het Judas en Silas “die broers met baie toesprake aangemoedig en hulle versterk” (Hand. 15:32). Net so sal dít wat ons vandag by die vergaderinge hoor, ons waardering vir Jehovah vergroot, ons geloof opbou en ons ywerig vir die bediening maak. Die vergaderinge bring ons gereeld in aanraking met “medewerkers vir die koninkryk van God”, wat ons “versterkende hulp” is.—Kol. 4:11.
5 Ons het hulp nodig in hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). Aangaande diegene wat krag van Jehovah af verkry, word ons verseker: “Hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”—Jes. 40:31.