“Ons het ons gebied al baie kere deurgewerk!”
1 Het jy al ooit gevoel dat julle gebied so dikwels deurgewerk word dat daar geen skaapgeaarde mense daarin oor is nie? Dalk het jy gedink: ‘Ek weet wat die mense se reaksie gaan wees. Waarom moet ek aanhoudend teruggaan na mense wat nie belangstel nie?’ Dit is waar dat baie gebiede dikwels gedek word. Hierdie feit moet egter in ’n positiewe lig beskou word, nie in ’n negatiewe lig nie. Hoe so? Let op die vier redes wat hieronder gegee word.
2 Ons gebede is beantwoord: Jesus het gesê: “Die oes is werklik groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Luk. 10:2). Ons smeek Jehovah al dekades lank vir meer hulp. Op baie plekke het ons nou die ekstra werkers wat nodig is, en ons dek die gebied meer dikwels. Behoort die feit dat Jehovah ons gebede verhoor het ons nie met vreugde te vul nie?
3 Volharding bring goeie vrugte voort: Selfs in gebiede wat dikwels gedek word, reageer mense op die Koninkryksboodskap en kom hulle tot ’n kennis van die waarheid. Daarom moet ons keer op keer teruggaan met die hoop om nog opregtes van hart te vind (Jes. 6:8-11, NW). Soos Jesus se vroeë dissipels moet julle “voortdurend” na die mense in julle gebied gaan en hulle belangstelling in die Koninkryk van God probeer wek.—Matt. 10:6, 7.
4 In Portugal is daar baie gemeentes wat hulle gebied elke week dek, maar hulle vind steeds skaapgeaardes. Een suster het ’n baie positiewe gesindheid. Sy sê: “Elke oggend voordat ek in die veld uitgaan, vra ek Jehovah om my te help dat ek iemand kan vind wat in ’n Bybelstudie belangstel.” Eendag het sy met die werkers in ’n haarsalon reëlings getref vir ’n studie. Maar later het net een persoon vir die studie opgedaag. Daardie persoon het gesê: “Die ander stel nie belang nie, maar ek stel belang.” Binne ’n maand het sy self twee Bybelstudies gehou. Kort daarna is sy gedoop, en later het sy in die pionierdiens getree!
5 Die werk word gedoen: Die goeie nuus word verkondig, net soos Jesus voorspel het (Matt. 24:14). Selfs op plekke waar mense ‘nie na ons luister nie’, word hulle deur middel van die predikingswerk gewaarsku. Ons verwag dat sommige nie in die waarheid sal belangstel nie of selfs daarteen gekant sal wees. Tog moet hulle duidelik gewaarsku word teen die naderende oordeel van Jehovah.—Eseg. 2:4, 5; 3:7, 8, 19.
6 Ons is nog nie klaar nie: Dit is nie vir ons om te besluit wanneer die predikingswerk voltooi is nie. Jehovah weet presies wanneer dit moet eindig. Hy weet of daar mense in ons gebied is wat nog op die goeie nuus sal reageer. Vandag sê sommige mense dat hulle nie belangstel nie, maar drastiese veranderinge in hulle lewe—werkloosheid, ernstige siekte, die dood van ’n geliefde—maak hulle dalk meer ontvanklik op ’n ander tyd. Weens vooroordeel of omdat hulle eenvoudig te besig is om te luister, het baie mense nog nooit werklik ons boodskap gehoor nie. As ons herhaaldelik vriendelike besoeke by hulle aflê, sal hulle dalk aandag skenk en luister.
7 Diegene wat in onlangse jare volwassenheid bereik het en nou hulle eie gesinne het, neem die lewe ernstiger op en vra vrae wat slegs God se Woord kan beantwoord. Een jong moeder het twee Getuies in haar huis ingenooi en gesê: “As ’n dogtertjie kon ek nooit verstaan waarom my ma die Getuies weggewys en vir hulle gesê het dat sy nie belangstel nie, as hulle maar net oor die Bybel wou gesels. Ek het toe besluit dat ek eendag, as ek groot en getroud is en my eie huis het, Jehovah se Getuies sal innooi en vra om die Bybel aan my te verduidelik.” Dit is wat sy gedoen het, tot die vreugde van die Getuies wat haar besoek het.
8 Kan jy groter welslae behaal? Dit is nie altyd die mense by wie ons besoek aflê wat dit moeilik maak om gereeld in die gebied te werk nie. Soms is dit onsself. Is ons uit die staanspoor negatief? Dit kan ’n uitwerking hê op ons gesindheid en moontlik ook ons stemtoon en gesigsuitdrukking. Wees positief en vriendelik. Probeer iets nuuts. Gebruik verskillende aanbiedings en probeer dit verbeter. Dalk kan jy jou inleidingsvraag verander of ’n ander teks by die gesprek inbring. Vra ander broers en susters waarmee hulle in die gebied sukses behaal het. Doen velddiens saam met verskillende verkondigers en pioniers, en probeer vasstel wat hulle bediening doeltreffend maak.
9 Die Koninkrykspredikingswerk het Jehovah se goedkeuring en seën, en ons deelname daaraan getuig van ons liefde vir hom en ons naaste (Matt. 22:37-39). Laat ons dus ons werk voltooi en nie moeg word om keer op keer in die gebied te werk nie.